Ramaphosa gepols oor SA se siening van oorlog

Pres. Cyril Ramaphosa antwoord parlementslede se vrae. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Hoewel pres. Cyril Ramaphosa dit nie in soveel woorde gestel het nie, het hy Donderdag daarop gesinspeel dat Suid-Afrika sy eie keel sal afsny, sou hy die voortslepende konflik in Oekraïne veroordeel.

Ramaphosa is tydens ’n vraag-en-antwoordsessie in die parlement uitdruklik gevra of Suid-Afrika glo dat Rusland se inval van Oekraïne geregverdig is.

Ramaphosa het gesê Suid-Afrika se standpunt is duidelik en die land is aan die kant van vrede. “Wat daar aan die gebeur is, is ongewens. Dit is nié wat tussen nasies moet gebeur nie. Oorlog en geweld los nooit probleme op nie.”

Die president hou vol dialoog, bemiddeling en onderhandeling is die enigste wapen wat gebruik moet word om konflik tussen lande op te los. Hy het wel toegegee dat Suid-Afrika tans nie ’n groot rol te speel het in die bemiddelingsproses tussen die twee strydende lande nie, aangesien hy ’n klein ekonomiese land is. Hy glo wel dat Suid-Afrika sy kans as rolspeler gaan verbeur, sou hy die oorlog veroordeel.

Ramaphosa is verskeie kere gepols oor Suid-Afrika se standpunt rakende die oorlog en het later in antwoord op ’n ander vraag toegegee dat die Suid-Afrikaanse regering António Guterres, sekretaris-generaal van die VN, se oproep vir ’n skietstilstand ondersteun.

“Ons ondersteun nie oorlog nie. Ons wil graag hê dat die oorlog eindig.”

Volgens Ramaphosa het die Russiese president, Wladimir Poetin, verlede week in hul telefoniese oproep aan hom in soveel woorde gesê dat gesprekke tussen Rusland en Oekraïne voortduur en vordering toon.

Ramaphosa het voorts gesê hy sal baie graag ook met Wolodimir Zelenski, die president van Oekraïne, wil gesels.

Hy glo ook die VN se Veiligheidsraad behoort te hervorm sodat meer lande, waaronder die Afrikalande, ’n stem het.

“Afrika het nog nooit ’n permanente setel [in die Veiligheidsraad] gehad nie. Ons het ’n belangrike rol te speel en ons kan ’n goeie bydrae lewer. Sou dit kon gebeur, glo ek ons sou in ’n beter posisie gewees het om te verseker dat konflik verhoed word.”

Ramaphosa glo ook dat die oorlog verhoed kon word, sou Navo ag geslaan het op die waarskuwings oor sy oostelike uitbreiding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Ja… ja… ja…. Bla… bla… bla…

Strandloper

Tiepies van n kommunis

Hendrik

NAVO het nie ooswaarts “uitgebrei” nie, daardie lande het versoek om deel van NAVO te word. En as mens na Rusland se agressie teenoor Oekraïne kyk, was hulle bekommernis geregverdig. Ironies genoeg bewys Poetin hoekom lidmaatskap van NAVO vir Rusland se bure so belangrik is.

Marthinus

Een van my gunsteling flieks is Die Groen Faktor, met die altyd bekwame Cobus Rossouw. Tydens n plaaslike verkiesing stry hy en sy prog teenstander, waarop hy se, “Party is gemaak om die volk te lei, ander is gemaak om die land te lei”. Bedoelende daar is twee tipes leiers: gewone presidente en staatsmanne (en -vroue). Cyril wys dat hy daardie begrip verstaan, en dat hy kan “saamspeel”. Op die internasionale verhoog moet jy jou opsies oop hou; jy kan jouself nie in n hoek inverf nie.

Dries

Ja bly stil en moenie standpunt inneem nie. Net soos plaasmoorde