Ramaphosa: Massiewe toetsveldtog vir koronavirus op pad

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Presidensie/Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand die land toegespreek oor maatreëls wat tans toegepas word om die koronavirus-pandemie te beheer.

Dit volg ná die nasionale beheerraad Sondag vergader het om die doeltreffendheid van die algehele landwye afsondering, wat op 26 Maart 2020 om 23:59 in werking getree het, te bespreek.

Die president het bevestig 1 326 persone in Suid-Afrika het tot dusver positief getoets vir Covid-19 en drie persone het gesterf.

“Talle lande se gesondheidstelsels gaan tans gebuk onder die druk om die pandemie te beheer,” het hy bygevoeg. “Dit is waarom ons die radikale besluit geneem het om algehele landwye afsondering vir 21 dae in te stel.”

Volgens Ramaphosa het meeste Suid-Afrikaners positief reageer en hulle bly by die huis en kom die riglyne na. “Dankie aan elke Suid-Afrikaner wat op ʼn gedissiplineerde manier optree. Ons is egter besorg oor diegene wat nog nie die erns van die siekte besef nie. Sekere mense dink die siekte raak hulle nie of dat dit slegs iets is waarvan hulle in koerante lees of op sosiale media sien. Die siekte is egter ʼn werklikheid en hou ʼn groot gevaar vir ons almal in. Dit raak jonk en oud, ryk en arm, swart en wit, mense in stede en mense op landelike gebiede. Laat ons nie die fout maak om te dink dit is iemand anders se probleem nie.”

Suid-Afrikaners oorsee

Ramaphosa het gesê die regering is ook bewus van talle Suid-Afrikaners wat oorsee gestrand is en graag wil huis toe kom. “Ons skenk aandag hieraan en sal bystand lewer waar dit vir ons moontlik is binne ons beperkte hulpbronne.”

Toetse vir Covid-19

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Presidensie/Twitter)

Die president het gesê die land betree ook ʼn nuwe fase in die stryd teen die Covid-19-pandemie.

“In die volgende paar dae sal die regering ʼn grootskaalse mediesebestuursprogram van stapel stuur. Ongeveer 10 000 veldwerkers sal huise in landelike dorpies, dorpe en stede besoek om inwoners te ondersoek vir Covid-19-simptome,” het hy verduidelik.

Persone met simptome sal na plaaslike klinieke of mobiele klinieke verwys word vir verdere toetse.

Persone wat met die koronavirus besmet is maar geen of matige simptome het, sal tuis bly in isolasie of by ʼn fasiliteit wat die regering verskaf het. Diegene met erge simptome sal na hospitale oorgeplaas word.

“Danksy mobiele tegnologie kan ʼn omvattende spoorstelsel vinnig ontplooi word om diegene op te spoor wat in kontak was met persone wat positief getoets het vir die koronavirus en om die geografiese ligging van nuwe gevalle regstreeks te monitor. Dit is ʼn verreikende veldtog, dit gaan intensief wees en is ongekend in die omvang daarvan.”

Ekonomie

Pres. Cyril Ramaphosa het gesê dié ernstige gesondheidsnoodtoestand vind plaas in ʼn tyd waar ons ekonomie onder groot druk is. “Net toe ons met afsondering begin, het ons die nuus gehoor dat die kredietgraderingsagentskap Moody’s Suid-Afrika afgegradeer het na rommelstatus. Dit sal egter nie enigsins ons reaksie op die koronavirus-pandemie laat afneem nie. Ons duur voort om die nodige gesondheid-, ekonomiese en maatskaplike ingrypings in te stel om die verspreiding van die virus te bekamp en die effek daarvan op ons mense te verlig.”

Finansiële bydraes gelewer

Die president het bygevoeg talle ondernemings en individue het finansiële en ander bydraes gelewer tot die saak. Buiten die finansiële beloftes van verlede week het die Motsepe-stigting homself verbind tot ʼn bedrag van R1 miljard en Naspers het homself verbind tot R1,5 miljard in reaksie op die koronavirus-pandemie.

“Ons sê ook baie dankie aan Jack Ma, die stigter van die Chinese maatskappy Alibaba, wat noodsaaklike mediese voorraad aan Suid-Afrika en ander lande in Afrika geskenk het.”

Baie dankie ook aan ons verpleërs, dokters en ander gesondheidswerkers, maatskaplike werkers, staatsdienspersoneel op die voorste linie, vrywilligers en NRO’s wat die stryd teen die siekte lei. Baie dankie aan die 18 000 sekuriteitspersoneel uit die SAPD, SANW, metropolisie en ander entiteite wat verantwoordelik is vir ons veiligheid, het hy bygevoeg.

