Ramaphosa in warm water, maar lank nie gaar – kenners

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: @KhuselaS/Twitter

Die bestuur van die landwye Covid-19-pandemie, ongekende ekonomiese onsekerheid, ʼn groeiende onrus onder miljoene honger, werklose Suid-Afrikaners en sy eie politieke party waarin almal nie altyd vertrou kan word nie, plaas pres. Cyril Ramaphosa tans voor een van die grootste uitdagings van sy loopbaan.

Of hy dié pandemie polities gaan oorleef, is ʼn vraag wat tans die ronde doen.

Woensdagaand se televisieboodskap het min gedoen om hoop te gee met betrekking tot die benarde posisie waarin talle Suid-Afrikaners verkeer en die president is hiervoor wyd gekritiseer. Lede van sy kabinet het boonop die afgelope paar weke verskeie sinnelose regulasies aangekondig wat die verkoop van sigarette, klere en warm kos betref, en dit het Suid-Afrikaners warm onder die kraag gehad.

Volgens prof. Amanda Gouws van die departement Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) is Ramaphosa beslis onder druk.

“Dit blyk uit die feit dat Nkosazana Dhlamini-Zuma die opheffing oor sigaretverkope wat Cyril aangekondig het, omgekeer het. Die probleem is dat Ramaphosa nie genoeg mag agter homself oor die afgelope twee jaar gekonsolideer het nie.”

Nkosazana Dlamini-Zuma (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Gouws sê aan die begin van die inperking het die meeste mense hom ondersteun en gedink hy hanteer die situasie goed, maar soos die tyd aanstap en mense begin honger word en nie die regverdiging van verdere swaarkry verstaan nie, verloor hy al hoe meer steun. “Daar is nie genoeg kommunikasie met die burgers oor besluite wat geneem word nie en die polisiegeweld maak dat hy nog meer steun verloor,” is haar mening. “Die verbod op die verkoop van sigarette maak ook glad nie sin nie en die regering verloor miljoene rande aan sondebelasting.”

John Steenhuisen, die DA se nasionale leier, twyfel ook nie dat Ramaphosa deur faksiegevegte binne die ANC in die gesig gestaar word nie.

“Dit is duidelik uit die vernederende U-draai wat deur die president gemaak is oor die verbod op sigaretverkope. Die president het ʼn strategiese blaps begaan deur soveel gesag en mag aan sy hoofopponent [Dlamini-Zuma] te gee, wat dit sal gebruik as ʼn platform om hom te verswak en haarself te mobiliseer.”

Steenhuisen meen ook dat die president gedwing is om in die openbaar pa te staan vir foute van sy ministers.

“Dit sluit in die dwase besluite oor e-handel, die alkohol- en tabakverbod en die kleinlike nuwe voorskrifte oor klere deur minister Ebrahim Patel. Dit het die goeie trou wat die president by die aanvang van die proses opgebou het, geërodeer en aktief ondermyn.”

Minister Ebrahim Patel (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Steenhuisen sê hiermee het die president toegelaat dat hy heeltemal ondermyn word en benadeel is deur ʼn klomp onbeholpe ministers wat absoluut geen idee het van wat hulle doen nie. “Hy het die steun van die publiek verloor met die absurde gedrag en lagwekkende en belaglike regulasies wat hoegenaamd geen sin maak vanuit ʼn epidemiologiese of ekonomiese perspektief nie.”

Gouws meen daar is ander aspekte wat tot die druk op Ramaphosa bydra, soos die vraagtekens oor die mediese en wetenskaplike redes vir die inperking, die uitstel van die piek van die pandemie wat net meer ekonomiese skade beteken en die aankondiging dat welsynsorganisasies nie gekookte kos mag versprei nie.

“Dit is gek en mense is kwaad,” sê sy. Sy meen as Ramaphosa nie nou sy steun konsolideer nie, hy dit nooit sal regkry nie.

Prof. Dirk Kotze van die departement Politieke Wetenskap van Unisa, glo egter nie dit sal so maklik wees om van Ramaphosa ontslae te raak nie.

“Die mag en invloed van ʼn president word dikwels onderskat. Dit is ʼn kombinasie van die ANC-president en nasionale president wat neerkom op ʼn mandaat van die ANC-lede (omtrent een miljoen) sowel as die kiesers in die algemeen wat vir die ANC gestem het (ongeveer 11 miljoen). Geen ander posisie in die ANC het dieselfde magsbasis nie, selfs nie die adjunkpresident nie. Die posisie word kwesbaar slegs wanneer die poste geskei word, soos in die geval van Mbeki (in 2007) en Zuma (in 2017). In albei gevalle was daar ʼn nuwe ANC-president wat sy magsbasis so vinning moontlik wou konsolideer.

