Ramaphosa lig sluier oor sy grondbeleid

Pres. Cyril Ramaphosa tydens Sondag se geleentheid. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondag die sluier in ‘n groot mate gelig oor sy siening van grondhervorming.

Ramaphosa het 4 586 hektaar staatsgrond by KwaDlangezwa buite Empangeni aan die Makhwanazi-stam oorhandig.

Ramaphosa het daarmee ‘n lyn in die sand getrek teen die DA, die IVP en veral die EFF in die aanloop tot aanstaande jaar se verkiesing, en sy eie stempel op die gronddebat binne die ANC afgedruk.

Die president het eerstens erken dat die ANC-regering die grondhervormingsproses jare lank baie swak bestuur het en dat die proses onaanvaarbaar lank gesloer het.

“Ons moes jare gelede reeds die oorhandiging gedoen het wat ons nou hier doen,” het hy gesê oor die oorhandiging van die grond waarvandaan die stam in twee fases, in 1915 en 1943, gedwonge verskuiwings deur die regering ervaar het.

Dat dit staatsgrond is wat grootliks aan die departement van hoër onderwys en die departement van landbou, bosbou en visserye behoort het, versterk Ramaphosa se siening binne die ANC dat staatsgrond eerste aan die beurt moet kom vir restitusie en herverdeling.

Dat bosbou, toerisme en suikerriet reeds op die grond gevestig is, strook met die Ramaphosa-groepering in die ANC se siening dat grondhervorming nie die ekonomie of voedselsekerheid moet benadeel nie, maar dit eerder moet aanhelp.

Pres. Cyril Ramaphosa tydens Sondag se geleentheid. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Dat dié projek juis by KwaDlangezwa, wat in die grootste munisipaliteit in Zoeloeland (die Umhlathuze-stadsraad wat setel in Richardsbaai) val, geleë is, moet in die lig van die naderende verkiesing nie onderskat word nie. Dit neem die verkiesingstryd namens die ANC na die hartland van die IVP wat die afgelope twee jaar beduidende vordering in KwaZulu-Natal maak, en kan die IVP net benadeel.

Boonop grens die grond aan die Universiteit van Zoeloeland, die intellektuele bakermat van die IVP.

Dat die grond kommunaal bestuur sal word, is ‘n kniebuiging na die Zoeloekoning en ‘n klap na die DA, wie se grondbeleid die uitbreiding van titelaktes en private besit na inwoners van kommunale gebiede as belangrikste vertrekpunt het.

Maar die groot klap is na die EFF. Ramaphosa het in soveel woorde gesê dat radikale ekonomiese transformasie net kan plaasvind as bates in besit kom. Dit is ‘n algehele verwerping van die EFF se standpunt en grondbeleid dat alle grond aan die staat moet behoort, met hernieubare huurpagkontrakte vir boere wat hulle gedra op ‘n manier wat die staat behaag.

As sodanig het Ramaphosa die sterkste aanduiding tot dusver gegee van hoe die grondbeleid voortaan gaan verloop, en hoe die ANC gaan poog om dit teen sy opponente aan te wend in die verkiesingsveldtog.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gerhard ·

Snaaks, ek het nog altyd gedink dat blanke boere se plase eerste op die lys was maar dat vir redes buite die ANC se beheer vir eers gekeer was. Dit wat tweede op die lys was het dus outomaties op geskuif het na die eerste posisie. Ek is seker die oorspronklike eerste keuse sal gou weer op die lys verskyn.

lewies ·

Erfgoed is swerfgoed . Respek vir besit kom alleen tot sy reg as jy daarvoor betaal het.

danie * ·

SO WHAT!! Is dit nou deel van julle RED OCTOBER COMPAIGN?

Zelda ·

Ek sal net graag wil weet. Gaan hulle grondbelasting betaal op die grond wat hul verniet kry?

Arak ·

Ek wonder wie besit nou die grond? Wie het die titelakte, die staat, die Zoeloe koning, die mense wat die grond ontvang? Die artikel vermeld dat dit kommunaal bestuur gaan word, maar aan wie behoort dit?

Nick Oosthuizen ·

En so word nog grond tot ashoop verklaar mooi so Cyril!!

Adam ·

Nick, die Nasionale Party het miljoene hektaar grond tot “ashoop” verander met die stig van die destydse tuislande. Daardie grond is nou in staatsbesit en daar is niks mee verkeerd om dit vir grondhervorming te gebruik nie. Die regering moet net doodeenvoudig boere se grond uitlos.

Dankie aan regering ·

Asseblief kan ons net eenmaal erken as ons verkeerd geredeneer en uitgespreek het teenoor hom. Hy het nog die heeltyd gese die regering se grond gaan eerste maar almal is so teen hom en negatief en waarheen gaan ons gebede dan, dat hy net moet weg? Jesus het reeds ‘n profesie oor SA gegee al lank terug en duidelik gese dat SA nie ‘n tweede Zimbabwe gaan word nie, so eerste eer aan God dat dit nou duidelik begin wys en tweedens weer dankie aan God omdat ons gebid en gevra het dat Hy sal gee Ramaphosa hou by sy belofte dat regering grond eerste sal gaan, want dis presies wat nou gebeur. Mense kom ons begin saam hande vat, God se as ons Hom eerste volg sal ons nie vyande rondom ons he nie, nou hoekom het ons vyande? Dit kan net terugkom na onsself om self ondersoek te doen, want God se woord staan vas. Bid vir Ramaphosa met elke besluit wat hy neem dat God hom sal lei en al lyk dit dan dit gaan in die teenoorgestelde rigting dan se ons nog steeds dankie vir God dat Hy elke gebed verhoor en reeds geantwoord het en kom ons kom terug in God se orde soos Hy wil he dan kan ons almal begin hande saam vat, nie op die wereld se manier nie, maar soos Jesus wil he ons moet.

Gerhard ·

Genade! Is dit die die selfde man waarvan ons praat? Hy ontken die bestaan van plaasmoorde, sy regering het reeds probeer om ten minste een boer se grond te onteien, sy regering het reeds besluit om die konstitusie te verander sodat grond sonder vergoeding onteien kan word.

lerato ·

Wat ookal jou stem was ja of nee. Ongelykheid is ‘n wegspringplek vir ‘n rewolusie. As Cyril staatsgrond wil gebruik om ongelykheid minder te maak is hy op die regte pad.

Die EFF is uit en uit kommunisties. Dis ‘n stelsel waar die staat als besit en beheer. Net ‘n klein groepie word dan skatryk.

Hoop en bid dat die EFF nie sterk steun wen nie.

waarheid ·

Hy moet eers plaasmoorde erken voor ek iets van hom wil weet – hy moet ook van die eff – met wie hy sulke pelle is – ontslae van raak.
Hy moet sy woorde terugtrek oor die paddapot kokery en dan moet hy verduidelik wie’our people” is – dan kan ons dalk verstaan wat aangaan in sy kop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.