Ramaphosa eersdaags voor Zondo-kommissie

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa sal eersdaags voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping verskyn om mondelinge getuienis te lewer. Die ANC en oudpres. Jacob Zuma is ook eersdaags op daardie rooi tapyt.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het Maandagoggend by ʼn mediakonferensie gesê omdat die kommissie drie maande lange verhoortyd weens die grendelstaat verloor het, sal die kommissie by die hooggeregshof aansoek doen dat sy mandaat met drie maande verleng word tot die einde van Junie 2021.

Volgens Zondo sal Ramaphosa veral vrae moet beantwoord oor wat hy as adjunkpresident van die ANC en adjunkpresident van die land tydens die Zuma-bewind oor staatskaping geweet en nié geweet het nie.

Die ANC sal as regerende party ook voor die kommissie moet verskyn, om dieselfde redes.

Die Zondo-kommissie het sy werk in Augustus 2018 begin, met die klem op, maar nie beperk nie tot, Eskom, Transnet, Denel, wetstoepassing, die lugvaartbedryf, en die aanstel en afdank van staatsamptenare en ministers.

Omdat die mandaat van die kommissie so wyd is, het die kommissie besluit om te fokus op die aspekte wat in bevindings van die kantoor van die Openbare Beskermer vervat is.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. (Foto: Nhlanhla Phillips/ANA)

Tot dusver was daar reeds 278 getuies voor die kommissie, en is 51 669 bladsye lange getuienis reeds afgeneem. Daarby is 159 109 bladsye lange beëdigde verklarings en bewysstukke reeds ingedien en het die kommissie reeds 323 sittingsdae gehad.

Sowat 2 300 mense is reeds by staatskaping betrek.

Die ondersoeke na staatskaping by Transnet, die SAUK, Eskom, Denel en die SAL is byna afgeloop en wat die aanstel en afdanking van ministers betref, is die gevalle Mcebisi Jonas en Vytjie Mentor volgens Zondo afgehandel.

In die week van 11 tot 15 Januarie sal getuienis oor Eskom aan die lig kom, van 18 tot 23 Januarie kom oudpres. Jacob Zuma weer aan die beurt, vanaf 26 Januarie val die klem op die Staatsekerheidsagentskap en in die eerste week van Februarie op die rol van die parlement.

Zondo het ook gereageer op klagtes oor die koste van die kommissie, wat tans meer as R700 miljoen beloop. Hy het gesê dis duur om so ʼn kommissie se werk behoorlik te doen, maar het gewys op die bedrae geld wat danksy die kommissie se werk reeds aan die land terugbetaal is, byvoorbeeld R650 miljoen deur die maatskappy McKinsey.

Wat Zuma se gedrag betref, het Zondo gesê elkeen het die reg om gehoor te word, maar dit is elkeen se plig om gehoor te gee wanneer daardie geleentheid geskep word. Enigiemand wat nie die geleentheid gebruik om sy of haar kant van die saak te stel nie, sal moet weet die kommissie maak die bevindings op grond van die beskikbare feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.