Ramaphosa: Eskom bly in staatsbesit

Eskom-kragstasie in Kriel, Mpumalanga. Foto: thegreentimes.co.za

Die regering gaan nie Eskom verkoop nie. Só het pres. Cyril Ramaphosa Donderdag tydens ʼn vraag-en-antwoordsessie in die parlement gesê.

Ramaphosa het in die parlement groter duidelikheid verskaf oor die moontlike verkoop van Eskom en sy kragstasies toe hy Donderdag in die Nasionale Raad van Provinsies vrae van LP’s mondeling beantwoord het.

Die kwessie van die verkoop van staatsbates, soos aanbeveel in ʼn verslag deur die nasionale tesourie en in die ANC en bepleit deur die minister van finansies, Tito Mboweni, is besig om tot ʼn groot ideologiese twis in die ANC en die regerende alliansie te lei. Sosialiste skree blou moord en die EFF staan gereed om te baat by die ontevredenheid.

Die EFF het Ramaphosa dus tydens die mondelinge antwoordsessie daarvan beskuldig dat hy die ontwikkelingstaat versaak, terwyl ANC-lede aangedring het op duidelikheid oor wat met die verkoop van kragstasies beoog word.

Ramaphosa het gesê die staat is in ʼn finansiële verknorsing, maar sal Eskom nie verkoop nie, want dit is een van die staat se “kroonjuwele“ wat puik gefunksioneer het voor korrupsie en wanbestuur dit lamgelê het. Hy het gesê die regering sal voor die einde van die maand ʼn gedetailleerde beleidsdokument oor Eskom bekend maak.

Medupi-kragstasie Foto: Eskom

“Ons gaan ook nie nuwe kragstasies verkoop nie, maar wel die kragstasies wat baie oud is en in onbruik verval het.” Wat die verdeling van Eskom in drie dele betref, het Ramaphosa gesê die opwekking en versending van elektrisiteit sal onder beheer van die staat bly, maar die verspreiding daarvan kan deels deur private vennote gedoen word.

Hy het ook laat blyk dat die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, al meer verantwoordelikheid vir Eskom oorneem, eerder as adjunkpres. David Mabuza. Voorts sal ʼn nuwe Eskom-hoofamptenaar binnekort aangestel word.

Dennis Ryder, DA, Gauteng, het Ramaphosa trompop gekonfronteer daarmee dat hy tydens die Zuma-bewind aan die hoof van die Eskom-oorlogskamer was terwyl staatskaping plaasgevind het.

“Jy hallusineer. So nou is ek ʼn staatskaper!” het die ooglopend siedendende president geblaf. Hy het gesê dit was moeilik om die omvang van wanbestuur by Eskom te peil, en dat Eskom “te groot is om mislukking toe te laat”.

Pres. Cyril Ramaphosa tydens ‘n mediakonferensie. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Ramaphosa het die standpunt herhaal dat “ons mense” nou moet betaal vir elektrisiteit met dieselfde ywer wat hulle betaal vir selfoongebruik, maar het nogmaals nagelaat om te sê wat sal gebeur as mense nie betaal nie.

Op ʼn vraag van Jaco Londt, DA, Wes-Kaap, oor die sluiting van Mossgas einde aanstaande jaar en die gevolglike verlies van 1 500 werkgeleenthede in Mosselbaai, het Ramaphosa gesê die gas raak op en dat die aanleg nie kan bly funksioneer as ʼn nuwe gasbron nie gevind word nie. Hy het gesê die minister van minerale en energie, Gwede Mantashe, werk hard om ʼn oplossing te vind en die regering is baie bewus van die slegte uitwerking wat die sluiting op spesifiek die Suid-Kaapse ekonomie kan hê.

Op ʼn vraag van Cathy Labuschagne, DA, Wes-Kaap, het Ramaphosa gesê die regering sal toesien dat alle polisiestasies verkragtingsbehandelingstoerusting kry, maar hom nie tot ʼn datum verbind nie. Hy het hom ook opnuut teen geweld op vroue uitgespreek en gesê geen man besit ʼn vrou nie – vroue besit hulself.

