Ramaphosa knip VK-besoek kort oor Noordwes-betogings

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand aangekondig dat hy sy besoek aan die Verenigde Koninkryk, wat deel vorm van die presidensie se buitelandse beleggingsveldtog, gaan kortknip te midde van betogings en erge oproerigheid in Noordwes.

Die presidensie het in ʼn verklaring gesê Ramaphosa neem kennis van die onluste in dié provinsie en is “ernstig bekommerd” daaroor.

Ramaphosa het vir kalmte in die provinsie gevra. “Die president doen ʼn beroep op alle partye wat voel dat hulle te na gekom is om hul griewe vreedsaam oor te dra eerder as om oor te gaan tot geweld en anargie. Hy het ook wetstoepassingsagentskappe versoek om kalmte en normaliteit in die provinsie te bewerkstellig.”

Ramaphosa sou na verwagting reeds Donderdagaand in Pretoria land. Die president en talle ANC-hoës beoog dan om Noordwes Vrydag te besoek waar die president ʼn dringende vergadering met leiers van die provinsie sal belê.

Pule Mabe, woordvoerder van die ANC, sê Ramaphosa sal vergesel word deur Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC en ANC nasionale raadslede in die Noordwes.

Intussen het brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, bevestig dat nóg sewe mense in verband met die betogings in hegtenis geneem is – dít nadat nege mense Woensdag vasgetrek is. Mokgwabone sê die sewe verdagtes sal Vrydag in die landdroshof in Mmabatho verskyn.

Spanning in Mahikeng in Noordwes was Donderdag weer op ʼn mespunt te midde van toenemende eise dat Supra Mahumapelo, premier van die Noordwes, moet bedank.

Winkels op die dorp is gesluit en ʼn groep jong betogers gewapen met klippe en stokke het Nelson Mandelarylaan wat Mahikeng en die Botswana-grenspos verbind, versper met brandende voorwerpe. ʼn Vragmotor is sowat tien km weg op dieselfde pad aan die brand gesteek deur ʼn groep jong mense wat buitebande op die pad aan die brand gesteek het.

ʼn Njala-pantservoertuig is in Danville met ʼn petrolbom bestook terwyl ʼn groep jong mense in Dibate naby Mmabatho winkels geplunder het. Die polisie moes die skare met rubberkoeëls uiteenjaag. Aggressiewe betogers het vir verslaggewers gesê hulle eis dat Mahumapelo as premier van Noordwes bedank.

Lt.kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, het gesê hoewel die polisie gister daarin kon slaag om die geweld in die gebied onder beheer te bring, het de geweld later weer plek-plek opgevlam. “Gedurende die nag is ʼn vragmotor in die Moshawane-nedersetting buite Mahikeng aan die brand gesteek, terwyl nog ʼn voertuig en vragmotor langs die Mahikeng-Vryburg-pad aan die brand gesteek is. Daar was ook voorvalle van plundering wat in gebiede soos Lomanyaneng, Montshioa en Mmabatho aangemeld is.”

Die VF Plus in Noordwes het gereageer op die betogings en gesê die onluste in Mahikeng is net nóg ʼn teken van die skade wat die regerende party die provinsie reeds berokken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Dietrich ·

Vinnig om dit kort te knip en aandag aan die saak te gee maar plaasaanvalle en moorde word oor die hoofgesien…

Hopelik ·

Hopelik gaan Lindiwe ook help? Mens kan net wonder wat het hy as verskoning voorgehou om só skielik terug te kom? Verskeie kragstasies van Eskom sit ook sonder kole maar daaroor word nie ‘n woord gerep.

wilma ·

Hoe verduidelik hy dat hy sy beleggingsveldtog moet kortknip a.g.v. oproerigheid in die land waarvoor hy beleggings wil werf?

Jannie ·

Hy en sy Kommunistiese ANC is die oorsaak van al die probleme…hoe wil hy dit nou oplos? Wie het vir hulle alles gratis belowe? Satan wil nou “vredemaker” speel…vir die skyn!!!

Grassie ·

Ek dink dit het nie goed gegaan met Ramaphosa se veldtog daar oorkant nie. Hy probeer die Engelse oortuig om in ‘n “veilige, voorspoedige en bestendige Suid-Afrika” te belê, maar die nuusmedia vertel ‘n ander storie. Daardie Souties is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie. Hy het nou wel by die kwien en ander hooggeplaasdes mooi broodjies gebak, maar hulle dra nie die tjekboeke nie. Die sakelui sien wat hier aangaan en totdat hier werklik bestendigheid en beskerming van eiendomsreg is gaan hulle beslis ander weivelde soek.

Han ·

Grassie, beter kon jy dit nie gestel het nie! Die ANC-regering moet besef dat hulle nie die buiteland se intelligensie moet onderskat nie. Die val nie vir stroperige woorde nie, hulle weet wat hier aangaan. Grondonteiening sonder vergoeding – wat niks anders as diefstal is nie – is die gat wat die regering vir ander grawe en waarin hulle self gaan val. Ongelukkig gaan die hele land daaronder ly!

humor ·

Grassie jy slaan die spyker op sy kop. Die saakmakers bestudeer die feitelike voor so n besoek veral as dit om ekonomiese sake gaaan. Die kraantjie vir Afrika is nie meer muldelik oop nie.

Lana ·

Wanneer dinge in ‘n land reg loop, het die regering van daardie land nie nodig om beleggers te gaan soek nie. Dan kry jy outomaties beleggers.
In die lig van bogenoemde, verstaan ek hoekom SA moet smeek vir beleggers.

cor ·

Ai so moes die nuwe nr 1 wat met sy hoed in die hand gaan staan het vir n paar triljoen rand, dit vinnig terug sit op sy kop en maak vir SA om die brande te kom blus .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.