Ramaphosa in sy noppies oor toerismesyfers

(Argieffoto: Unsplash)

Ná die verwoesting wat die Covid-19-pandemie aan Suid-Afrika se plaaslike toerismebedryf aangerig het, toon die jongste syfers dat die bedryf stadigaan weer op sy voete kom.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê syfers van Statistieke SA (StatsSA) en SA Toerisme – wat die minister van toerisme, Patricia de Lille, onlangs bekend gemaak het – dui op ʼn bemoedigende styging in toerismesyfers en dat die bedryf moet aanhou werk om te verseker dat toerisme opnuut floreer.

“Byna 5,7 miljoen toeriste het Suid-Afrika verlede jaar besoek; dit is ’n toename van meer as 150% teenoor die vorige jaar.”

Suid-Afrika het in die eerste kwartaal van vanjaar ook meer as twee miljoen toeriste hier verwelkom; dubbel die syfer in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar.

“Hoewel toerismesyfers nog nie weer op dieselfde vlak as voor die pandemie is nie, toon die jongste syfers dat ʼn aansienlike en vinnige herstel aan die gang is.”

Ramaphosa sê hy is verheug oor hierdie toename in besoekers, ten spyte van verhoogde politieke en ekonomiese onsekerheid wêreldwyd.

“Die land ondervind tans besondere uitdagings, veral wat elektrisiteitsvoorsiening betref; desondanks beskou toeriste ons land as ʼn aantreklike bestemming met ongeëwenaarde natuurskoon, hartlike en gasvrye mense en goeie waarde vir hul geld.”

(Foto: Love South Africa/Facebook)

Die Suid-Afrikaanse toerismebedryf se potensiaal was veral sigbaar tydens die pas afgelope reis-indaba wat in eThekwini gehou is, sê Ramaphosa. Die byeenkoms is een van die grootste toerismebemarkingsgeleenthede in Afrika en lok groot getalle uitstallers, bemarkingsorganisasies en verteenwoordigers van hotelle, lugrederye, toeroperateurs en mediahuise uit Afrika en die res van die wêreld.

“Ons kon ʼn groot verskeidenheid van ons toerismeprodukte ten toon stel om verdere stukrag aan ons herstel te gee.”

Ramaphosa sê daar ook nie net ʼn styging in toeristegetalle in die land nie, maar besoekers bestee ook meer geld.

“Meer as R25 miljard is tydens die eerste kwartaal van dié jaar gegenereer. Dit is waardevolle buitelandse valuta wat werksgeleenthede skep en verdere beleggings in ons toerisme-infrastruktuur moontlik maak.

“Die bekendmaking van die syfers gedurende Afrika-maand is veral bemoedigend omdat Suid-Afrika die meeste besoekers (ongeveer vier miljoen) in 2022 gehad het.”

Ramaphosa sê toeriste van die streek en die groter vasteland sien Suid-Afrika as ʼn vooraanstaande toerismebestemming en stroom hierheen om die natuurwonders te ervaar en geld by plaaslike ondernemings te bestee.

“Gegewe die noodsaaklikheid van groeiende toerisme vir Suid-Afrika se ekonomie, is ons vasbeslote om voort te gaan met die proses van immigrasiehervorming om ons mededingendheid as ʼn toerismebestemming te verbeter.

“By vanjaar se Suid-Afrikaanse beleggingskonferensie het ek ook aangekondig dat ons die e-visumstelsel gaan uitbrei deur ʼn bykomende 20 lande in te sluit.”

Volgens Ramaphosa is daar duidelik ʼn verband tussen toeriste wat ʼn land besoek en moontlike handel en beleggings.

“Die departement van binnelandse sake het verlede week sy inwerkingstellingsplan vir visumhervorming bekend gemaak. Dit sal help om toerisme verder te bevorder en beleggings te lok.”

Ramaphosa sê die herstel van Suid-Afrika se lugvaartsektor ondersteun ook toerismegroei.

“Die jongste toerismesyfers is baie bemoedigend en behoort ons vasberadenheid te versterk om te verseker dat toerisme een van die grootste dryfvere van ons ekonomiese herstel word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

George ·

Hoekom sal ek iemand aanraai om hier te kom as ons nie eens kan koffie belowe nie.

JohanR ·

Defnetief nie te danke aan pres. Ramaphosa nie, of te danke aan die ANC. Toeriste kom omdat die ‘n wonderlike mooi land is, en die mense is gasvry. As ek Belgie toe gaan is die eerste ding wat ek aan dink nie die regering nie, maar wat daar is om te sien en doen.

marius ·

Daar was ‘n pandemie en die getal was nul. 150 persent daarvan is steeds nul.

Roebs ·

Plaas dink jy aan Eskom en sort die gemors daar uit dan kan jy in jou noppies wees.

JohanR ·

Vandag Pieter. As my niggie in London 2000 pond verruil dan kry sy R48193 om hier te spandeer. Lekker caviar, wyn en biefstuk vakansie. As ek vandag daai kant toe gaan dan laat hulle my nie eers land in met 2000 pond. 2000 pond kry jou in alle geval fish en chips by Victoria Stasie, met geen kleingeld.

Henning ·

Natuurlik gaan toerisme optel, kyk na die wisselkoers. Die buitelanders kom hou verniet vakansie hier

Yolandie ·

Oorsese reisigers glimlag baie breed as hulle hier in SA kom vakansie hou want ons land in ooreenstemming met enige ander destinasie is goedkoop vir hulle. Hulle kan die beste verblyf en kos teen ‘n appel en ‘n ui kry. Terwyl ons arme Suid-Afikaners op ons tande moet kners om net plaaslik vakansie te kan hou. Om nie eers te praat van as ons oorsee wil gaan nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Hule moet dit net geniet. Dit kan hul laaste wees…

Anel ·

Wonder nog steeds op watter planeet bly hy. 2022 was daar nie toeriste nie. Hulle is mos weggehou. So 150% van niks gee nogsteeds niks!!! En nou hou almal uit die buiteland omtrent verniet vakansie, want die rand beteken niks!!!!!

Koos 100 ·

Cyril, het jy bietjie vergeet van die Duitser wat naby die Kruger vermoor was?
En hou op om beurtkrag as ‘n uitdaging te bestempel. Dis soos om jou eie ouers te vermoor en dan in die hof te pleit vir versagting omdat jy nou ‘n weeskind is!
Jy en jou gesante weet in elk geval nie wat beurtkrag is nie! Die belastingbetaler sorg daarvoor.

Nie Verbaas ·

Ja Ramaphosa hulle kom Suid Afrika toe om beurtkrag te beleef. Hulle lag hulself in n papie in en gaan dan weer huistoe waar daar krag en n uitstekende regering is.

Papsak ·

Ja ek stem hoekom sort Ramaphosa nie eskom uit laat ons krag het nie en hierdie vrot drinkwater en kyk nadie land en sy mense dan kan hy in sy noppues wees maar nou is hy oor verkeerde dinge in sy noppies tipies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.