Ramaphosa distansieer hom van EFF-grondbeleid

President Cyril Ramaphosa in die parlement (22 Augustus 2018) (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het hom en die ANC vanmiddag tot die duidelikste mate tot dusver gedistansieer van die EFF se voorstelle om die staat die eienaar van alle grond in Suid-Afrika te maak.

Ramaphosa het geantwoord op ‘n vraag deur die DA-leier, Mmusi Maimane, oor hoekom die ANC dit nodig ag om die Grondwet te verander ten einde grondhervorming te versnel.

Dinge het egter warm geraak toe die EFF-leier, Julius Malema, ‘n opvolgvraag oor die kwessie stel.

Ramaphosa het Maimane eerstens geantwoord dat sy aankondiging verlede maand op televisie, dat die ANC die Grondwet wil verander om die vereistes vir onteiening sonder vergoeding te verhelder, nie ten doel gehad het om die openbare deelnameproses oor die kwessie te ondergrawe nie. “Al wat dit is, is die stel van die ANC se beleidsvoorkeur, soos wat verskeie partye, insluitend die DA, reeds hul beleidsvoorkeur gestel het. Die ANC se beleid is voorts dat enige verandering nie die ekonomie of voedselproduksie moet skaad nie, en dat dit die onregte van die verlede moet regstel.

“Dit het ten doel om meer voedselprodusente en ‘n meer produktiewe aanwending van landbougrond tot gevolg te hê. Die eiendomsregte van alle Suid-Afrikaners moet versterk word – diegene wat grond besit, diegene wat grond wil besit en diegene wat eiendom wil koop,” het Ramaphosa aangevoer.

Maimane het gesê voordat private grond onteien of aangekoop word, kan staatsgrond eerder vir behuising afgestaan word. As voorbeelde in Kaapstad het hy die uit diens gestelde lugmagbasisse Youngsfield en Wingfield genoem, asook die spoorweggrond by Culemborg neffens die middestad.

Ramaphosa het dadelik ‘n jakkalsdraai gegooi en beweer hy is onbewus van die eiendom waarna Maimane verwys, maar dat die kabinet opdrag het om die aanwending van onbenutte staatsgrond vir behuising te versnel.

Toe doen Malema aan die hand dat Ramaphosa ‘n denkfout maak deur die oordrag van titelaktes aan minderbevoorregtes te bepleit, want hy meen al wat sal gebeur is dat die rykes die armes weer sal uitkoop en weer alles sal besit omdat die armes in die versoeking sal wees om hul eiendom weer van die hand te sit. Daarom meen die EFF die staat moet alle grond besit en dit aan landsburgers toewys vir gebruik.

Hiervan wou Ramaphosa niks hoor nie en hy het Malema uitgetrap dat die EFF swart mense onderskat. “Ons mense is trots op die eiendom wat hulle besit, en sal nie sommer daarvan afstand doen nie. Ons kan nie die reg om grond te besit, weer van ons mense steel nie. Die openbare verhore wys dat ons mense grond wil besit.

“Hierdie situasie is nie vergelykbaar met ons standpunt oor minerale regte nie. Buitendien is daar heelwat groot maatskappye wat wil help met die verskaffing van grond sodat mense daarop huise kan bou,” het Ramaphosa gesê.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê daar is baie boere wat nooit vrywilliglik van hul grond afstand sal doen nie. Dit het tot ‘n groot stryery tussen hom en die EFF gelei. Ramaphosa het in antwoord op Groenewald gesê transformasie, ontwikkeling en stabiliteit is van mekaar afhanklik – die een kan nie sonder die ander twee nie.

In antwoord op ‘n vraag van die ANC-LP Nocawe Mafu het Ramaphosa gesê stedelike vestigingspatrone dra by tot die land se armoedeprobleem en moet verander word. “Die werkersklas, wat oorweldigend swart is, se lewens moet verander word sodat hulle nie meer 20 tot 30 persent van hul inkomste aan vervoer hoef te bestee nie,” aldus Ramaphosa.

Malema het in ‘n opvolgvraag aangevoer townships is konsentrasiekampe en grond vir armes moet nader aan dorpskerns beskikbaar gestel word. Ramaphosa het geantwoord dat meer grond beskikbaar gestel sal word vir woonplek. Alle grondhervorming sal volgens die staatshoof ordelik en binne die grondwetlike raamwerk geskied.

Maimane het Ramaphosa vervolgens gekonfronteer oor die land se werkloosheidskoers. Ramaphosa het gesê Suid-Afrika se werkloosheidsyfers is hoog en kommerwekkend, soos die geval ook is in ander lande ter wêreld. “Dis ‘n brandende kwessie, onder meer omdat ons te veel rou hulpbronne uitvoer. Daar is ook strukturele werkloosheid weens benadeling uit die verlede,” het Ramaphosa gesê. Hy het gevra dat maatskappye wat mense wil afdank, moet terughou dat ‘n ander plan gemaak kan word.

Maimane het aangevoer 75% van werksgeleenthede in die land word in DA-beheerde gebiede geskep. Ramaphosa het geantwoord mense stem ANC want hulle weet dis die ANC wat die land se rigting verander en 8 miljoen ekstra werksgeleenthede sedert 1994 geskep het.

