Ramaphosa hou ‘utopie’ voor, meen organisasies

Pres. Cyril Ramaphosa. Jairus Mmutle/GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede Donderdagaand het nie almal oortuig nie. Só blyk dit uit die reaksie van organisasies soos AfriForum, Solidariteit en Sakeliga wat hulle bedenkinge oor die president se plan vir die land het.

“Die president se plan kort ʼn plan,” het Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, in ʼn verklaring gesê.

Volgens Le Roux is dit nie genoeg om bloot mooi doelwitte wat al van te vore gehoor is te herhaal of die gehoor heuning om die mond te smeer met inspirerende aanhalings nie. “Ons verwelkom dat die president by tye inklusiewe geluide in sy toespraak gemaak het. Op die keper beskou ontbreek daar egter steeds een ding aan die president se plan – die plan self.”

Solidariteit glo dat die president die illusie van ʼn Afrika-utopie tydens sy toespraak voorgehou het. “Die president het geen daadwerklike planne daargestel om sukkelende entiteite soos die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK), die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en Denel reg te ruk nie. Inteendeel, hy het nie eens een keer na hierdie staatsentiteite verwys nie,” het Monica Mynhardt, navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) gesê.

Dié beweging is verder bekommerd oor die kwessie van grondhervorming. “In ʼn liederlike weerspreking van homself het die president daarop klem gelê dat versnelde ekonomiese groei onder meer ʼn duidelike eiendomsreg-regime vereis. Dit is buitendien absurd dat die president verwag dat landbou ʼn sleutelrol in ekonomiese groei moet speel te midde van die feit dat dit die sektor is wat die meeste ly onder die konsep van onteiening sonder vergoeding.”

Die burgerregtegroep AfriForum meen vanjaar se staatsrede is ʼn sprekende voorbeeld van die ANC se ideologie wat met werklikheid verwar word. “Die president besef die land is in ’n krisis en hy onderneem om ’n utopie te skep, maar hy beoog om dit met ’n aksieplan te bereik wat nie net onrealisties is nie, maar wat ook waarskynlik destruktief sal wees,” het Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, in ʼn verklaring gesê.

Sakeliga en Solidariteit is dit eens dat die president se besluit dat die Reserwebank onafhanklik gaan bly, wel een ligpunt uit sy toespraak was. “Maar in die lig van die leë beloftes en die verwoestende ideologieë waarin die ANC gewortel is, sal dit uiters naïef wees om te glo dat die ANC enigsins binnekort afstand gaan doen van die gesentraliseerde mag wat hy met soveel moeite bekom het,” het Mynhardt gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Human

Kul jou hier en kul jou daar en siedaar utopia is hier.

Dries du Toit

Grysstof tussen die ore is die kwessie. Indien hulle wel grysstof het, beteken dit eenvoudig dat daar bestaan nie n oplossing vir hierdie land nie en dat hulle maar net n droom het.
Indien hulle nie grysstof tussen die ore het nie dan is daar hoop dat daar n oplossing is en dit beteken ons moet net ontslae kan raak van hierdie morone. Ons moet net bid en ons geloof in God versterk

Riller

Al hoe meer werkloses, al hoe meer wat honger is, al hoe meer misdaad, maar dit is mos maklik om die verlede te blameer. Soos Cyril self gese het, nog nie een nuwe stad in die laaste 25 jaar is deur die regering gebou nie. Baie is egter afgebreek of bankrot, soos die spoordienste, Eskom , die SAUK en ander

ne

CR het nie ‘n plan nie, die kaders weerhou hom van planne.

Hansie Slim

Bla.. bla..bla!!
Leë woorde met min substansie!! Om te sê nóú moet iets gedoen word is een ding!! Om werklik iets te doen is ‘n ander.
Bewys my verkeerd asseblief!! Ek sal so graag my woorde wil terugtrek !