Ramaphosa laat ‘onreëlmatighede’ by OBK ondersoek

President Cyril Ramaphosa
(Oktober 2018) Foto: Kopano Tlape/GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdag aangekondig dat hy ʼn kommissie van ondersoek na die aantygings van onreëlmatigheid rakende die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) van stapel gestuur het.

Die kommissie het ses maande om sy ondersoek die voltooi.

Die OBK is die grootste beleggingsbestuurder in Afrika en bestuur sowat R2 biljoen (“trillion”) se regeringspensioene en ander fondse. Die OBK loop egter deur onder aantygings van onbehoorlikheid onder sy direkteure oor sommige van die beleggingsbesluite wat hulle geneem het.

Die voormalige president van die appèlhof, regter Lex Mpati, is van sy aktiewe diens onthef om die kommissaris van die kommissie te wees en sal bygestaan word deur die voormalige president van die reserwebank Gill Marcus, asook veteraan beleggingsbestuurder Emmanuel Lediga.

Een van die 16 dinge wat die kommissie moet ondersoek is of enige beweerde onbehoorlikheid rakende beleggingsbesluite deur die OBK wat in 2017 en 2018 deur die media berig is, enige wetgewing oortree het.

Die kommissie moet ook ondersoek of die OBK se beleids- of kontraktuele verpligtinge enige onbehoorlike voordeel vir enige OBK-direkteure, -werknemers, -vennote of familielede van enige OBK-direkteur of -werknemer tot gevolg gehad het.

Ramaphosa wil ook hê die kommissie moet ondersoek of die beleggingsbesluite by die OBK ʼn gevolg was van oneffektiewe bestuur of -funksionering van die raad of enige OBK-direkteur of -werknemer wat sy of haar posisie, voorregte of vertroulike inligting gebruik het vir persoonlike gewin of om iemand anders onbehoorlik te bevoordeel.

Ramaphosa het verder gesê die kommissie moet die tydperk 1 Januarie 2015 tot 31 Augustus 2018 ondersoek vir hul bevindings, verslag en aanbevelings.

Die kommissie mag ook aanbevelings en bevindings maak oor sake wat buite die toepaslike tydperk val.

Die kommissie het streng spertye en moet ʼn tussentydse verslag indien nie later as 15 Februarie 2019 nie. Die finale verslag moet teen 15 April ingedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ellisras ·

Wat ‘n mors van tyd. Dit is kommissie na kommissie. Die een na die ander. En noem my EEN naam van iemand wat vervolg is.

Eish ·

Ek is bevrees maar ek het nie moed dat die instansie enigsinds die geldgrypkoors vrygespring het nie. Met Nene se seun wat n biljoenrand lening bekom het sonder om iets daarvoor te wys, en ander vergrype wat weens die woordbeperking nie genoem kan word nie, is dit n tien teen een geval.

Zach Coetzee ·

Die feit dat reg en verkeerd met die ondersoeke weer seefier is bemoedigend. Die vorige fase waar die leuen elke keer wen, word darem hiermee gestuit. Of daar vervolgings gaan gebeur is die volgende tree. Maar vir nou herstel dit die bevoling se begrip van wat reg en verkeerd is, breek dit die spoed van die grypers en kapers. Die President se vyande word ook objektief en onpolities uitgehaal. Dit is dus ‘n goeie begin en laat ruimte vir ‘n beter bestel om beslag te kry.

remondo ·

nog n kommisie…………………………………………werkskepping

waarheid ·

Ag asseblief – ek glo jou nie – niemand is al agter tralies met al jou komissies ect ect nie.
So weereens, moenie leuens vertel nie soos ons nou gewoond is jy doen. Daar sal niks van kom nie en ons weet dit almal. Gaan slaap verder en dink aan iets anders in jou ‘siekbed” ramapaddapot. Ek hou maar verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.