Die EFF-hoofsweep, Floyd Shivambu, het Ramaphosa se aansprake afgeskiet en gesê hy is te gefokus op buitelandse beleggings. Slegs binnelandse beleggings kan werklik die ekonomie laat groei.

‘n Vraag van die ANC-LP Fish Mahlalela oor BRICS het Mkhuleko Hlengwa, IVP-LP, laat aanvoer die klem op handel met China het die president se slagspreuk van Thina Mina Thina uChina laat verander, wat deur Ramaphosa ontken is.

Die laaste vraag het aan Malema behoort, wat wou weet of Ramaphosa se swaer, die miljardêr Patrice Motsepe, bevoordeel is deur die toetrede van onafhanklike kragprodusente tot die elektrisiteitsnetwerk. Ramaphosa het dit ontken en gesê Malema moet ophou gerugte versprei. Hy moet met bewyse vorendag kom as hy insinuasies wil maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Paul ·

Ja, en daar hoor ek vanaand oor die nuus dat Ramaphosa vir die eerste keer gesê het staatsgrond sal eerste beskikbaar gemaak word!!!!

sweiz ·

Dit is hoe n populistiese leier dit doen vertel almal wat hulle graag wil hoor.

Willem ·

Dit lyk my die druk wat al meer van alle kante op hom toegepas word bring uiteindelik verligting vir die padda.

Daan Erasmus ·

Die vraag en onsinnige antwoord sessie beteken niks. Dit is net gladde wollerig antwoorde wat in elk geval niks beteken nie. Dit het nog nooit, en sal nooit ‘n eerlike antwoord oplewer nie.

Wilma ·

Ek hoop net die EFF leier gaan sy massas volgelinge in beheer kan hou as die grondoordrag kwessie aan die einde van die dag toe nou nie gaan geskied presies soos hy hulle vertel het dit gaan gebeur nie.

Fokus ·

padda val van blaar af soos uChina m@lem@eendjies verby marsjeer. Bekgevegte
oëverblindery bly gefokus tyd kos geld.

Bul ·

‘n Klein stap for Ramaphosa, maar ‘n reuse stap for die ANC…….

Chris Ws ·

Dis als net woord speletjies.Ramaphosa loop dieselfde pad as Zuma.Hy’s net gladder met die mond!

Paul ·

Ons kyk gistermiddag die fliek Shrek, later stap ons ‘n entjie in die natuurtuin wat aan die agterkant van die huis op die gras uit loop, beloer ‘n eekhoring wat aan die onderkant van ‘n boom op die stam met die kop oor die voorpote gelig sit. Nou en dan wip dit die stertjie. Kok-kok-kok-kok-kok, kók kók kók kók kók, gesels ‘n bloukuifloerie. Ooo-kook-kook-koo-koo ooo-kook-kook-koo-koo, laat ‘n rooiborsduifie van hom hoor.

“Wat ‘n teleurstelling is Cyril nie”, beduie ek vir my vrou.

Paul ·

Die ANC regering het met hul grondbeleid vir 24 jaar aangejaag, maar nou is hy grootmeneer en gee daardie antwoord oor transformasie vir Dr Groenewald. Wag, laat ek liewer ‘n draai in die natuur gaan loop en van my frustrasies ontslae raak.

Rupert Ashford ·

Ek steun Malema op daardie laaste vraag. Daar trek ‘n rokie…

Lerato ·

Die EFF is die werklike bedreiging vir die land. ‘n Kommunistiese stelsel ( die staat besit alles) het nog nêrens in die wêreld gewerk nie.

Die EFF, het in werklikheid nie n beleid nie, maar maak populistiese uitsprake om massas op sleeptou te neem.

Ramaphosa probeer om n gematigde middelgrond te kry.

Hoe meer hy sê landbou produksie sal nie geraak word nie, hoe minder glo mense hom.

Dit lyk my mense is verslaaf aan n sad storie

Colleen ·

Regtig CR??? Jy dink seker mense met meer as 1 breinsel glo jou.

jakes ·

CR onderskat die minderheidsgroeperings se IK met sy uitlatings wat elke nou en dan uitgespel word. Ek wil graag weet wat is die verskil tussen hom en JZ? Is sy uitlatings sy eie of word hy aangese om onder druk uitlatings te maak voorgeskryf deur sy ANC kollegas wat hom nie goedgesind is nie? Is dit goeie leierskap? Ek glo nie.

Pierre ·

Wat my die hartseerste maar is die feit dat ons boere en ons ou bejaardes so vermoor en gemartel word ou mense wat nie eers n vlieg sal skade doen nie , n Bejaarde wat God uit genade sy lewe wat hy al die jare hard gewerk het gespaar het om sy laaste dae te kan geniet . Werkloos heid in die Land is deur Zuma bewerk stellig wat miljoene buite landers die land laat instroom en nog steeds laat instroom dit is hoekom daar nie werk vir hulle mense is nie , ek werk nou al jare lank deur die genade van ons Vader en kan n boek skryf oor buitelanders wat vir 40 rand n dag werk want hy wil net oorlewe geen paspoorte geen werks permitte, God Slaap nie Mr Ramahosa , Zuma , en Malema . Die Laaste vraag is waar is Mr Cele hy wat die Hoof is van die Polisie hoekom beveg hy nie die Misdaad in hierdie Land nie , Ek glo hy is saam met hulle in alles wat huidig aangaan in ons land Die Here seen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.