Ramaphosa help skoonmaak in Soweto

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër die week met opruimingswerk in KwaZulu-Natal gehelp en het Sondag dieselfde in Gauteng gedoen. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Pres. Cyril Ramaphosa was Sondagoggend in Soweto waar hy met opruimingswerk ná die afgelope week se verwoestende plundertogte gehelp het.

Verskeie ander hooggeplaaste in die regering en die regerende party het ook die afgelope naweek hand bygesit om die strate skoon te maak en geplunderde ondernemings weer op hul voete te help kom.

Duisende ander Suid-Afrikaners het dit die afgelope week reeds vrywillig begin doen. Groot opruimingprojekte is van stapel gestuur, kos is ingesamel en gemeenskappe het hande gevat om beheer oor hul buurte terug te neem.

Ramaphosa is onder toenemende druk om die vermeende baasbreine agter die afgelope week se geweld te laat aankeer. Hy het reeds telkemale gesê die polisie en intelligensiemagte weet wie die belhamels is. Tot dusver is net een inhegtenisneming egter nog gedoen.

In verskeie gebiede het toegang tot kos skielik ʼn probleem geword, veral in die gebiede wat deur plundering, geweld en brandstigting geteister is. Talle winkels is verwoes en verskeie ander hou steeds hul deure gesluit.

Ramaphosa sal na verwagting verskeie winkelsentrums in Soweto besoek nadat die geweld in KwaZulu-Natal ook daarheen oorgespoel het. Die president was vroeër die week in dié provinsie.

Mandela-dag word ook vandag (Sondag) gevier. Die dag word tradisioneel op 18 Julie, oudpres. Nelson Mandela se geboortedag, gevier en mense word gevra om 67 minute van hul tyd in diens van ander aan te bied.

Ramaphosa het Sondag gesê Suid-Afrikaners het gewys dat goed bo kwaad kan seëvier en dat hierdie ʼn land van “liefde en ruimhartigheid” is. Hy het ook diegene bedank wat tydens die oproer op hul poste gebly het.

“Ja, jy is reg. Ons is geïnfiltreer. Daar was mense wat ingekom het; ʼn onsigbare vyand waarteen ons stry en waarteen ons moet aanhou stry en verslaan. En ons gaan hulle verslaan,” sê Ramaphosa.

Die Menseregtekommissie (MRK) het Sondag op sy beurt gevra dat die oppergesag van die wet gehoorsaam word en het Suid-Afrikaners gevra om hulle opnuut daartoe te verbind.

“Dit gaan van alle Suid-Afrikaners afhang om leierskap te wys en Madiba na te volg deur ʼn kultuur van geweld en anargie te stuit en te begin met die genesing van ons gesamentlike pyn,” sê die MRK.

“Die geweld, lewensverlies en verlies aan inkomste wat ons vandeesweek gade geslaan het, het die foutlyne van armoede en ontbering aan die een kant blootgelê, en die blatante gierigheid en karakterloosheid aan die ander kant.”

Amnestie Internasionaal in Suid-Afrika het ook gesê die afgelope week se geweld moet ʼn herinnering vir die regering wees dat hy alles moontlik moet doen om die oppergesag van die reg te beskerm.

“Menseregte is die hoeksteen van Suid-Afrika se Grondwet. Die regering moet dié regte respekteer, beskerm, bevorder en nakom. Die owerhede moet die nalatenskap van oudpres. Nelson Mandela vereer deur te verseker dít waarvoor hy baklei en gestaan het, gaan nie in vlamme op nie,” sê Shenilla Mohamed, uitvoerende direkteur van die organisasie in Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

34 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Net om stemme te werf.

Deon

Ek hoop hy noem die geldwaarde wat die spul ons kos

Persheks Adri

Besem pas pragtig by jou Cyril!!!

Anel

Pleks gee hy eerder van sy miljoene om die land te help opbou. Om met ‘n besem rond te staan beteken niks. En raak van die spul wagte om jou ontslae. En wat het hy nou al sinvol gesê tov al die gemors. Niemand word regtig veroordeel nie. Hy vra maar net dat dit weer moet gebeur nie. Geen opdrag dat as dit weer gebeur die spul op die plek geskiet sal word nie. Pateet.

koos10

Cyril, vat daai besem en vee jou ANC en regering skoon.