Ramaphosa het nié parlement mislei – Konstitusionele Hof

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Die Openbare Beskemer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, het weer ʼn bloutjie in die hof geloop toe die Konstitusionele Hof Donderdag bevind het dat pres. Cyril Ramaphosa nie persoonlik by die CR17-veldtog – om hom tot president te laat verkies – gebaat het nie.

Die hof het boonop bevind dat die OB geen magte gehad het om die kwessie te ondersoek nie en dat Ramaphosa ook nie die parlement doelbewus mislei het nie.

“Die Openbare Beskermer was verkeerd oor die feite en die wet,” het regter Chris Jafta die meerderheidsbesluit van die hof voorgelees.

Die Konstitusionele Hof moes onder meer besluit of die president die parlement mislei het oor die skenkings wat aan die veldtog gemaak is nadat die OB bevind het Ramaphosa het dit wél gedoen.

Die saak spruit uit ʼn parlementêre vraag deur die destydse DA-leier Mmusi Maimane omtrent betaling van R500 000 in ʼn rekening wat glo aan die president se seun, Andile, behoort. Die betaling is glo gedoen deur Gavin Watson, destyds uitvoerende hoof van Africa Global Operations (AGO), voorheen Bosasa.

Ramaphosa het aanvanklik gesê sy seun doen sake met AGO en dat die betaling daarmee verband hou, maar het sowat ʼn week later ʼn regstelling aan die speaker gemaak en verduidelik dat sy antwoord verkeerd was en dat die geld aan die CR17-veldtog geskenk is.

Dit het gelei tot twee klagte by die OB: Een oor die verhouding tussen die president en AGO en ʼn tweede oor ʼn beweerde oortreding van die etiekkode vir die uitvoerende gesag.

Die OB het uiteindelik bevind Ramaphosa het die parlement doelbewus mislei en het die etiekkode oortree. Ramaphosa het hom tot die hooggeregshof gewend om die verslag te laat hersien.

ʼn Volbank regters van die hooggeregshof het bevind dat Mkhwebane se verslag verskeie regsfoute bevat het. Die hof het die verslag én die remediërende stappe wat Mkhwebane aanbeveel het, tersyde gestel. Dié stappe het ingesluit ʼn opdrag aan die speaker van die parlement en die nasionale openbare direkteur van openbare vervolging om ʼn ondersoek na die finansiering te gelas.

Die OB, die EFF en die Amabhungane-sentrum vir ondersoekende joernalistiek het daarna die Konstitusionele Hof genader om teen die beslissing te appelleer.

Die meerderheidsuitspraak van die regters het Woensdag gelui dat die OB die etiekkode verkeerd verstaan en boonop ʼn woord daarin in haar verslag verander het.

Hulle het ook bevind die OB se eie verslag kon nie die bewerings staaf dat Ramaphosa self by die geld gebaat het nie en dat sy ook nie ingevolge enige wetgewing die mag gehad het om die CR17-veldtog te ondersoek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Nie Verbaas ·

“Ramaphosa het nié parlement mislei – Konstitusionele Hof” Natuurlik nie! Hy praat dan altyd die waarheid! Alle ander ANC kaders ook.

Anoniem ·

Nou wie moet dit dan ondersoek, is CR dus onaantasbaar? Die uitspraak was te wagte, veral met al die skandes wat tans vanuit die ANC uitdop.

Elinette ·

Hy het nie die Parlement DOELBEWUS mislei nie ………… dit beteken nie dat hy nie die Parlement geheel en al nie mislei het nie. Laat ons nie vergeet wie ADJUNK-PRESIDENT was terwyl Zuma en kie. die staatskas LEEG GESTEEL het nie. Ek begin dink dat ons dalk beter af sou wees as Kgalema Motlanthe JZ opgevolg het …

Michael ·

Net uit die berig hierbo is dit duidelik dat hy gelieg het en die parlement mislei het. Hoe is dit dat intelligente regters dit nie insien nie. O ja dis hul mafiabaas wie se saak hul hanteer het. Dat iemand nog kan glo dat die howe-ook die konstitusionele hof-onafhanklik van die ANC is, gaan my verstand te bowe

JohanR ·

ALL politicians lie! Hang net af of hulle in hulle eerste jaar lieg, in hulle derde jaar of in hulle vierde jaar…..ALL politicians lie!

gatgogga ·

Hulle het maar net na genoeg tegniese punte gesoek om in CR se guns te kan reel.

Die Boerepompie ·

Daar is so baie lig deer al die anc hulle weet nie meet wat is die waar huit nie

annie ·

As iemand R500 000 aan my skenk sal mens seker darem dankie sè. Of was dit ‘n druppel aan die emmer? Daar was dalk ‘n bietjie te baie tegniese puntjies waarom die saak by die agterdeur uitgegooi is, of nie? Nog ‘n president met ‘n so soet seun?

Danie ·

En steeds word die onbevoegde in n openbare pos aangehou en ten duurste vergoed.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.