Ramaphosa gooi wal oor stappe teen Gordhan

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa se woordvoerder het Maandag volgehou die president hét voldoen aan die openbare beskermer se aanbevelings rakende ʼn ondersoek na Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), het op 24 Mei ʼn verslag bekendgestel oor haar ondersoek na beweerde wanadministrasie en onbehoorlikhede in die goedkeuring van vroeë aftrede – met volle pensioenvoordele – aan die voormalige baas van die Inkomstediens, Ivan Pillay, in 2010.

Pillay is op kontrakbasis terug werk toe nadat vroeë aftrede aan hom toegestaan is.

Die besluit om Pillay se vroeë aftrede goed te keur, is deur Gordhan geneem. Mkhwebane het in haar verslag negatiewe bevindings teen Gordhan gemaak. Gordhan is besig om die verslag op hersiening te neem.

As deel van haar regstellende aanbevelings, het Mkhwebane gesê Ramaphosa moet dissiplinêre stappe teen Gordhan doen omdat hy nie die beginsels van behoorlike staatsadministrasie, soos in die Grondwet vervat, gehandhaaf het nie.

Khuselo Diko, Ramaphosa se woordvoerder, het Maandag gesê die president het op 19 Junie ʼn geskrewe reaksie aan Mkhwebane gestuur waar hy sy “nakoming van die aanbevelings” uiteensit.

“Die OB het die president opdrag gegee op ag te slaan op die bevindinge in die verslag wat betrekking het op minister Gordhan en om gepaste dissiplinêre stappe teen die minister te doen. Daar is geen sperdatum gegee vir wanneer sulke ‘gepaste dissiplinêre stappe’ gedoen moet word nie. Die OB het ook die president kans gegee om binne 30 dae ʼn implementeringsplan in te dien wat aandui hoe die president die aanbevole regstellende stappe gaan implementeer,” het Diko gesê.

Sy het gesê Ramaphosa se reaksie op 19 Junie aan die OB, was in ooreenstemming met die opdrag dat die president binne 30 dae die implementeringsplan moet indien.

Pravin Gordhan. Foto: ANA

“In die implementeringsplan het pres. Ramaphosa die OB verseker dat hy, soos hy moes, kennis geneem het van die bevindinge teen minister Gordhan,” sê Diko.

Sy het gesê Ramaphosa het Mkhwebane daarop gewys dat Gordhan op 28 Mei ʼn aansoek by die hooggeregshof ingedien het om te versoek dat die verslag hersien word en die bevindings en aanbevelings in die verslag ter syde gestel moet word.

“Pres. Ramaphosa het gesê nadat hy die OB se bevindinge teen minister Gordhan in ag geneem het, asook die feit dat die minister die bevindinge betwis, sal dit onvanpas wees om in dié stadium dissiplinêre stappe teen minister Gordhan te doen. Die president het verduidelik daar is ʼn dispuut voor die hooggeregshof oor die wettigheid van die bevindinge waarop die regstellende stappe gebaseer is. Die dispuut betwis ook verder die president se wettige magte om sulke dissiplinêre stappe te doen,” het Diko gesê.

“Die president het aan die OB gesê dat die proses van gepaste dissiplinêre stappe teen minister Gordhan die beste hanteer sal word deur te wag vir die wetlike prosesse van hierdie hersieningsprosedures om eers afgehandel te word.”

Sy sê Ramaphosa het dus besluit om sy besluit oor dissiplinêre stappe teen Gordhan uit te stel hangende die uitkoms van die hersieningsaansoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Diefie ·

Wanneer vee hierdie mense voor hul eie deur? Dink OB regtig as hulle iemand anders beskuldig en te kere gaan daaroor, gaan ons van OB en die res se eie sondes vergeet? Onse mense kan dink.

Bmw ·

Is haar bevlndings nie al hoeveel keer duer ‘n hof tersyde gestel nie?

Martin ·

CR het te veel geraamtes in die kas om sy maatjies vir die wolwe te gooi.

wraggies ·

Gordhan is al vrygespreek in ander forums so sy aansoek in die hof sal sekerlik slaag. Weeg hierdie pensioen storie op teen die sogenaamde bevinding oor die Gupta Zwane Ace Estina suiwelplaas saak, ten spyte daarvan maak hierdie ou afgesaagde saak groot opslae by die OB. Wat sy haarself mee besig hou is politieke speletjies.

Nel ·

“behoorlike staatsadministrasie” huh, wat vir ‘n ding is dit?

Hennie ·

Nes ‘n spul wille hiënas wat mekaar se ore wil byt terwyl daar ‘n vars karkas in die trog lê!

Neels ·

Dit wil voorkom asof die OB haar mes in het vir die Pres en sy ondersteuners. Sy noem sy gaan eers in 23 haar baaidtjie ophang en haar skoenne uitskop. My mening is dat sy dit dalknpg voor kersfes as n vroe kersgeekenk gaan doen

Landie ·

Die heksejag na Min Gordhan is al so lank aan die gang, dit kom verdag. Vlngs my is die OB besig met haar eie agenda. Duidelik onbevoeg vir haar posisie. Thuli Madonsela moes maar daar gebly het want sy het haar werk gedoen, maar o wee toe is daar skielik nie meer geld beskikbaar in die “budget” nie. Want Zuma was mos in die versier, en steeds geniet hy ‘n luukse lewe op belastingbetaler se rekening. En so bly ons betaal vir die soustrein.

Hb ·

Almal is eintlik maar ewe korrup so hulle moet maar doen wat hulle wil. Ons kan niks daaraan doen nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.