V.l.n.r. pres. Jacob Zuma, oud-pres. Kgalema Motlanthe, oud-pres. Thabo Mbeki, oud-pres. Nelson Mandela Foto’s: Wikipedia

Kotze sê geen instelling in die ANC kan enige van die top-ses van hulle posisies onthef deur ʼn politieke besluit nie. “Dit geld vir die nasionale uitvoerende komitee (NUK), die nasionale werkkomitee en die nasionale algemene raad (National General Council). Net die nasionale dissiplinêre komitee kan ʼn lid dissiplineer en as lid onthef, maar dit is in die praktyk nie moontlik vir die president nie. Al die gerugte van ʼn NUK-vergadering wat Ramaphosa wil of gaan uitstem, is bloot fopnuus, sê Kotze.

Kotze glo ook nie Ramaphosa se steun in die ANC is in gedrang nie. “ʼn Paar dae gelede het die ANC se parlementêre koukus sy steun vir sy bestuur van die pandemie ongekwalifiseerd uitgespel nadat hy hulle toegespreek het. Kort voor dit het ʼn virtuele NUK-vergadering dieselfde gedoen.”

Prof. Piet Croucamp van die Noordwes-Universiteit stem saam dat die druk op Ramaphosa nie so groot is as wat uitgemaak word nie.

“Gerugte van ʼn opponerende trio, insluitend Dhlamini-Zuma, Ace Magashule en Julius Malema, die EFF leier, is onwaar.

“Mense wat dink dat alles deur faksies gefilter moet word, gaan van die veronderstelling uit dat daar faksies is wat sal bepaal wat in Suid-Afrika gaan gebeur. Sake is baie meer kompleks as dit. Ja, daar is faksies binne die ANC, maar die vermoë om faksies te midde van die Covid-19-pandemie te mobiliseer, is omtrent nul,” sê Croucamp.

“Aan die begin van die pandemie het iemand soos Magashule nog die media toegespreek – hy is nou heeltemal stil. Luthuli-huis is ook ʼn spookhuis.”

Croucamp sê Ramaphosa het die kopspasie om wyd te konsulteer en gee baie ruimte aan sy ministers om hul eie departemente te bestuur. “Die president forseer nie sy standpunt af nie en laat ruimte vir ander se opinies. Hy ‘overrule’ niemand binne die konteks van hul eie diepte nie,” meen Croucamp.

Volgens Croukamp is Ramaphosa eerder ʼn politieke bestuurder as ʼn politieke leier en is sy posisie binne die ANC tans sonder enige teenstand.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Steenhuisen meen egter dat die ekonomiese knyptang verdere druk op Ramaphosa plaas.

“Die ekonomiese ineenstorting gaan volg op die rampspoedige hantering van die inperking en hul [die ANC se] vasberadenheid om die ekonomie geslote te hou. Ekonome voorspel dat miljoene van ons mense hul werk gaan verloor. Ons word deur ʼn tekort van R285 miljard in die gesig gestaar, die potensiële inkomste uit alkohol- en tabakverkope is so te sê uitgewis en tot soveel as ʼn vyfde van ons BBP kan verlore gaan,” sê Steenhuisen.

“Die regering se vermoë om te funksioneer word gefinansier op die rug van ekonomies aktiewe burgers. Hulle sal nie vergeet wie hulle in die werkloosheidsry ingedruk het nie. Die geskiedenis wys dat kiesers nie ʼn party wat ekonomiese depressie veroorsaak het gunstig beoordeel nie,” sê Steenhuisen.

Tog meen Steenhuisen dit is nie te laat vir die president om die malligheid stop te sit nie en om ʼn mate van normaliteit terug te bring, die ekonomie weer oop te maak en ʼn slim inperkingsmodel in te stel wat ʼn mate van normaliteit veilig toelaat nie. “Maar sy tyd is vinnig besig om uit te loop,” meen Steenhuisen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Willem ·

My tyd loop ook nou uit. Ek is nou Gvol vir al die stupid besluite.

