Ramaphosa gaan moet bontstaan met parlementêre vrae

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: PresidencyZA/Twitter

Vandag van 14:00 gaan parlementslede in die Nasionale Vergadering probeer om pres. Cyril Ramaphosa vas te vra oor ʼn verskeidenheid kwessies wat tans in die openbare domein is.

Die eerste vraag van die dag behoort aan die ANC-LP Joanne Fubbs, wat ook voorsitter is van die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid. Fubbs wil by Ramaphosa weet wat Suid-Afrika se boodskap was aan die Wêreld Ekonomiese Beraad in Davos, Switserland, en hoe dit ontvang is.

Die vraag sal na verwagting die geleentheid vir opposisieleiers skep om in opvolgvrae Ramaphosa te peper oor sy stelling in Davos dat die Zuma-bewind nege vermorste jare was, sy rol as meeloper van daardie bewind en sy teenstrydige uitsprake oor Zuma sedertdien.

Die tweede vraag van die dag sal gevra word deur die DA-leier, Mmusi Maimane. Hy wil weet of die gebeure by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping daartoe sal lei dat ʼn forensiese oudit op alle groot staatskontrakte gedoen sal word. Dit skep die geleentheid om Ramaphosa te laat rondspring oor korrupsie; ʼn groot verkiesingskwessie.

ʼn Verdere groot verkiesingskwessie sal in die derde vraag van die dag aangeroer word deur die EFF-leier, Julius Malema, wie se vraag handel oor die kragvoorsiener se geldsituasie en wat die gebruik van onafhanklike kragvoorsieners daarop gaan wees.

Eskom is ook die onderwerp van die dag se vierde vraag, komende van die senior ANC-LP en KwaZulu-Natalse vakbondman Fikile Majola, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor energie. Hy vra duidelikheid van Ramaphosa oor of die plan om Eskom in drie te verdeel neerkom op privatisering.

Die voorlaaste vraag van die dag behoort aan die IVP-LP hoofman Elphas Buthelezi, en handel oor die IVP se gunsteling-verkiesingskwessie, naamlik wat die regering te doen staan om die posisie van tradisionele leiers te versterk.

Laastens sal die NVP-LP Sheikh Emam aan die beurt kom met ʼn vraag oor die vordering met die besluit om die Suid-Afrikaanse ambassade in Jerusalem tot ʼn belangekantoor af te gradeer. Dit beteken die hele verdelende kwessie oor Israel en Palestina sal die laaste vraesessie aan Ramaphosa voor die verkiesing op 8 Mei afsluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SlimJan ·

VF+ wil graag ons stemme hê – wat gaan hulle daarmee doen. ‘n Spreekbeurt in die parlement kry?

Afrikaner ·

Jan-Jan, ek is bly jy sê hulle gaan probeer om hom vas te vra. Dit sê als en toe is dit onnodig om verder te lees, ongeag van wat die vrae gaan wees, aangesien dit net een groot frustrasie sal wees, veral ook om laatmiddag of more se antwoorde te lees. Die selle man, die selle antwoorde, ongeag of dit ander vrae is.

Afrikaner ·

Ek sien Herman Toerien se rubriek is sopas op Maroela geplaas, dis baie belangriker as Cyril se gebrabbel, so ek breek nou hier weg.

Arak ·

Wat ek altyd wonder, is hoekom hy die vrae voor die tyd moet hê. Hy weet mos wat hy gesê en gedoen het. Nou het hy en sy spul raadgewers (hanteerders?) rustig tyd om te sit en dink wat is die sagste manier om mense om die bos te lei. Laat hom eerder antwoord sonder vooraf gegewe vrae, dan kan Jan publiek self sien hoe oneerlik die man is.
Ek sou dit verder so maak dat gewone mense ook vrae moet kan instuur via Twitter. My vragie aan die president sou wees: “Geagte meneer die president, as jy soveel vertroue in Suid-Afrika het, hoekom is bykans al jou bates in die VAE? Is dit nie maar net ‘n verdere bewys dat jy en jou regering van voorneme is om die land te vernietig terwyl jy rustig jou Pina Coladas drink in Abu-Dabhi wanneer dinge totaal skeef loop nie?”
Nee wat, hierdie is maar net oëverblindery en is ‘n verdere mors van geld vir ons gewone belastingbetalers.

Leon ·

Hoe belaglik is dit?
Die antwoorde is al lankal bespreek en deur getrap. So nou gaan hy net daar staan en babbel!
Hoekom word sekere lede nie direk met ‘n vraag of twee bestook nie? So gaan die waarheid uitkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.