Ramaphosa kry nóg vrae oor persoonlike finansies

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Pres. Cyril Ramaphosa moes hierdie week bontstaan om skriftelike parlementêre vrae oor sy eie en sy familie se finansiële sake te beantwoord.

Die leier van die EFF, Julius Malema, wou by Ramaphosa weet of hy – aangesien hy sy aanvanklike antwoord dat sy seun Andile Ramaphosa geen sake met Gavin Watson se Bosasa-groep gedoen het nie, gewysig het – self die kontrakte gesien het en dit openbaar sal maak.

Ramaphosa het geantwoord dat hy twee kontrakte tussen Watson se maatskappy, Bosasa – tans bekend as African Global Operations en in die proses om gelikwideer te word – en Andile Ramaphosa se maatskappy, Blue Crane Capital, gesien het.

Een daarvan is ʼn mandaat om saam sake te doen in markte in Oos-Afrika, en die ander is ʼn onderlinge ooreenkoms tussen die twee maatskappye om omkopery en korrupsie te bekamp.

Die president weier om die inhoud van die kontrakte bekend te maak aangesien hy dit as ʼn private ooreenkoms tussen twee maatskappye beskou.

In ʼn afsonderlike skriftelike parlementêre vraag wou die EFF-onderleier, Floyd Shivambu, van Ramaphosa weet of enigeen wat geld bygedra het tot Ramaphosa se veldtog om in 2017 ANC-leier te word, staatskontrakte gekry het.

Ramaphosa het geantwoord dat hy nie weet wie tot sy veldtog bygedra het nie, en dus ook nie weet of enigeen wat bygedra het wel sake met die staat doen nie.

Shivambu wou ook van Ramaphosa weet of die R500 000 wat African Global Operations aan daardie 2017-leierskapveldtog van hom geskenk het, terugbetaal is.

Volgens Ramaphosa kon sy veldtogbestuurders nie daarin slaag om ʼn vergadering met Watson te belê nie en is die geld tot tyd en wyl by ʼn regspraktisyn se trustrekening inbetaal.

Ramaphosa se antwoord lui dat hy die kwitansie vir daardie oorbetaling persoonlik gesien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

… en dit is hoekom Zuma lekker smile en los rondloop, omdat hy weet almal het uit dieselfde giftige fontein gedrink. Moet net nie uitgevang word nie, is Afrika se motto.

Ellisras ·

Van Paul Kruger af het ons nog nooit ‘n vlekkelose President gehad nie. C R Swart was een van die min eerlike presidente

Stompie van As ·

Ramaphosa se hande is defnitief nie skoon nie, maar die twee narre wat die vra gevra het se hande is nog vuiler ( VBS)

Tannie Hettie ·

Watson en sy maatjies almal oorgewig…. lekker geeet en min gewerk. Hoop julle gaan tronk toe

jean ·

Sommer so…van niks na iets met biljoene in die agtersak…’n Ou wonder van wie en waar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.