Ramaphosa-invloed afwesig in Wes-Kaapse tussenverkiesings

Pres. Cyril Ramaphosa. Argieffoto: GCIS

Die verwagte toename in ANC-steun sedert die verkiesing van pres. Cyril Ramaphosa as ANC-leier en president van die land was hierdie week afwesig in die eerste twee tussenverkiesings wat die ANC onder sy leierskap aangepak het.

Die ANC se hoop dat hy baie steun by die Wes-Kaapse DA sou kon afrokkel te midde van die opwinding en positiwiteit oor Ramaphosa se verkiesing en die voortdurende tweespalt in die Wes-Kaapse DA oor onder meer die hantering van die droogte en die Kaapse burgemeester, Patricia de Lille, het beskaam tydens Woensdag se tussenverkiesings in twee plattelandse Wes-Kaapse wyke.

In Beaufort-Wes wyk 2 (ʼn deel van die dorp, ʼn string plase en die afgeleë nedersetting Nelspoort op die Wes-Kaapse grens met die Noord-Kaap) sowel as in Overstrand wyk 13 (die woonbuurte Vermont en Onrusrivier naby Hermanus) het die DA ʼn klein mate van steun ingeboet, maar steeds groot oorwinnings behaal in tussenverkiesings met relatief hoë stempersentasies.

Overstrand wyk 13 is ʼn oorwegend wit, welvarende wyk. Daar het die DA-kandidaat, Jean Orban, 1 863 stemme gekry teen 10 vir die ANC en 4 vir die EFF. Dit beteken die DA het teruggesak van 97% steun in 2016 tot 95% hierdie week.

Die stempersentasie was 47%. Enigiets bo 30% vir ʼn munisipale tussenverkiesing word gereken as ʼn skaflike stempersentasie.

Beaufort-Wes wyk 2 is ʼn gemengde wit en bruin wyk met ʼn bietjie dorp, ʼn bietjie informele nedersetting, ʼn bietjie boere en ʼn klompie plaaswerkers as kiesers.

Derrick Welgemoed van die DA het 1 151 stemme getrek teenoor die 606 vir die ANC, 109 vir ʼn plaaslike party genaamd die Karoo Democratic Force, 9 stemme vir die EFF en ʼn gesamentlike 36 stemme vir twee onafhanklike kandidate.

Dit beteken die DA het teruggesak van 66% steun in die 2016-verkiesing na 60% hierdie week. Die stempersentasie was 53%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Dalena Coetzee ·

Daar is steeds uiters baie en diep vrot kolle van korrupsie, vergrype en droogmakery in die ANC wat skynbaar oogluikend toegelaat word. Die kiesers sal uiters dom wees om hulle nou skielik te steun. Het nie veel hoop dat hulle binnekort van al die misbruikende kaders ontslae sal raak nie.

LB S ·

Ek sê altyd, die DA is die bestes van die slegtes. Ons MOET eenvoudig ‘n sterk oppossissieparty hê.

Pop ·

Die mense sien mos dinge by hulle werk. Elders in die land gaan dit haglik. Het kleinste werkloosheid ook in die land. So hoekom sou hulle wil verander.

Marius ·

Dinge werk nie juis veel beter onder Johannesburg se DA bewind nie….

Joeye ·

Dit gaan nie oor CR nie, die mense is net meer positief omdat JZ nie meer president is nie, dit kon enige iemand gewees het, uitsluitend malema. Mense is nie meer positief oor die ANC nie, net die naam, maar CR is nogsteeds ANC.

Zuma ·

NEE hoor die probleem was NIE NET ZUMA nie, die probleem was die ANC, julle gaan nog ‘n paar verrassings kry.

Kat ·

Ramaposa het seker gedink die anc sal n landslide victory kry maar mense verstaan waaroor hy gaan.Hulle vetrou hom nie en ek ook nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.