Ramaphosa, Macron bespreek verskeie kwessies

Pres. Cyril Ramaphosa en pres. Emmanuel Macron van Frankryk (12 Junie 2021) (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag ʼn telefoniese gesprek gehad met pres. Emmanuel Macron van Frankryk om verskeie internasionale kwessies van gemeenskaplike kommer te bespreek.

Tyrone Seale, waarnemende woordvoerder vir die president, het Saterdag in ʼn verklaring gesê Ramaphosa het Macron gelukgewens met sy herverkiesing in die tweede ronde van die Franse presidensiële verkiesings op 24 April 2022.

Hy het die boodskap van medelye aanvaar en ʼn aanbod van materiële ondersteuning van pres. Macron verwelkom ná verwoestende oorstromings in KwaZulu-Natal en ander dele van die land.

Macron het ingestem om ʼn versoek aan internasionale entstofkopers soos Covax en Gavi, die Vaccine Alliance, te ondersteun om Covid-19-entstowwe vir Afrikalande aan te skaf van vervaardigers op die vasteland. “Dit is nodig om die lewensvatbaarheid en volhoubaarheid van Afrika se opkomende entstof-vervaardigingskapasiteit te verseker. Die leiers het ook ander inisiatiewe bespreek om betrekkinge tussen die Europese Unie en Afrika-Unie te verstewig.”

Die leiers het hul kommer uitgespreek oor die veiligheidsituasie in die Cabo Delgado-provinsie in Mosambiek. “Pres. Macron het Frankryk se bereidwilligheid benadruk om met die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) in Mosambiek saam te werk en om die EU se finansiële bystand aan die SAOG-sending te ondersteun.”

Die leiers het ook die konflik in Oekraïne bespreek. “Pres. Ramaphosa het Suid-Afrika se siening oor die konflik benadruk en die dringende behoefte dat die konflik deur onderhandelings opgelos moet word om ʼn langblywende ooreenkoms te bereik. Die leiers het ook samewerking met die Afrika-Unie bespreek om die impak van die konflik op kos en energie te takel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nie Verbaas ·

Maar Ramaphosa is nie eers bevoeg om sy eie land se probleme op te los nie maar dan bespreek hulle ander landed se probleme. Hoe intelligent.

Willempie ·

Neem kennis asb mnr Macron …. jy het hier te doen met die Bakhandstaan-en-ontvang Brigade !!!

Lourens ·

Kyk net hoe voorbeeldig stamp hulle elmbogies vir die kameras.

Lillian ·

ramapokker, jy kan nie eens die chaos in jou eie land onder beheer kry nie, maar jy bespreek Rusland en die Oekraine ses probleme met Macron? Vee liefs voor jou eie deur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.