Ramaphosa: ‘Ek is nie hier om verskonings te maak’

Pres. Cyril Ramaphosa kort voor hy Woensdag voor die Zondo-kommissie begin getuig het. (Skermgreep)

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdag sy lang verwagte getuienis voor die Zondo-kommisie na staatskaping begin – in hierdie stadium as president van die ANC.

“Ek verskyn voor die kommissie nie om verskonings te maak of om die onverdedigbare te verdedig nie. Die ANC het ingestem om nie net die werk van die kommissie te steun nie, maar ook om die kommissie op elke moontlike manier te help om aan sy mandaat te voldoen,” het Ramaphosa in sy openingsrede aan die kommissie gesê.

Kaderontplooiing

Ramaphosa sê kaderontplooiing is nie uniek aan die ANC nie en word deur ander politieke partye in Suid-Afrika en ook in ander lande gebruik.

Hy sê daar word egter steeds van kandidate verwag om hul aansoeke in te dien, om aan die nodige vereistes te voldoen en onderwerp te word aan die gewone prosesse van werwing en aanstelling.

“Selfs met die vereistes is daar steeds verskeie voorvalle waar individue in posisies aangestel is waarvoor hulle dalk nie geskik was nie, of waarvoor hulle nie die nodige ondervinding of kwalifikasie gehad het nie,” het Ramaphosa erken.

Ramaphosa sê die ANC het dié probleem reeds erken en onderneem dat die “merietebeginsel” moet geld wanneer senior aanstellings gedoen word.

“Dit is die ANC se beskouing dat die gebruik van kaderontplooiing nie moet afwyk van die beginsels van billikheid, deursigtigheid en meriete in die aanstelling van individue by openbare instellings nie.”

Hy het ook voorts erken dat daar swak plekke in die praktiese inwerkingstelling daarvan is en dat daar ruimte is vir groter duidelikheid – binne politieke partye sowel as die staat.

Ramaphosa het ook verwys na die ANC se besluit dat diegene wat betrek word by korrupsie of ander ernstige misdaad, binne 30 dae opsy moet staan, of geskors word. Diegene wat skuldig bevind word, moet uit leierskapposte bedank en aan tugstappe onderwerp word.

“Dit is die moeite werd om te noem dat sommige van die vereistes, veral dié oor die sogenaamde opsystaan-maatreël, in die verlede die onderwerp van heelwat teenstand in die organisasie was. Daar is nou egter breë steun binne die organisasie vir die inwerkingstelling daarvan,” sê Ramaphosa.

Hy sê ook die posisie van die ANC oor leiers en lede wat aandadig is aan korrupsie of ander misdaad is duidelik. “Hulle optrede is ʼn regstreekse skending nie van net die wette van die land nie, maar oor van die ANC-grondwet, sy waardes en beginsels en die resolusies en besluite van die ANC se grondwetlike strukture.

“Sulke lede moet die volle wetlike gevolge van hul optrede aanvaar.

“Hulle kan nie op die ANC steun vir steun of beskerming nie; hulle kan hulle ook nie beroep op die beginsel van kollektiewe aanspreeklikheid nie. Wanneer hulle verantwoording doen, moet hulle self aanspreeklik wees vir hul optrede, omdat die ANC nie sy lede aangesê het – of dit ooit sou doen – om enige optrede van korrupsie te pleeg nie.”

Ramaphosa sê hoewel die ANC hom distansieer van diegene in sy geledere wat betrokke was by korrupsie of staatskaping, moet die organisasie – en doen hy ook – erken dat hy verduidelikings moet gee vir kwessies wat die kommissie ondersoek.

“Staatskaping het onder ons as regerende party plaasgevind.”

Hy sê die party erken dat die organisasie meer kon en moes gedoen het om magsmisbruik en die wanbesteding van hulpbronne wat tekenend van die staatskapingsera was, te voorkom.

“Ons is vasbeslote en onderneem om saam met alle Suid-Afrikaners te werk om te verseker dat die era van staatskaping tot die geskiedenis behoort en dat die vergrype wat plaasgevind het, nooit, nooit, nooit ooit weer in die land herhaal mag word nie.”

Finansiering van politieke partye

Ramaphosa het in sy openingsrede ook verwys na die finansiering van politieke partye. Hy sê nes ander partye steun die ANC op verskeie bronne van finansiering, wat insluit geld wat aan partye toegeken word, lidmaatskapgeld, heffings, geldinsamelingsinisiatiewe soos die Progressive Business Forum, asook skenkings van individue en maatskappye.

“Ten spyte van die afwesigheid van ʼn amptelike beleid oor skenkings, is daar die verwagting – gegrond op die ANC se grondwet, beginsels en waardes – dat die ANC nie wetend geld sal aanvaar wat die produk van misdadige optrede is nie, wat aangebied word in ruil vir gunste nie, of van ʼn bron kom wat betrokke is by onwettige of onetiese bedrywighede.”

Hy sê die ANC het lankal reeds erken dat daar ʼn gevaar verbonde is aan die gebrek aan regulasies oor die finansiering van politieke partye. “Die gebrek aan deursigtigheid oor skenking aan politieke partye verhoog die moontlikheid vir korrupsie en die uitoefen van onbehoorlike invloed op politieke bedrywighede en regeringsprosesse.”

Ramaphosa sê hy glo die Wet op die Finansiering van Politieke Partye gaan verreikende gevolge inhou vir die integriteit en deursigtigheid van die politieke bestel en gaan help om openbare vertroue in die politieke proses te herstel.

Ramaphosa se getuienis duur Woensdagmiddag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Piet parys

Nie daar om verskoning te vra nie en in die selfde asem sè hy dat daar sommige onbevoegde en ongeleerde aanstellings was . Ek het nuus vir jou en dit is n ontkenning van jou kant af dat julle die regering korrup en onbevoeg is en nie WAS NIE

Stofdonkie

Kaderontplooiing is eintlik niks snaaks nie, en soos Ramaphosa ook sê word dit wêreldwyd toegepas. Dit is hoekom daar soveel meer rede is dat mense moet stem teen ‘n onbevoegde party. “n skelm gaan sy skelm vriende aanstel in die magsposisies, so stem vir partye wat sulke aanstellings kan teenstaan en kan bydra tot aanstellings waar die partye wel gekwalifiseer is vir die betrokke posisies. Dis as gevolg van mense wat nie stem nie dat die anc soveel mag het soos hulle het, want mense verstaan nie ons stem stelsel nie en staar hulself blind teen die feit dat die… Lees meer »

Pieter

Kaderontplooiing word sekerlik elders ook gebruik, veral waar daar ‘n sosialistiese-kommunistiese inslag is. Egter, kaders wat droogmaak, korrup is en nie die werk kan doen nie word spoedig vervang met bekwames. Probleem is julle het geen enkele bekwame kader nie, daar moet selfs kaders uit Kuba aan aangevlieg word om hand by te sit. Dit kom neer op staatskaping wat moreel en eties onregverdigbaar is.

Dries

Blammer waaragtig apartheid van 27 jaar gelede.

Fedup

jellyfish is lying so hard he actually believe himself.