Die president het ook die 58 miljoen Suid-Afrikaners bedank wat saamstaan om as ʼn eenheid dié nasionale gesondheidsnoodtoestand te takel.

SA’ners uit Wuhan

Ramaphosa het gesê hy het Sondag ook die 114 Suid-Afrikaners besoek wat van Wuhan in China na Suid-Afrika teruggekeer het. “Hulle keer ná twee weke in kwarantyn in Polokwane terug huis toe. Hulle is ʼn groep wonderlike Suid-Afrikaners, mans en vroue, van verskillende ouderdomme, rasse, en oorsprong. Vir maande lank was hulle in afsondering. Eers 51 dae in Wuhan en toe 14 dae in Polokwane. Nou is hulle ʼn verdere 17 dae in afsondering by die huis.”

Hy het bevestig hulle het almal negatief getoets vir Covid-19 en is almal gesond.

“Hulle is in ʼn goeie luim en is baie dankbaar vir dit wat die land vir hulle gedoen het deur hulle veilig terug te bring huis toe. Sommige van hulle is studente, ander is onderwysers en sommige werk in China.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

JC Venter ·

Cyril Ramaphosa sê dit is wonderlik dat die 114 Suid-Afrikaners wat vir maande lank in afsonderding was, waarvan 14 dae in kwarantyn, nie positief getoets is nie en almal gesond is. Ai en die baie retoriek tog wat hy toe gisteraand in sy TV boodskap gebruik het.

Ons is saam met hom bly, en dan is ons ook baie bly dat daar der miljoene ander Suid-Afrikaners is wat by hul huise in staat van inperking is, gesond is en nie die virus opgedoen het nie.

Ons harte gaan uit na die oues van dae, ons senior burgers én daardie gemeenskappe wat in nedersettings en landelike gebiede moeilike omstandighede moet trotseer.

‘n Woord van dank vir die R1 miljard wat elk deur die Rupert en Oppenheimer-families geskenk is om die impak op kleinsakeondernemings deur die korona-virus, Covid-19, te verlig.

Kom ons gaan op die knieë en bid die Vader om Sy genade en bystand in hierdie tyd van beproewing.

Pieter ·

Dit kan werk al doen hulle net 50%. Die probleem is egter hoe gaan jy weet of dit bona fide is. Die kriminele het klaar n gaping gesien. Soos met alles wat aangepak word huidiglik, kan dit n groot sukses wees of n flop. Ek haal my hoed af vir die mediese korps se insette wat Ramaposa adviseer. Sonder hulle sou dit maar beroerd gaan.

MJ77 ·

Ek self is bekommerd hieroor. Mens kan mos self bel as jy siek is. Wat as hulle ‘n besmette ding in my mond steek? Natuurlik sien skelms die ook as ‘n wonderlike geleentheid. Mens kan mos nie nou mense in jou huis innooi nie. Wat as hulle my man of kind byvoorbeeld wegneem in stede van toelaat om tuis te genees indien simptome net lig is?

PH ·

Aan hoeveel siek mense gaan die ondersoekers blootgestel wees voordat hulle dalk by my aankom? Don’t call me, I’ll call you.

Juliet ·

1. Daar was alreeds kriminele wat hul voordoen as “COVID 19 testers” om in te breek by mense – lyk nogals amptelik met test kits en als, so nee, ek maak nie my deur oop nie!
2. So, ek sonder my af by die huis om weg te bly van die virus en dan stuur regering draers na my toe? Met hoeveel besmette mense sal daai toetsers mee te doene kry? Nie ‘n goed deurdagte idee nie – stel eerder “Mobiele toets-stasies” op in afgeleë gebiede en buurte waar mense self vir hulle kan gaan laat toets as hul simptome ervaar. Ek hoop regtig “sanity prevail” met die besluit.

Jaco ·

Dié voorspel net een ding: die huidige lockdown van 21 dae gaan verleng word. Agterna gaan net BEE- en regstellende aksie vriendelike besighede gehelp word. Wit besighede sal ten gronde gaan. Hierdie lockdown is beplan om radikale ekonomiese transformasie ‘n kickstart te gee.

MOLLIE ·

Ek vermoed daar word baie feite van ons weerhou. Die gevallesyfer is ‘n voorbeeld. Dit is onmoontlik om die opwaartse kurwe skielik binne drie dae “plat te druk” nadat dit so dramaties gestyg het elke dag. Ek sal nie verbaas wees was die “regte” syfer teen more al oor 3000 is nie. Maar dis maar net wat ek dink…

Hendrik Petrus ·

Hulle het seker vir Zuma gekry om die syfers te verwerk ?

