Ramaphosa kondig kabinet vanaand aan

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa het bekend gemaak dat hy vanaand sy kabinet sal aankondig.

Die presidensie het in ʼn verklaring gesê Ramaphosa sal die aankondiging om 20:00 by die Uniegebou doen.

Daar is verwag dat Ramaphosa sy kabinet al Maandag sou aankondig, maar die presidensie het toe laat hoor dit gebeur eers later in die week.

Maroela Media het vroeër berig die magspel binne die ANC is besig om die druk op Ramaphosa te laat oplaai.

Hy is vasgevang in die werklikhede en teenstrydighede van openlik strydende interne ANC-faksies wat geakkommodeer moet word, ’n verminderde aantal ANC-setels in die parlement, sy beloftes van ’n verkleinde kabinet en sy onderneming om ’n skoon regering daar te stel.

Ramaphosa se huiwering om sy kabinet aan te kondig is uit sommige oorde geloof aangesien dit kan beteken dat hy deeglik is met sy aanstellings, terwyl dit die rand reeds negatief beïnvloed het en buitelandse beleggers laat wonder.

Ramaphosa het talle kopsere gehad insluitend dié van die ANC-onderleier, David Mabuza, wat eers Dinsdag ingehuldig is en dus nou sonder omstredenheid vir ’n verdere termyn as adjunkpresident oorweeg kan word.

’n Verdere vertraging volg op die bevinding van die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, teen die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, wat ’n sleutelvennoot van Ramaphosa is. Die bevinding handel oor die toestaan van aftreevoordele aan ’n voormalige adjunkkommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Ivan Pillay.

Benewens hierdie faksiegevegte en etiese probleme te midde van beloftes van ’n skoon kabinet sit Ramaphosa ook met die uitdaging dat hy onderneem het om die kabinet te verklein, maar dat byna niemand in sy vorige kabinet uit die politiek getree het nie.

Dit is ’n resep vir ontevredenheid, want dit beteken hy gaan mense uit die kabinet moet laat – ’n verlaging in posisie en inkomste wat byna nooit met grasie hanteer word deur die betrokkenes nie, en wat vir hom probleme in sy party kan beteken in die tyd wat voorlê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Siestog, hoop nie die wat uitgelaat gaan word, stort te lang krokodiltrane nie! He-he-he!

Boerboel ·

Gert ek dink hulle gaan want ons ry Dan so lekker OP die sous trein.

Sarel ·

David Mabuza = Lid van die Zuma faksie as Adjunk President wat beteken ons vorder ” boggerol:”

Boerboel ·

Cr het net twee hase om uit sy goed te haal. CR manne of die Zuma manne.

Andreas ·

Hy gaan Mabuza as ‘president’ inhuldig en dan vat hy die tweede plek. Dis is nou by wyse van spreke, want die bevele sal van agteraf kom. Ek meen, van agter af …

My mening ·

Hy sal homself maar net soos Zuma met al sy korrupte kamerade omring. Hy is n pateet wat baie praat en nie sover kom om enigiets te doen nie. Te bang dat hy sy “ekstra inkomste” sal verloor.

Gert van Wierdapark ·

Kom 20:00 en hul Tsjing Tsjong tsjai nog daar binne. Ek sit vasgenael voor my voor-1994 televisie-stel wat ongelukkig nie laas maand deur regstellende shoppers geneem is nie = TV was te swaar en te oud! Ek was in die gesig gevat gewees, verbeel jou, diewe met smaak! Dit smaak my nou egter pres CR stoei nog met die name van sy nuwe Kabinet. Dis amper soos om n pak speel kaarte te skommel en dan te deel! Die “stakes” is hoog, so die “bluff” en teen-bluff van die rolspelers betrokke, neem tyd. So – in die stadium is die nuus:” Ons Wag (nog steeds) Op die Kaptein”

PJC ·

Hierdie kabinet sal onomwonde aandui of die ANC wel CR se toutjies trek en dit sal ook ń aanduiding wees van wat o s te wagte kan wees in die toekoms. In die finansiële wêreld sit almal op die oomblik en wag vir hierdie aankondiging.

Manie van Worcester ·

Net die cr aanbidders wat wonderwerk verwag. Res weet dit sal n gekruip voor die zuma gespuis wees wat land net verder sal verwoes

Willie Gouws ·

Afrika tyd . Nooit op tyd .CR is net so onbetroubaar soos sy voorganger

Andreas ·

Daar is te veel sterte wat die hond swaai. As hy ons die dag kan bewys dat hy weet hoeveel minute in ‘n uur en hoeveel ure in ‘n dag is, dat die son in die ooste opkom en in die weste sak, kan ons daaraan dink om hom ernstig op te neem. Hy kan nie eens iets so belangrik soos die land se kabinet wat hy vir 57,000,000 mense wil aankondig, reg kry nie, hy het seker probleem met sy sterte, of dan een. Dit is ‘n verleentheid vir die land. En ons dag hy gaan die V12 ‘opstart’. Ek dink eerder daar is fout met die poeggie se silinder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.