Ramaphosa gekap oor getalm met Digital Vibes-verslag

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: GCIS)

Die bekendmaking van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se verslag rakende die Digital Vibes-skandaal word wyd verwelkom. Daar bestaan egter talle vrae oor die rede waarom pres. Cyril Ramaphosa maande getalm het om die verslag bekend te maak.

Die president het reeds vroeg Julie die verslag van die SOE ontvang.

Die DA wil ook nou weet waarom Ramaphosa voormalige minister Zweli Mkhize toegelaat het om te bedank eerder as hom in die pad te steek terwyl hy in daardie stadium reeds geweet het dat daar in die verslag aanbeveel word dat Mkhize strafregtelik vervolg moet word.

Die verslag onthul onder meer dat verkwistende uitgawes ter waarde van miljoene rande deur die departement van gesondheid aangegaan is om Digital Vibes onregmatig aan te stel, en beveel aan dat sekere hooggeplaastes in die departement strafregtelik aangekla word.

Die DA versoek nou dat Mkhize sowel as die direkteur-generaal van die departement, dr. Sandile Buthelezi, die finansiële hoof van die departement, Ian van der Merwe, en die destydse waarnemende direkteur-generaal (DG) van die departement, dr. Anban Pillay, se koppe rol.

“Die verslag bevestig wat ons nog altyd geweet het: dat almal wat by hierdie korrupsieskandaal betrokke was, strafregtelik ondersoek en vervolg moet word,” sê Siviwe Gwarube, die DA se skaduminister van gesondheid.

Gwarube sê Ramaphosa behoort óók ten volle verantwoordelikheid te neem vir die skandaal.

Gwarube wys daarop dat die Ramaphosa Mkhize openlik vir sy diens bedank het toe hy weens die skandaal besluit het om as gesondheidsminister uit te tree. Dít ondanks die feit dat die president toe reeds die verslag in sy besit gehad het en bewus was van die verdoemende inhoud daarvan.

Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by die burgerregteorganisasie AfriForum, sê dit is jammer dat die verslag nou eers bekend gemaak is en dat die organisasie eers ’n aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Inligting (Paia) moes bring voordat die publiek dit onder oë kon kry.

“Die staat het doelbewus voete gesleep voordat die verslag vandag uiteindelik deur die presidensie aan ons gestuur is. Dit is onaanvaarbaar dat hierdie soort aansoeke eers geloods moet word voordat die publiek toegang kan kry tot inligting waarop hulle eintlik geregtig is.”

Die VF Plus wil intussen weet waarom die verslag meer as twee maande lank op die president se tafel gelê het voordat dit eindelik bekend gemaak is.

Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder oor gesondheid, sê die party het die afgelope paar maande by herhaling in die Nasionale Vergadering en die portefeuljekomitee vir gesondheid pogings aangewend en druk op die president geplaas om die verslag bekend te maak.

Maroela Media het vroeër vandag berig onreëlmatige uitgawes ten bedrae van ongeveer R150 miljoen en vrugtelose en verkwistende uitgawes van tussen R72 miljoen en R80 miljoen is deur die gesondheidsdepartement aangegaan ten opsigte van NGV- en Covid-19-mediaveldtogte.

Die bewyse wat verkry is, dui daarop dat Pillay strafregtelik vervolg moet word vir finansiële wangedrag. Hy was waarnemende DG toe Digital Vibes aangestel is en verskeie betalings aan die maatskappy gemaak is.

Van Staden sê nou dit was van die begin duidelik dat meer mense by die Digital Vibes-bedrogspul betrokke was as wat daar aanvanklik vermoed is.

Die VF Plus hou vol daar moet opgetree word teen die persone wat in die verslag genoem word. “Die optrede moet daadwerklik en strafregtelik wees. Mense moet tronk toe gaan. Insluitend die vorige minister van gesondheid, Zweli Mkhize.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Persheks Adri ·

Vervolg die hele spul, laat hulle die geld terug betaal en sluit toe! Kom Cyril wys ons nou of jy so vreeslik ernstig is oor korrupsie en of jy ‘n ruggraat het!

SlinkseKoljander ·

Hy is deel van die korrupsie, hy gaan niks doen nie.
Soos altyd….

Persheks Adri ·

Stem dis hoekom ek nie asem op hou nie Andre maak naar verby

annie ·

Miskien word hy ook in Cyril in sy volgende wha-wha bedank vir sy vrome hardwerkendheid tydens sy ministerskap en wens hom dalk ook ‘n voorspoedige en sorgvrye toekoms toe… Zuma is ‘n spoedige herstel toegewens so asof hy ‘n ereplek in ons harte verdien. Die prez begin ook dalk dink hy is onaantasbaar en het die nasie aan sy voete. Hy moet oppas, net klip standbeelde dink so.

Juffrou ·

Met alles sleep hul voete. Elke moontlike gesag word ondermyn. Dis ń beskermingstaktiek. Sleep voete letterlik en figuurlik ja. Hou hul dop as jy êrens staan en wag vir diens. Ons, die kiesers, is magteloos.

Eugene ·

My vraag is net as jy weet iemand het ‘n strafregtelike oortreding begaan en jy versteek dit, is dit n kriminele oortreding? Indien wel dan moet Ramaphosa ook tronk toe gaan

koos10 ·

Hy versuim vir ‘n paar redes,
1. Hoop dat die vrae gaan verdwyn.
2. Genoeg tyd het om die verslag polities korrek te kry.
3. Tyd het om getuies te intimideer.
4. Tyd bewerk stellig sodat ‘n plan gemaak kan word om almal te beskerm
5. Seker te maak dat sy kriminele stelsel gerat is om die saak toe te smeer.
6. MAAR die heel belangrikste is dat hy nie weet hoe om sy amp met waardigheid te beklee nie.

Dup ·

Die kaders sal nie sommer tronktoe gaan nie.Hulle beskerm mekaar tot die dood intree.Baie van hierdie vuil gelde is sekerlik “gewas” en dan skoon na die A en C aangestuur.

Dries ·

Kan geen gesag uitoefen nie. Onbevoegd om n land te regeer.

SlinkseKoljander ·

Want hy moes eers sy naam skoon maak en toe die van sy maatjies.
Hy behoort president van `n riool plaas te wees, nie ons land nie.

Johann ·

Onse prez het VOOR die verslag al geweet. Soos hy waarskeinlik van AL.sy KADERS se vergrype weet…en mooi moet speel oor wat hy wanneer van wie wat laat uitkom want ek laat my nie vertel onse prez is so onskuldig as wat hy voorgee nie. En met sy ANC se beursies leeg….ja wel….vat hier n mil. en daar n mil en siedaar.

Pietertjie ·

Dis net mense wat iets wil wegsteek, wat optree soos wat oom sirrel optree.

My siening ·

ANC MAAK SOOS HULLE WIL MAAR DIE KASTIGE BENADEELDE MENSE BLY STEM VIR KORIPTES!

Piet ·

Sal nie verbaas wees as cyril n vinger in die pie het nie!!!!!

Jubba ·

Squirrel weet nie alle belastingbetalers is so dof soos sy stem basis nie maar hulle gee nie om nie want hulle stem basis nommer is baie groter as die belastingbetalers nommer en so sal ons aangaan tot in lengte van dae.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.