Ramaphosa laat Jiba, Mrwebi ondersoek

Adv. Nomgcobo Jiba. Foto: GovernmentZA/Flickr

Pres. Cyril Ramaphosa het adv. Nomgcobo Jiba, die nasionale adjunkdirekteur van openbare vervolging, en adv. Lawrence Mrwebi, die spesiale direkteur van openbare vervolging, geskors hangende ʼn ondersoek.

Ramaphosa het gesê hul skorsing met volle betaling hangende die uitkoms van ʼn ondersoek na hul geskiktheid vir hul poste tree vandag in werking.

Ramaphosa het ook bekend gemaak dat die ondersoek gelei sal word deur regter Yvonne Mokgoro wat bygestaan sal word deur Kgomotso Moroka SC en Thenjiwe Vilikazi.

Nazreen Bawa SC sal aan die stuur wees van die span wat die getuienis sal lei. Die span sal die opdrag vir die ondersoek opstel.

Die besluit volg nadat Ramaphosa vir Jiba en Mrwebi tot 10 Augustus gegee het om redes te verskaf waarom hulle nie geskors moet word nie hangende die ondersoeke teen hulle.

Ramaphosa het Jiba en Mrwebi skriftelik in kennis gestel van die besluit om hulle te skors en die ondersoek van stapel te stuur.

“Ek het die ernstige aard van die bewerings in ag geneem dat jy nie geskik is vir só ʼn hoë pos nie, aangesien die werk van ons strafregstelsel die kern is van die noodsaaklike en dringende kwessie van alle vervolgings, veral vervolging van korrupsiesake en die beskerming van die staatskas,” lui die kennisgewings.

“Jy beklee ʼn senior posisie met invloed oor ʼn groot gedeelte van die NVG [Nasionale Vervolgingsgesag]. Dit is in belang van die NVG se beeld in geheel en die integriteit van die ondersoek, wat moet lei tot die duidelikste en oortuigendste gevolgtrekkings oor die integriteit en die gesonde leierskap van die NVG, dat ek hierdie bewerings moet oorweeg.”

Volgens Ramaphosa sal die ondersoek nie in die vorm van ʼn geregtelike ondersoek of ʼn kommissie van ondersoek wees nie, maar ʼn interne proses wat ten doel het om die president te adviseer oor die twee senior beamptes se geskiktheid om hul posisies in die NVG te beklee.

Jiba en Mrwebi is albei op 15 September 2016 op spesiale verlof geplaas en van die rol van advokate geskrap weens verskeie omstrede besluite. Hulle het daarteen geappelleer en die appèlhof het in Julie vanjaar die skrapping tersyde gestel.

Die appèlhof het bevind die algemene balieraad van Suid-Afrika het versuim om te bewys dat Jiba skuldig was aan wangedrag in haar hantering van die Richard Mdluli-saak.

Die balieraad se klagte teen Mrwebi het ook verband gehou met die Mdluli-saak. Daar is spesifiek aangevoer dat hy ʼn wanvoorstelling gemaak het van die omvang van sy konsultasie met die NVG se adv. Sibongile Mzinyathi voordat ʼn besluit geneem is om aanklagte van bedrog en korrupsie teen Mdluli, die voormalige hoof van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, terug te trek.

Die appèlhof het bevind die balieraad kon wel vasstel dat Mrwebi hom aan wangedrag skuldig gemaak het, maar die straf om hom van die rol te skrap, is nie geregverdig nie omdat sy gedrag nie tot sy eie persoonlike voordeel was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Netso ·

Wonder hoeveel jaar betaalde verlof hulle nou kry? Dis eenvoudig, nou sit hulle by hul vakansie huise, ry hulle duur staats motors met gratis brandstof en doen presies dit wat hulle op kantoor gedoen het ! Absurd

Johann ·

Siesa julle. Was julle stout gewees… of was julle? Ma moebie whorry nie julle kry nog julle sakgeld al. is julle gehok. ANC LEGACY

Irma ·

Mooi so. Hoop hulle vlerkies word geknip en hul word gaste van die staat.

Alida ·

Mnr R daar is nog baie onbevoegdes in al die afdelings. Bring jou snoeisker sodat ons jou weer kan vetrou.

Johan H. ·

Cirel jy begin die regte skuiwe maak.maar ek wil sien hou hulle die oranje sweetpak dra in die hitte van die tronk. Hou egter nie die asempie op nie. Onthou dis verkiesingtyd ne!!

Paul ·

Cyril, nou hoekom nie nader aan die lyf nie, ek bedoel nou daar in die top ses? Dis mos nou makliker om by die wat nie invloed op jou joppie het nie te begin.

Jana ·

Geskors met volle betaling?
Die mate waartoe mense verantwoordelik gehou word, is kommerwekkend.
Goue handdrukke, ondersoeke wat sloer en sloer.
Niemand voel meer verantwoordelik om kwaliteit werk te lewer nie.
Geen ondersoek beïndruk my meer nie. Dit bly net altyd by n ondersoek.

Johanna Botha ·

Wat nog ondersoek …daar is mos n hofuitspraak en n bevinding ….?

Gert ·

Hel 3 maande gewag om die besluit te neem. So 11 augustus ondersoek begin het

jean ·

Ondersoek wat seker n jaar of twee sal neem….en ons word miljoene betaal om by die huis te sit en ginnegaap….

aj ·

In SA neem ten minste een maand om ‘n besluit te neem wat in een minuut geneem kan word.

En dit kos ten minste een rand (belasting) om te betaal vir een sent se waarde wat produseer word.

Maar bg praktyk is beide ONvolhoubaar en ONbekostigbaar vir ‘n effektiewe regering.

SA is lankal ‘n mislukte Staat.

Bg. is slegs 2 oorsake (van BAIE) wat

Landi ·

Klink goed. Tyd dat n fokus ook op SABS geplaas word. Belowe dit sal net so opspraak wekkend wees! Dis dalk n goeie skuif vir VF+ om die liggie soontoe te draai voor die verkiesing… Soveel nuwe produkte op die mark die afgelope ANC jare, soveel toetse moet gedoen word, maar hoe? Word dit ooit gedoen? En op watse standaarde volgens wat? Gaan kyk maar Maroela.Julle sal vind dat werkers en bestuurders nie eens opdaag vir werk nie, of net ogies wys en weet skidaddle.

Daan ·

Nie nog ‘n ondersoek nie. Kry ruggraat en neem ‘n besluit. Dit is soos om ‘n komitee aan te stel om te besluit wat eet ons vir ontbyt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.