Leon ·

Ek stem saam, “Don’t call me, I will call you.”
En al wat hulle moes doen was om BBBEEE te stop en plaas en grondgrype te stop en werk reservering te stop en die omgekeerde apartheid af te skaf en hulle sal ‘n ekonomie hê wat blom. Dan sal hulle ‘n Moodys opgradering kry.

Michael 1 ·

Ek dink nie die mense moet bekommerd wees dat die werkers by ons huise gaan opdaag nie ,die president het mos gesê vir “our people ” in rural areas en ek weet ek val nie in daardie kategorie nie.

Leah ·

Jy kan bly wees jy val nie in daai kategorie nie, seker jy het baie om voor dankbaar te wees

charmaine ·

Hierdie gaan nog meer mense besmet dis omdat hy sien sy eie mense gehoorsaam hom nie nou moet hulle weer voorkeur kry om getoets te word. En die wat die mense toets gaan mos nou eerste siek word en verder die virus versprei, kyk net hoeveel mediese personeel is oorlede net deur mense te help.

Werner ·

Hoeveel mense gaan hulle nie aansteek nie kom nie naby my nie

marius ·

Klim maar oor die pallisades , want oopmaak gaan nie gebeur nie.

Lindi ·

Jammer Mnr die President, maar DIE reeling gaan ek NIE nakom nie. Soek ander maniere. Toets die ouens wat op straat loop en bly weg by my huis.

Piet ·

Ek is oortuig dat die oor grote meerderheid van die inwoners wel Ramaposha se oproep om samewerking steun. Dit is tog in eie belang. Bekoomernis is egter dat geen department of GEPF hul fone antwoord vir onmiddelile hulp nie. Is daar iemand wat kan help?

Hoe nou? ·

En in ander nuus Fox News: “Wetmarkets reopening…” Terwyl die wêreld skarrel vir skuiling, stook hulle waarskynlik die volgende vlermuis pandemie sop. Gaan WGO dit nogtans aanvaar en lewens op die spel plaas? Gaan wêreldlui weer agteroorsit, wag en sien? Wanneer bewarings aktiviste, Viroloë, bewustheid skep, gaan mense weer sê: “ek wil dit nie sien nie, ek stel nie belang nie, ek gee nie om nie”. Kom ons bid en kwarantyn. Ai mense wat sal dit neem?

Bloedhond ·

Hou jou 10,000 siek krim tjommies weg van my deur af!!! Ek is gesond en wil dit so hou asb.

beswoord ·

Ja, meneer die President, jy ignoreer die feit dat Suid-Afrika spog met heeltemal te veel misdadigers. Gaan jy vir my askies sê as ‘n rower/verkragter hom voordoen as ‘n gesondheidswerker en ek hom toelaat in my huis omdat jy so ‘beveel’ het, en ek dan verkrag/gemartel word? Hou maar verby hier. Ek is ‘n verantwoordelike, volwasse persoon. Nie nodig dat jy my soos ‘n redelose imbesiel behandel nie. Ek sal weet wanneer ek getoets moet word, en sal self stappe neem indien nodig.

Gawie ·

En daar bewys die Suid-Afrikaners hulle self net weer: As ek so na al die kommentare kyk, is almal negatief en almal kla. Hier is ons regering een van dié wat die vinnigste opgetree het in die situasie en gaan uit hulle pad uit om die pandemie die hok te probeer slaan, maar kritiseer sal ons kritiseer. Ek stem saam, alles gebeur nie altyd soos hulle beplan nie, maar gee hulle bietjie kans en ondersteun liewer die inisiatiewe wat die regering neem!
Jy hoef nie die mense in jou huis te nooi nie, hulle gaan net simptome nagaan en darvolgens ‘n besluit neem. Daar gaan ook baie duidelike identifikasie-prosedures wees vir hierdie werkers.
A nee a, Suid-Afrika! Hou op kla en staan eerder saam in hierdie tyd!

beswoord ·

Ek verskil van jou. Die kommentaar op hierdie artikel gaan hoofsaaklik oor mense se onwilligheid om werkers in hulle huise toe te laat. Die redes aangevoer is ook billik. Geen wonder Afriforum dring aan op duidelike riglyne ten aansien van hierdie aspek nie. Nie een van die lesers kritiseer die regering oor die instel van algemene kwarantyn nie, en almal aanvaar dit met stoïsynse geduld. Ek stel voor jy lees die kommentare weer, maar poog om objektief te wees.

daniel ·

Ek hoop nie die regering gebruik die Chinese toetsers nie omrede dit foutiewe lesings gee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.