Ramaphosa loof SA in Nuwejaarsboodskap vir saamstaan tydens pandemie

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa sê in sy Nuwejaarsboodskap Suid-Afrikaners het in die lig van ʼn ongekende krisis ware betekenis aan ubuntu gegee.

“Ons het aanspreeklikheid aanvaar vir mekaar se welstand deur ons tyd, ons energie en ons hulpbronne te skenk. Deur saam te werk het ons die land se hulpbronne onder moeilike omstandighede gemobiliseer en in ʼn kort tyd steun aan arm gesinne gegee, werksgeleenthede beskerm en sakeondernemings se deure oopgehou.”

Ramaphosa sê in sy boodskap dit was ʼn jaar van groot onsekerheid, pyn en verlies en talle mense is gevra om enorme opofferings te maak.

“Talle was dalk bekommerd oor hul werk, of het gesukkel om ʼn inkomste te verdien. Byna alle Suid-Afrikaners moes in ʼn stadium tyd weg van hul gesinne deurbring. Terwyl die jaar eindig, rou ons oor die verlies aan familielede, vriende, kollegas en bure wat weens Covid-19 gesterf het.”

Ramaphosa sê terwyl die koronavirus toegeslaan het, moes Suid-Afrikaners ook ʼn pandemie pak wat die land lank reeds teister.

“Ons rou oor die talle vroue en kinders wat aan die hand van mans gesterf het. Ons dink aan die vele meer wat verkragting en aanranding, misbruikende verhoudings en seksuele teistering moes verduur.

“Ons dink aan al die kinders wat deur volwassenes seergemaak of getraumatiseer is – die einste mense wat verantwoordelik is vir hul welstand en veiligheid. En tog, in die lig van albei hierdie pandemies, het Suid-Afrikaners vasgestaan, vasbeslote om die koronavirus te oorkom én om geslagsgebaseerde geweld te stuit.”

Die president het gesondheids- en maatskaplike werkers bedank wat na die siekes, die honger mense en die eensames omgesien het.

Hy het gesê die pandemie het die hele onderrigstelsel ontwrig en het hulde gebring aan die onderwysgemeenskap en leerders wat onder moeilike omstandighede hul studie voortgesit het.

Ramaphosa het ook geloofsleiers, sportlui en -administrateurs asook kunstenaars vir hul bydraes bedank en het staatsamptenare geloof wat onder selfs die moeilikste omstandighede op hul pos was.

Ramaphosa het gesê belangrike vordering is gemaak om die ekonomie te hervorm, om goedkoper energie beskikbaar te stel, goedkoper, vinniger en meer toeganklike breëbanddiens te voorsien en te verseker hawens en spoorweë is meer doeltreffend en mededingend.

Die president sê weens die ontwrigting wat die pandemie veroorsaak het, moes Suid-Afrikaners leer om op ander maniere te werk, te studeer, handel te dryf en te sosialiseer.

“Die jaar wat voorlê, gaan moeilik en uitdagend wees. Ons is in die middel van ʼn tweede vlaag van koronavirus-infeksies en dit kan selfs erger as die eerste een wees. Hoewel ons bemoedig word deur die vordering wat gemaak word om ʼn doeltreffende entstof te vind, weet ons dit gaan ʼn geruime tyd duur voor die pandemie eindig.

“Die jaar vorentoe gaan dus ons grootste pogings en veerkragtigheid vereis. Die afgelope jaar het gewys waartoe ons in staat is wanneer ons saamstaan en ten goede van almal saamwerk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.