Ramaphosa moenie Senekal-oproer tot ‘raskwessie’ verhef

(Foto: Twitter)

Die Afrikanerbond (AB) sê in ʼn brief aan pres. Cyril Ramaphosa – in antwoord op sy weeklikse nuusbrief waarin hy onder meer die moord op Brendin Horner veroordeel – die onlangse oproer in Senekal in die Vrystaat moenie in ʼn rassekwessie verander word nie.

Ramaphosa het Maandagoggend gesê die jong plaasbestuurder se dood, nes dié van enige ander slagoffer van geweldsmisdaad, mag Suid-Afrikaners nie onaangeraak raak nie.

Die president het ook verwys na die oproer by die Senekal-landdroshof waar twee van Horner se vermeende moordenaars in die hof verskyn het. ʼn Groep oproerige betogers het onder meer ʼn polisievoertuig omgegooi.

Dries Wiese, voorsitter van die AB, sê die organisasie spreek sy opregte simpatie en meegevoel uit met die naasbestaandes van enige misdaad. “Net so moet die dood van enige persoon deur sinnelose misdaad en geweld, misdaad of terreur, swart of wit veroordeel word.

“Dit is goed dat u uiteindelik u stem gevind het oor die kwessie van landelike veiligheid, plaasaanvalle en plaasmoorde,” skryf Wiese in sy brief.

“U maak egter weer die onvergeeflike fout om die Senekal-voorval van 6 Oktober opnuut te verhef tot ʼn rassekwessie. Elkeen het die grondwetlike reg tot optogte, standpunte en algemene protes: Dit was die doel met die optog om algemene protes aan te teken teen plaasmoorde. Swart en wit het aan die protes deelgeneem.

(Argieffoto: Ayanda Ndamane/ANA)

“Die reg tot protes kan egter nie insluit dat hofeiendom en polisievoertuie beskadig is nie. Die geweld kan daarom nie geregverdig word nie en moet veroordeel word. Daardie klein groepie protesteerders het deur die onbesonne misdaad die morele hoë grond en protes oor die emosionele kwessie laat skade lei. Dit is nie rassisme nie,” sê Wiese.

Ramaphosa het in sy nuusbrief geskryf “die wrede moord van ʼn jong, wit boer – glo deur swart mans – gevolg deur die spektakel van wit boere wat ʼn polisiestasie bestorm om ʼn swart verdagte by te kom, krap wonde oop wat geslagte lank teruggaan”.

Wiese sê dit is teleurstellend dat die gebeure by Senekal vereenvoudig word tot rassisme tussen swart en wit en tussen plaaswerker en plaaseienaar.

“Is die honderde diensleweringproteste, beskadiging en vandalisme van munisipale infrastruktuur en die afbrand van skole dan ook ʼn vorm van rassisme, of is dit net protes? Dit het egter simptomaties geword van hierdie regering oor etlike jare heen om ʼn klomp swere in die samelewing toe te plak met ʼn diagnose van rassisme,” skryf hy.

“Die meer dieperliggende kommer is dat u as president beter ingelig moes gewees het oor die agtergrond tot die emosie van Senekal. Senekal se protes was uiteindelik ʼn kulminasie van frustrasie met die regering se onvermoë tot behoorlike misdaad intelligensie en behoorlike misdaadvoorkoming. Die erodering van landelike veiligheid moet direk toegeskryf word aan die Suid-Afrikaanse polisie se onvermoë en die diep kanker wat sy oorsprong het in politieke aanstellings, kaderontplooiing en korrupsie en geen politieke leiding nie. Dit strek reeds oor etlike jare heen.”

Wiese sê daar moet gevra word watter rol die polisie speel om misdaad te voorkom.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS/Twitter)

“Ons kan nie anders as om te vra wat nog moet gebeur en hoe barbaars en koelbloedig moet misdaad oor die algemeen met verwysing na bendegeweld, moord en diefstal, transitorooftogte en georganiseerde misdaad op sagte teikens in winkelsentrums nog wees, alvorens die Suid-Afrikaanse regering daadwerklik toetree nie? Suid-Afrikaners belewe egter ook terreur en sabotasie in die landelike omgewing en dit verg spesifieke, dringende en nuwe prioriteite.”

