Ramaphosa erken hy word in OB-verslag genoem

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa se kantoor het Woensdag bevestig hy het ʼn kennisgewing van die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, ontvang waarin hy ingelig word dat hy betrek word by haar ondersoek na die R500 000 betaling wat Gavin Watson, uitvoerende hoof van die destydse Bosasa, aan sy presidensiële veldtog gemaak het.

Volgens die kennisgewing wat uitgereik is in ooreenstemming met artikel 7 (9) van die Wet op die Openbare Beskermer, het Ramaphosa tien dae kans om op Mkhwebane se verslag te reageer.

“Die president het aan adv. Mkhwebane teruggeskryf. Hy het ʼn verlenging van die tien dae tydperk versoek, maar het ook besluit om sy reg uit te voer om eers die klaer, mnr. Maimane, en verskeie ander getuies wat deur die loop van die ondersoek voor die OB verskyn het, te ondervra,” het Khusela Diko, woordvoerder van die presidensie, gesê.

“Dit is belangrik om te beklemtoon dat pres. Cyril Ramaphosa ten volle bereid is om sy samewerking aan die OB te gee met haar ondersoek en hy vertrou dat die saak binnekort afgehandel sal word.”

Maroela Media het vroeër berig Sunday Independent het die afgelope naweek berig Mkhwebane se voorlopige verslag oor die saak het uitgelek en dat die OB in dié verslag bevind het Ramaphosa het die Grondwet asook die Etiekwet vir die Uitvoerende Gesag oortree toe hy “onbewustelik die parlement mislei het” oor die R500 000 betaling van Watson.

Mkhwebane se ondersoek na Ramaphosa het gevolg nadat die DA en die EFF in November verlede jaar klagte by haar kantoor ingedien het. Dit het gekom nadat Ramaphosa aan die parlement gesê het die R500 000 wat deur Bosasa betaal is, is vir konsultasiewerk wat Ramaphosa se seun, Andile, vir Bosasa gedoen het.

Tien dae later het Ramaphosa egter in ʼn brief aan die speaker ʼn ommeswaai gemaak en gesê dit het onder sy aandag gekom dat hy “onopsetlik” verkeerde inligting aan die parlement gegee het. Hy het in die brief erken dat die betaling nie verband hou met Andile se kontrak met Bosasa nie, maar deur Watson betaal is om gebruik te word vir Ramaphosa se veldtog om ANC-president te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Andreas ·

So asof die hom nou verskoon dat hy nie die waarheid vir die parlement vertel het nie.

Andreas ·

Maar intussen slaan hy die hakke in as dit by misdaad teen boere kom.

Hendrik ·

Ongelooflik hoe die OB ewe skielik met al hierdie bevindings teen CR en sy vertrouelinge soos Gordhan vorendag kom. Geen bevindings teen enige iemand van die Zuma/Magashule faksie nie. Sekerlik is Ramaphosa nie van onkreukbare karakter nie, maar indien hierdie deel is van ‘n goed georkestreerde terugvegpoging deur die staatskapingsbrigade,sidder ek te dink wat kan gebeur indien hierdie bevindings gebruik word Ramaphosa uit die kussings te lig.

Andreas ·

Hierdie is nie ‘n terugvegpoging van die OB nie, Cyril het dit oor homself gebring, al die nuusmedia was laas jaar vol oor Cyril se bontspringery daaroor, toe was daar al bespiegel of dit een of ander tyd gaan terugkom en aan die hakskeen hap.

Johann E ·

Hoekom maak die DA jag op Ramaphosa? Die ANC is die meerderheidsparty en sal dus die opvolger ook verkies. Tans sal dit Mabusa wees. Verkies die DA hom bo Ramaphosa of dink hulle dat Zuma of hul maatjie Malema die pos sal kry?

Cherokee ·

Sien wat ek voorheen gesê het van breinspoeling? Kyk hoe verdedig Afrikaanssprekendes nou vir Ramaphosa. (sug) Dan kla julle oor die DA-lede in die forum? Julle gaan vorentoe kla oor mense soos Derek Hanekom in die forum!

marous ·

Het hy of het hy nie gelieg daaroor nie ? Die feit dat hy dit terug betaal het is nie ter sake nie .

John ·

Waarom ‘n skatryk sakeman nog R500 000 aanvaar, in plaas daarvan om sy eie geld te gebruik of hulp van sy ander familie te vra? Nou wil hy ook die klaer ook eers ondervra om te hoor wat hulle weet. Is daar nog geraamtes wat kan uitval of vrot pampoen op die dak?

Cherokee ·

Weet jy wat is Donald Trump se salaris? 1$ per jaar. Ramaphosa sal veg vir verhogings.

Gert van Wierdapark ·

Die openbare bestormer is besig met stormram taktiek om die aandag van al die ernstig sake wat aandag moet kry, af te trek! Wat van VBS se gemors, die miljoene/biljoene “verliese” met ondeurdagte/verdagte beleggings deur die OBK, ens ens. Daar is onder andere VREDE gemaak met die Gupta-melkkoeie en die trou-geld van die Son-stad! Ek hoop die Lotto oorleef enige kapingsgedrag?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.