Jaco ·

Die covid-19 het my laat besef, ons grondwet beteken niks en ons regstelsel is totaal en al useless! Elke tweede instansie of party dreig heeltyd hofaksie om hierdie drakoniese reëls teen te staan, maar dan kom daar dadels van. Dit bekommer my, dus kan hul ENIGE reël uit hul duim suig en op ons afdwing en niemand sal n vinger lig nie, en die ANC het nou gesien dit werk. Wats volgende? …”Oorhandig al jul eiendom aan die staat!”..? En almal sal maar net meedoen daarmee en niks doen of sê nie, prokureurs, partye ens sal weer hofaksie dreig en dit dan maar net weer laat vaar…

Cherokee ·

Hoe sing een fals? Werklik die eerste keer wat ek die woord hoor.

Kanjynoumeer ·

In South Africa we live in HEAVEN…
We Heaven got an economy.
We heaven got work.
We heaven got a cure for Covid-19.
We heaven got a future.

JohanR ·

Nee wat die dag toe hy JA vir sigarette gese het, en Dlamini-Zuma NEE gese het, is toe hy enige vardigheid as ‘n President verloor het! Hy het goed begin met Covid-19, en toe net al vrotter geword. Sal dit nie lekker wees as hy wakker skrik, en vir die NCCC begin byt nie, instede om net te blaf? Ek het lank in IT gewerk, en as een van die direkteure bel en se daar is ietsie verkeerd met sy rekenaar, dan laat val jy alles waarmee jy besig is, en hardloop. Tyd dat Ramaphosa vir Dlamini-Zuma se dat daar is ietsie verkeerd met sy rekenaar! Sy kan dan hardloop, alhoevel baie stadig!

Pietie ·

Ek dink hef als op die wat nie met masker loop straf hulle. Mense is honger masr die prezzie weet dit seker. Jou tyd is jou tyd. Sorg net dat jou siel reg is en laat die natuur sy gang gaan. Anders weet ek nie so mooi nie. Ek het klaar sielkundige hulp nodig.

Fedup ·

Don’t worry, Pietie. Things will work out eventually. Faith.

gatgogga ·

Ek dink CR vervul sy mandaat – hy is die ANC se marionet. Hy is skynbaar bereid om te maak soos sy base beveel, en die kritiek dan opvreet.

Jaco ·

“Gouws sê aan die begin van die inperking het die meeste mense hom ondersteun en gedink hy hanteer die situasie goed, maar soos die tyd aanstap en mense begin honger word en nie die regverdiging van verdere swaarkry verstaan nie, verloor hy al hoe meer steun”
WYS asseblief vir my waar hy daardie steun verloor. behalwe mense wat hulle nie aan maskers, social distancing en bly binnenshuis steur nie, het ek nog GEEN van Cyril se ondersteuners en nog geen van sy “our people” in opstand sien kom teen hom nie.

Oomniklaassevriend ·

Damned if you do it, damned if you don’t. Die ANC gaan nie Covid 19 oorleef nie.

Lorna ·

Ag don’t worry be happy
Hy sal vir antie zzzzzzzzzumpie vra wat nou

Fedup ·

One thing the others WILL learn the hard way. Power can be taken as easily as it was taken. Cyril can’t handle power. zumsa and pallet will learn a very very hard lesson.

Etienne ·

Almal kritiseer die man. Wys my asb wie julle in sy plek wil sit wat beter is.

Sharnelle ·

Cyril sal nooit hierdie malligheid kan stop nie. Hyt te veel ministers en drs wat almal hom voorskryf en hy stem maar net gedwee saam. Hyt geen ruggraat om op te staan en sy eie besluite te neem nie. Hyt self erken dat die lewe wel terug sal keer na normaal toe maar dit gaan anders wees as voor die lockdown. Hoekom kan hy nie nou al sê wat gaan vir wat nie dan is ons voorbereid, maar neeeeee, als word mos agter toe deure bespreek en SA word in die donker gehou. Ek begin al meer en meer te glo wat Siener van Rensburg voorspel het. En hierdie sogenaamde virus en lockdown is een van hulle wat hy voorspel het en wat regtig hierna gaan gebeur. Dis jammer dat ons blankes nog verder daar onder gaan lei, ons gaan in n hoek gedryf word.

Barbara ·

Ek hoop regter al die ANC aanhangers leer hul beteken niks vir ons land.

Stephanie ·

Daar is na bewering n rookverbod in die land – maar as ek so luister na die “Regeringsleiers” van die land kan ek nie help om te wonder WAT hulle gerook het nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.