Wiese sê daar word verwag dat plaasaanvalle en die terreur wat daarmee saamgaan as prioriteitsmisdaad hanteer moet word.

Hy sê Ramaphosa se aannames en stellings berus op verkeerde inligting en meen dat ʼn reeds gespanne situasie ontlont moet word.

“Landbou moet uit die voortdurende beskuldiging van rassisme verwyder word en moet bo die politieke arena verhewe wees.

“In die lig van bogenoemde, maar in die gees van konstruktiewe samewerking, wil ons opnuut ʼn ernstige pleidooi tot u rig, dat u optrede en u uitsprake gerig sal wees op die vertoon van staatsmanskap en die belang van alle Suid-Afrikaners, dat u in landsbelang sal luister na alle goedbedoelde advies en voorstelle, ook van opposisieleiers en dat u bereid sal wees om ook voorstelle wat oor soveel jare gemaak is, weer te oorweeg.

“Met ons verwysing na die morele verval is dit ook nodig dat ons dringend gesprek moet voer oor ʼn nuwe moraliteit en waardestelsel vir Suid-Afrika. Ook hierin sal ons graag ons gedagtes met u wil deel. U mag moontlik verbaas wees oor die gedeelde ideale en verwagtinge tussen so baie gematigde Suid-Afrikaners.”

Die AB sê Ramaphosa se kantoor het reeds ontvangs van die brief erken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Persheks Adri ·

Cyril hou met jou wit kaart jy krap waar dit nie jeuk nie en jou polisie wat onder jou werk kan net sowel by die huis bly! Verstaan jy ooit wat hier gebeur het? Ek dink nie so nie.

Hoekom sit jou EFF nie hulle is terroriste en gooi petrol bomme, maar jy cover vir hulle! Slaan jou sambok na hulle toe en dit geld sommer vir die aanhitsing van rassisme ook, maar daaroor bly jy ook stil.

Ons is NÊRENS veilig nie neem kennis van dit!

Dries ·

Wat probeer ons doen met hierdie brief. Ons weet mos nou al dat hy dit maar net gaan aflag. Hy sal net daai hitte in die paddapot bietjie warmer stel. Dit is die rede hoekom hulle nou grond onteiening so drasties wil priotiseer

Termiet ·

Ons weet almal daar gaan niks van die brief kom nie, maar stel dit so, as daar 3 keer gepoog word om by jou huis in te breek en jy rapport eer dit nie aan die saps nie gaan hulle net omdraai en se maar hoekom het jy niks gese nie as hulle die vierde keer inkom en jou beroof. Die brief dien net as bewystuk dat ons wel ons misnoe en bekommernisse aan die regering deurgegee het. Sou die VN eendag besluit om in te tree het ons bewyse dat ons die regering in kennis gestel het.

Natasha ·

Die hele regering moet hulle siening en standaarde oor SA verander en ophou om vel kleur die skuld vir als te gee. As swart mense ‘n optog hou en paaie brand en voertuie met klippe gooi en die EFF onskuldige werkers van Clicks dreig en Clicks takke plunder en joernaliste rond stamp, dan is dit net frustrasie, maar as wit mense optogte hou dan is dit rasisme en terrorisme? Dis dubbele standaarde! Die rede hoekom SA nie oor rasisme kan kom en saam werk nie is oor ons rasistiese regering vel kleur in ons kele af forseer elke sekonde van elke dag. Hou op om vandag se nasie die skuld te gee vir ons voorvaders se foute! Meeste van die mense wat so rasisties is was nie eens gebore toe ons voorvaders aangejaag het nie. Geen mens word rasisties gebore nie! Kyk na die probleem en nie die vel kleur dan gaan dinge vinniger verbeter in die land.

Jacobus ·

Mr President please just once have a peek through the tiny gap in your mental silo and ask your PR people to show you videos of burning busses, trains, buildings – and scenes of looting – and what what protests really look like. Then get shaken enough the Senekal was real anger and not just gratuitous destruction taking place in SA on a daily basis.

