Ramaphosa in ‘leeukuil’ by Rustenburg

Politieke kenners meen ten spyte van die uitjouery van die president by ʼn byeenkoms in Noordwes is hy nog stewig in die saal. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die slagordes teen pres. Cyril Ramaphosa is opgestel.

Dit kon die afgelope naweek duidelik in Rustenburg gesien word waar ʼn groep mynwerkers die president tydens ʼn Werkersdagviering uitgejou het. Die president is verhoed om sy toespraak te lewer en is later van die stadion weggelei sonder dat hy die skare toegespreek het.

Dr. André Duvenhage, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê egter Ramaphosa is op ʼn hervormingsweg en teenkanting sal aan die orde van die dag wees. Hy sê nes oudpres. FW de Klerk in die laat tagtigs geweldige weerstand gekry het, moet Ramaphosa nou ʼn moeilike bedeling hervorm en ongewilde boodskappe oordra.

Hy sê in die naweek se gebeure kan daar heelwat gelees word oor die politieke prosesse wat tans in die land aan die gang is, eerder as net ʼn gevoel jeens Ramaphosa. Duvenhage meen die uitjouery is simptomaties van ʼn groter ANC-familie wat in stryd en diskoers met mekaar oor die toekoms tree.

“Ongetwyfeld moet jy die weerstand teen Ramaphosa lees teen die agtergrond van opbouende spanning in die opbou na die ANC se leierskonferensie.”

Die regerende party se leiersverkiesing vind na verwagting in Desember vanjaar plaas. Kenners meen die afgelope naweek se gebeure dui op ʼn spesifieke politieke situasie in Noordwes, maar ook op die standpunte en gesindheid in die breër ANC.

Ramaphosa sal by hierdie konferensie beoordeel word op dít wat hy sedert die 2017-konferensie vermag het, nadat die Covid-19-pandemie as’t ware ʼn reddingsboei vir die president was.

“As hulle hom twee jaar gelede hierop getoets het, was dit ʼn slagveld waarop hulle Ramaphosa sou kon uithaal,” sê Duvenhage.

Die politieke ontleder Theo Venter meen ook nie Ramaphosa se uitjouery moet as ʼn weerspieëling van sy presidentskap gesien word nie, maar eerder as ʼn weerspieëling van die onvermoë van die ANC en sy alliansievennote om groot probleme te pak.

Tog sê hy ook die president se raadgewers moes van beter geweet het as om hom na Rustenburg te stuur. “Hulle kon geweet het hy loop in ʼn leeukuil in; hulle moes geweet het daar is ʼn groep ontgogelde werkers – dit is wat goeie intelligensie vir jou doen,” sê Venter.

“[Die uitjouery] was nie ʼn aanduiding van Ramaphosa se swakheid nie, maar van die klimaat onder kiesers, wit en swart, wat op die vergadering tot uitwelling gekom het.”

Venter sê dis terug na die tekenbord vir die ANC om te probeer bepaal wat hy verkeerd doen en meer nog, wat hy aanhoudend verkeerd doen.

“Die ANC moet ʼn leiersverkiesing in Desember hou en die prisma waardeur ons na alles kyk, is daardie leiersverkiesing. Alles wat die ANC doen word op een of ander manier aan daardie verkiesing gekoppel en daarom is dit moeilik om sommige goed wat Ramaphosa doen, te verstaan.”

Venter meen Ramaphosa staan ʼn goeie kans om Desember as ANC-leier herkies te word en hy sal daarna waarskynlik meer beslissend kan optree – met presidente wat in ʼn tweede termyn gewoonlik veel fermer optree.

Dit kan egter ook na die ander kant swaai – met staatskaping wat in pres. Jacob Zuma se tweede termyn gedy het.

Die Zondo-kommissie na staatskaping het duidelik die inherente korrupsie en verval in die ANC en onder sy lede gewys, sê Venter. Ramaphosa moet dit ook bestuur, omdat hy die ANC uit hierdie krisis moet lei.

“ANC-ondersteuners verloor vertroue in die ANC – die ander kiesers het daardie vertroue lankal verloor – en dit is Ramaphosa se grootste uitdaging: om ANC-lede weer sover te kry om in die ANC te glo. Hy het ʼn helse uitdaging,” sê Venter.

Albei kenners is dit eens dat Ramaphosa se leierskapsposisie nie in hierdie stadium in die gedrang is nie. In die sogenaamde ANC-moederorganisasie het hy steeds baie steun, sê Duvenhage, en verskeie van die provinsies staan nog bankvas agter hom.

Duvenhage sê egter die land kan nie op dieselfde ou noot voortgaan nie en hervorming is ononderhandelbaar. Ramaphosa het egter groter strategiese vennootskappe nodig om sy goeie planne tot uitvoering te bring – maar as hy sy kaarte reg speel, sal hy dié steun kry.

“Ramaphosa moet van die tentakels van die koalisie van korruptes ontslae raak.

“Maar probeer dink in watter posisie hy is – hy praat teen sy politieke ideologie, teen die ANC se beleidstandpunte… hy het ʼn ongelooflike moeilike taak, maar tipies dié van ʼn hervormer.

“Jy veg ʼn oorlog aan twee fronte. Vir een groep is alles wat jy doen te min, en die res voel jy is besig om hulle te verraai. Hy is tussen die duiwel en die diep blou see.

“Hy moet egter die realiteite van die ekonomie bestuur, of ons gaan totaal tot niet gaan,” sê Duvenhage.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter9

Moet nie te veel in die uitjouery lees. Dit is ‘n herhalende gebeuryenis. Elke jaar se die Unies ons stem nie meer vir julle; kom verkiesing, stem hulle weer ANC. Die ANC is nie’ n politieke party nie maar ‘n bevrydings organisasie en maak dit tendens ontledings van min waarde. Alles hang af van die voordeel op’ n gegewe tyd sy ondersteuners dink daar vir hulle in is. Dit bepaal of daar minder of meer vir hom gaan stem.

casper

Viva ANC – Amandla !!!

Johann

Hys inhirent korrup en n leunaar. Rugraat loos. En skatryk…so…..nie noodwendig beinvloed deur hom en sy anargiste kaders se optrede nie anders as wat hille vat en gryp en verwoes nie.

Swerwer

Die uitjouery wys jou maar net die lae mentaliteit. Natuurlik sal die groter ANC Kader alles in hul vermoë doen om die President uit sy stoel te lig want dan kan hul hul ongeletterde/onopgevoede korrupte kader leiers wat hul kies om ons land nog verder te vernietig daar te plaas

domheks

Rama kleur vir homself die prentjie so mooi in! Die werkers wil nie werk nie – net ontvang – bakhand!!!