Seeiso Mohaphi, ANC, Vrystaat, het gevra oor die invloed van handelsoorloë op Suid-Afrika, waarop Ramaphosa gesê het veral die Suid-Afrikaanse staal- en aluminiumbedryf trek swaar onder Amerikaanse handelstariewe maar dat 36 staal- en 161 aluminiumgebaseerde uitvoere na die VSA nou al van tariewe vrygeskeld is ná onderhandelings met die Amerikaanse regering.

Hy het gesê daar moet meer fokus op uitvoere na Afrikalande wees, en het gesê Suid-Afrika het reeds ʼn handelsooreenkoms met Brittanje gesluit in geval van ‘n Brexit sonder ʼn ooreenkoms.

Willie Aucamp, DA, Noord-Kaap, het sy kruisvaart om die Noord-Kaap as droogte-rampgebied te verklaar voortgesit en Ramaphosa het gesê die regering is besig om te kyk wat gedoen kan word binne die huidige fiskale en ekonomiese klimaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Db ·

Parrapot het seker balet gedoen toe hy jonger was want sy danspassies verstom my

Kierie ·

Dit is maklik om iemand te beskuldig dat hy hallusineer. Is die President skaamkwaad?
Watter privaatinstansie gaan belê in uitgediende, verouderde kragstasies? Teen die tyd wat Medupi en Kusili klaar gebou is gaan hulle ook klaar te oud wees om te verkoop.

Jimmy ·

Die meeste van die ou kragstasies gaan in elk geval binne die volgende 10 jaar sluit. Die nuwe stasie het ontwerp probleme en dit kos klaar miljarde om skade te herstel. Nuwe sal dit wil koop nie.

Jerry ·

Mboweni en Gordhan het toe bloot vryemark lippetaal gebruik om beleggers te paai. Wat Eskom aanbetref kan ons nou maar aanvaar dat CR se ANC die staatskaping status quo gaan handhaaf. Dit is tog waarop dit wat hy se (staat se kroonjuwele) uiteindelik op neerkom. Die denke van n sosialis verander nie, want hoe meer bankrot die ekonomie raak, hoe meer lewensvatbaar raak nasionalisering van privaat en pensioenfondse en hoe desperater raak korporatiewe Suid Afrika wie een of ander tyd sal toegee en geld gee en dan sal hulle geld ook deur die ANC beheer en aangewend word vir die ANC se botallige uitgebreide kaderstrukture se salarisse by SOE’s. Die enigste oplossing is dat die ANC staat gaan geld leen by die IMF sodat die ANC gedwing word om onder streng IMF maatreels en beheer, geen ander keuse sal he as om die ekonomie te herstel. Die rede hoekom die ANC dit nie nou doen nie is omdat die Suid Afrikaanse koei nog nie leeg gemelk is nie. Eers wanneer die koei leeg gemelk is, dan sal die ANC n lening by die IMF vat om die ekonomie te herstel vir die ANC, wie se kaderstrukture dan verryk sal wees en Suid Afrikaners verarm sal wees! Om “your heritage is our slavery” te verander is CR se ANC se hoofdoel, dit sluit toneelspeler Mboweni in wie talle misleidende verskoning aangevoer het, oor hoekom die ANC nie noual n IMF lening wil vat nie!

aj ·

CR probeer om ‘n finansiële probleem op te los met ‘n politieke oplossing!

Jy kan “politiek” tot die koeie huistoe kom maar Soweto moet hulle uitstaande elektrisiteit betaal!

… of SA gaan inplof!

Landie ·

Natuurlik sal hulle nie vir Eskom verkoop nie want watter ander staatsinstelling kan hulle so plunder en hulleself verryk waarvoor alle Suid Afrikaners se belastings betalers so ten duurste befondse en ons praat nie eers vd krag wat ons voor moet betaal nie. Dit gaan net lekker, bekommer my oor ons pensioengeld wat moontlik in die versier is. Mag daai dag asb nie aanbreek nie.