Sê-mar-net ·

Dis nie net blankes wat so voel nie. Gaan praat met ENIGE kleur persoon in daardie area, enige area eintluk, en hulle sal jou gou vertel hoe g-vol hulle ook is. Korrupsie en wetteloosheid staan aan die orde van die dag. Díe wat moet wette toepas wil ongekoop word hul werk te doen waarvoor BELASTING BETALENDE burgers hul betaal om te doen!
Die hele sisteem is vrot. Eks bevrees ons sirkel die drein…

JohanR ·

Ek kan verkeerd wees maar in Switzerland land kan dit wees dat die minister van polisie, of die minster van watersake sake is jou buurman. Daar is die werk van ‘n politikus maar net ‘n werk soos ‘n doctor, werktuigkundige, of ‘n verpleegster. Jy gaan werk toe, jy kom huis toe en dan braai jy en joe bure ‘n vleisie saam en kuier rond ‘n paar bottels wyn. Daar is nie blou ligte en lyfwagte, en fancy huise en karre nie. Jy is daar on die mense van die land te dien, nie die mense van die land om jou dien nie. Bheki Cele werk vir ons, nie ons vir Bheki Cele nie…..”who do you think you are?”

Vanessa ·

Ek het my vertroue in die minister lankal verloor. Daar word net vir ons gelieg oor alles. Alles word op rassisme gemik. Misdadigers word beskerm terwyl die van ons wat die wet gehoorsaam onderdruk word. Watse tipe minister het ons. Suid Afrika stuur af op ‘n ramp. Dis net God wat alles nog staande hou.

4ntj13 ·

Dankie, AB! Julle laat net uit dat die Brendin Horner moord blykbaar voorafgegaan is deur ʼn klomp geïgnoreerde veediefstalle, blykbaar gevolg deur dreigemente dat so-iets sou plaasvind, en is nou deur NVG verder gevoer met ʼn klagte van “terrorisme”, terwyl plaasaanvalle elders nie “poging tot moord”-klagtes insluit nie, maar slegs “roof”. Ek raak nie nou rassisties nie, ek raak bekommerd en kwaad saam die duisende by die hofsaak op Senekal. In die lig hiervan lyk president Ramaphosa se brief uiters naïef!

Anoniem ·

Hierdie skrywe stem nie ooreen met die anc narratief/ideologie nie.

My siening ·

Dit is die wreedheid wat gepaard gaan met die moord op boere, dit is rassisme. Die openlike rassisme van Malema wat nog nooit n bydrae gelewer het vir die land en heel tyd die wit mense vervloek. So Mnr Ramaposa hoekom veroordeel jy net altyd wit mense vir rassisme as julle ANC EN EFF die grootste rassiste is?

LANA is ELANè ·

Of die geagte president dit gaan lees is ‘n ander kwessie, ontvangs beteken nie soseer neem kennis van die inhoud nie.

Sanet ·

Hy gaan verseker sy verklaring en hierdie skrywe lees, en weer lees wanneer hy uitvind dat sy skrywe al reeds in die hande van Amerika is. Sy skrywe was al reeds vanuit die USA veroordeel. Ek het al gisteraand veroordeling daarvandaan van n bron daar ontvang. Ek is bevrees hy het nie gedink dat dit wat nou gebeur het gaan plaasvind nie.

TO ·

Jy weet nie wat jy praat, regtig, en die trokke wat vanoggend weer geplunder en aan die brand gesteek is, maar niks word gesê, dit was mos “vreedsaam” en hulle reg

Dawn ·

Dries Wiese, voorsitter van die AB,….jy praat ware woorde en elke woord wat jy se voel ek so diep in my hart. Dankie vir elkeen wat bereid is om op te staan vir wit, bruin en swart. Ons soek net vrede en regverdigheid.

Yvonne ·

Die president se net n ietsie om darem te wys hy het n stem…maar ek glo niks daarvan nie…..geen opregte belangstelling of intensie nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.