Ramaphosa laat vaar appèl in Abrahams-saak

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydag sy besluit betreffende die appèl teen die uitspraak van die Noord-Gautengse hooggeregshof wat gelas het dat Shaun Abrahams, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), van sy pos as nasionale direkteur van openbare vervolging onthef moet word, teruggetrek.

Die hooggeregshof het in Desember beslis dat Abrahams van sy pos onthef moet word. Die NVG het teen dié hofbeslissing geappelleer en dié appèl sal eerskomende Woensdag in die konstitusionele hof aangehoor word.

Die presidensie het in ʼn verklaring gesê pres. Ramaphosa het aan die konstitusionele hof te kenne gegee dat hy die appèl wat betrekking het op die aanstelling van die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) gaan terugtrek.

“Die enigste kwessie wat die president geappelleer het, was of die voormalige president of sy voormalige adjunk die NDOV moet aanstel. Daardie kwessie is nou betwisbaar.”

Shaun Abrahams. Argieffoto: ANA

Volgens die presidensie sal die konstitusionele hof dit by Woensdag (28 Februarie) se verhoor ook oorweeg of die hooggeregshof se uitspraak geld dat sommige van die afdelings van die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag, spesifiek dié wat betrekking het op die afdanking van die NDOV, onwettig is.

“Pres. Ramaphosa het laat blyk hy sal nie voortgaan met die appèl nie en derhalwe nie 28 Februarie in die hof wees om die saak te betoog nie.”

Die hooggeregshof in Pretoria het 8 Desember 2017 gelas dat voormalige pres. Jacob Zuma nie ʼn nuwe NDOV mag aanstel nie weens ʼn vanselfsprekende tweestryd aangesien die NVG steeds moet besluit of hulle weer die 783 klagtes van onder meer korrupsie en bedrog teen Zuma wil instel ná die saak in 2009 teruggetrek is.

Die hof het Ramaphosa, wat destyds adjunkminister was, opdrag gegee om binne 60 dae ʼn nuwe NDOV aan te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Carl ·

Ja, “bye-bye” vir SA se persoonlike “Bulldog”! Hierdie is nie ‘n posisie vir ‘n rugraatlose persoon nie. As mens die kaliber mens moet vergelyk met Adv Claus Von Lieres und Wilkau en Adv Jan de Oliviera of selfs oud Adv Jan Swanepoel, is dit om van naar te word.

Eddie ·

Ek is regtig beindruk met die wyse besluite wat Ramaphosa neem , veral met die nuttelose en geldverkwistende sake ! Hou so aan asb!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.