Ramaphosa kondig klein kabinetskommeling aan

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Pres. Cyril Ramaphosa het een nuwe minister aangestel, twee geskuif, een ministerie afgeskaf en twee adjunkministersposte ongevul gelaat tydens ‘n kabinetskommeling wat Donderdagmiddag in Pretoria aangekondig is.

Daar was twee vakatures in die kabinet na die afsterwe van die minister van omgewingsake, Edna Molewa, en die bedanking van die minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba.

Die enigste nuwe kabinetslid is Stella Ndabeni-Abrahams, tot dusver adjunkminister van kommunikasie. Sy word minister van die nuwe saamgevoegde ministeries van kommunikasie, telekommunikasie en poswese.

Ndabeni-Abrahams kom van Mthatha in die Oos-Kaap. Sy is getroud en het drie kinders. Sy dien reeds sedert 2011 as adjunkminister en was ‘n sleutelvennoot van Ramaphosa in die Oos-Kaap tydens sy suksesvolle veldtog om ANC-leier te word.

Met die samevoeging van die twee departemente onder Ndabeni-Abrahams verval dr, Siyabonga Cwele, tot dusver minister van telekommunikasie en posdienste, se kabinetspos. Hy word nou bevorder tot minister van binnelandse sake in Gigaba se plek.

Cwele is ‘n mediese dokter van Port Shepstone aan die KwaZulu-Natalse suidkus, wat in ‘n stadium ‘n groot ondersteuner van oudpres. Jacob Zuma was maar nietemin as baie bekwaam beskou word.

Cwele se KwaZulu-Natalse wortels beteken die provinsie se posisie in die kabinet word nie verswak nie, wat ‘n sterk strategiese skuif deur Ramaphosa verteenwoordig.

Die nuwe minister van omgewingsake is Nomvula Mokonyane, tot dusver minister van kommunikasie en ‘n oudpremier van Gauteng. Mokonyane, wie se kabinetslidmaatskap in verskillende portefeuljes almal rampspoedig was, se herontplooiing kom neer op ‘n verlaging van status aangesien sy nou ook nie meer die kabinetswoordvoerder sal wees nie.

Mokonyane het spesifiek berugtheid verwerf vir die manier waarop die departement van water en sanitasie onder haar leiding bankrot gespeel het, haar onverklaarbare opmerkings oor Suid-Afrika se afgradering na rommelstatus, haar stelling dat sy oudpres. Jacob Zuma met haar agterstewe sal verdedig en haar belediging van kiesers in Westonaria aan die Wes-Rand toe sy gesê het die ANC het nie hul “vuil stemme” nodig nie.

Voorts het Ramaphosa aangekondig dat die omstrede adjunkminister van energie, Thandi Majola, uittree.

Geen van die twee adjunkministersposte (Majola en Ndabeni-Abrahams) is gevul nie en Ramaphosa het ook nie aangedui of hy dit gaan vul nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ou Neels ·

En daar dop Cyril die toets, en is Zuma se trawante nog steeds in die saal. Wat ‘n absolute teleurstelling, en ‘n totale leuen van sy sogenaamde “nuwe” parlement. Nee wat CR kan maar opgee, hy het nie die murg in sy pype om iets konstruktiefs te doen nie. Wat het gebeur met sg. “Walk the Talk”???? Totale mislukking, pateties ….

dr. Sakkie van der Merwe ·

Sy bondgenote trek die toutjies en hy dans. Bang vir onmin in sy geledere laat hy twee ministers aan wat hopeloos en hulpeloos verby is,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.