Judge Dredd ·

So hulle wil slegs die kragstasies wat baie oud en in onbruik verval, verkoop? – Wie is mal genoeg om hulle te koop ?

Judge Dredd ·

….. Op die ou einde sal ons Pensioen fondse seker gebruik word om in hierdie “bates” te bele.

Lou ·

Ek verstaan ook nie aan wie wil die regering die ou uitgediende Kragstasies verkoop nie?
Miskien die grond verkoop en die metaal wat herwin kan word as skrot verkoop maar niemand gaan ‘n ou uitgediende Kragstasie koop om weer te probeer bedryf as ‘n kragstasie nie. Die regering wil dan in elk geval nie privaat instansies toelaat om elektrisiteit op te wek nie. Klink vir my weer soos een van daai slim planne wat nooit uitgevoer sal kan word nie.

Willie ·

Hy het altyd planne maar geen direkte datum nie… Imbizo te veel, praat help niks nie…

JRd ·

Vorder eder die geld in wat uitstaande is van die betrokke munisipaleteite en verkoop die bates van die wat betrokke was by Korupsie hoekom moet ons eerlike mense betaal vir ander se foute ons betaal genoeg belasting

Peet ·

Waarom sal hulle hierdie, waarskynlik die wêreld se grootste melkkoei weggee.
Die ding produseer trogwaardige inkomste – kan vergelyk word met ‘n ATM wat in denominasie van R miljoene uitkeer as jy net weet watter knoppies om druk.

Jaco ·

Dus word ons almal verder gyselaar gehou deur duur en onbetroubare krag, want indien jul privatiseer word almal wat so useless is summier afgedank, en kompetisie in die kragmark sal jul laat vou en dan is dit strate toe vir jul kaders….julle klomp narre gaan ons land nog triljoene kos wanneer die kragnetwerk ineenstort, dan is daar nie meer geld om julle lush lewenstyl te onderhou nie!! Wat is julle probleem????? Maar nou ja…julle worry maar eers daaroor as alles vou…EISH (met n kopkrap)

Grassie ·

Toe Ramaphosa aan bewind gekom het is hy deur baie mense, insluitend van ons eie wittetjies, beskou as ‘n soort “messias” wat die land gaan regruk en instansies soos Eskom se agteruitgang gaan stuit. Eskom se verlies is egter die afgelope jaar omtrent dubbeld so groot as wat dit tydens die laaste jaar van die Zuma/Gupta bewind was. Een van die groot ekonome in ons land se mening dat die land se ekonomie onstuitbaar op pad is na ‘n afgrond blyk baie waar te wees.

CR sê dat Eskom nie verkoop gaan word nie maar dat die verspreiding van krag deels(?) deur private vennote gedoen kan word. CR is ‘n ryk man en hy het twee familielede (skoonfamile) wat ook ryk is. Een is selfs heelwat ryker as hy. Ek wonder of ons nie vorentoe so ‘n vennootskap gaan sien wat daardie takie gaan bedryf nie.

KP ·

Grassie hy is 100% reg. Dit was in koerante dat Ramaphosa, Radebe wat sy swaer is en Motsepe wat sy ander swaer is met die Arabiere onderhandel het om n vennootskap om n deel van Eskom te koop, dit sal natuurlik Transmissie wees. Dit is hoekom hulle Eskom in drie wil verdeel wat dit meer bekostigbaar sal maak om te verkoop. Dit is hoekom hulle natuurlik in transmissie belang stel, omdat opwekking en distrubisie niks werd is sonder transmissie nie.

JJ ·

Dit is reg alwyn en dan word hy die heeltyd gevoer, en ons betaal.

SjN ·

Hul kan nie verkoop nie, China gaan dit net vat vir lenings verskaf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.