‘Ramaphosa moes opgetree het’ – Zondo

Hoofregter Raymond Zondo, wat die kommissie van ondersoek na staatskaping gelei het, en pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die laaste verdoemende bevindings in die vier jaar lange ondersoek na korrupsie in die staatsdiens onder oudpres. Jacob Zuma dui daarop dat pres. Cyril Ramaphosa stappe kon gedoen het oor sommige van die bewerings teen sy voorganger. Die verslag is Woensdag bekendgemaak

Ramaphosa, wat Zuma se adjunk in die sogenaamde staatskapingsjare was, het die korrupsie as ʼn “aanslag op ons demokrasie” bestempel, nadat hoofregter Raymond Zondo, wat die kommissie gelei het, die verslag gister in Pretoria aan Ramaphosa oorhandig het.

Die plundering en wanbestuur van Suid-Afrika se staatsbeheerde ondernemings tydens Zuma se nege jaar aan stuur van sake is staatskaping gedoop. Dit het uiteindelik 400 dae vir die ondersoekpaneel geduur om die getuienis van meer as 300 getuies – Ramaphosa ingesluit – te versamel.

Ramaphosa se antwoord op sommige van die vrae oor wat hy geweet het van die korrupte bedrywighede was “onduidelik” en “laat ongelukkig ʼn paar belangrike gapings”, lui die verslag.

Op ʼn vraag of Ramaphosa vroeër iets aan die korrupsie kon gedoen het, dui die oormag van getuienis voor die kommissie aan “dat die antwoord ja is”.

“Daar was sekerlik genoeg geloofwaardige inligting in die openbare domein om hom minstens aan te spoor om navraag te doen en dalk op te tree oor ʼn aantal ernstige bewerings.

“As die adjunkpresident het hy die verantwoordelikheid gehad om dit te doen.”

Ramaphosa het nie dadelik gereageer op die inhoud van die verslag nie, maar gesê dit “gee ons die geleentheid om ʼn deurslaggewende breuk met die staatskapingsera te maak”.

“Staatskaping was ʼn aanslag op ons demokrasie. Dit het die regte van elke man, vrou en kind in hierdie land geskend.”

Hoofregter Raymond Zondo. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die Zondo-kommissie van ondersoek is van stapel gestuur ná ʼn 2016-verslag deur die destydse korrupsie-ombudsman en meer as 1 430 mense en instellings, ook Zuma, is betrek. Die oudpresident ontken egter dat hy enigiets verkeerd gedoen het.

Ramaphosa het nou vier maande om stappe te doen oor die paneel se aanbevelings.

Die eerste gedeelte van die verslag is in Januarie bekend gemaak en die finale dokument beslaan meer as 5 600 bladsye.

Die verslag bestempel Zuma as ʼn “kardinale speler” in die hoëvlakplundering van staatsbeheerde ondernemings terwyl hy president was. Hy is in 2018 gedwing om te bedank.

Zuma is verlede jaar tronkstraf van 15 maande opgelê nadat hy geweier het om voor die kommissie te getuig. Hy is ʼn skamele twee maande later op parool vrygelaat, maar nie voordat sy opsluiting grootskaalse en gewelddadige protesoptrede tot gevolg gehad het nie. Eindelik is meer as 350 mense dood.

Plunderplan

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die paneel sê “Zuma het van die kommissie gevlug omdat hy geweet het daar was vrae” wat hy nie sou kon antwoord nie. Dít terwyl ʼn vinger veral gewys is na Duduzile Myeni, sy bondgenoot en voormalige voorsitter van die sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens, wat die dié lugdiens in die grond in bestuur het.

Die ondersoek het onthul hoe Zuma se vriende, die skatryk Indies gebore Gupta-broers, op die hoogste vlak van die regering en die ANC betrokke geword het en onder meer ministeriële aanstellings onder Zuma beïnvloed het.

Twee van die drie Gupta-manne is vroeër vandeesmaand in Doebai aangekeer en uitlewering aan Suid-Afrika staar hulle in die gesig.

“Die natuurlike gevolgtrekking is dat die ANC in hierdie tyd onder pres. Zuma, dit toegelaat, gesteun en moontlik gemaak het vir korrupsie en staatskaping om plaas te vind,” lui die verslag.

Ramaphosa, wat oorgeneem het nadat Zuma gedwing is om te bedank, het die amp opgeneem met die belofte dat hy bestryding van korrupsie ʼn prioriteit van sy administrasie gaan maak.

Ramaphosa het in 2019 geraam dat korrupsie Suid-Afrika nagenoeg R500 miljard gekos het, ʼn bedrag gelykstaande aan sowat ʼn tiende van die BBP van Afrika se mees geïndustrialiseerde ekonomie.

Die laaste gedeelte van die verslag is oorhandig terwyl Ramaphosa ook op ʼn ander front vure doodslaan. Talle vrae word gevra oor die diefstal van miljoene dollar by sy Phala-Phala-wildplaas in Limpopo twee jaar gelede.

Arthur Fraser, ʼn voormalige spioenbaas, beskuldig die president van korrupsie en beweer hy het miljoene dollar in kontant in meubelstukke versteek, terwyl hy die rowers omgekoop het om enige verdere ondersoek te vermy oor die groot bedrae geld wat hy tuis het.

Die skandaal kan Ramaphosa se pogings om vir ʼn tweede termyn as ANC-president verkies te word, voor die 2024-verkiesing ʼn knou toedien. Die president sê egter hy is die slagoffer van vuilspel en intimidasie van diegene wat sy stryd teen korrupsie wil stuit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit van Vrydagaand om 19:30 tot Maandagoggend om 06:00. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
JSB

Al wat sal help is om die ANC uit te stem met die volgende verkiesing. Want die ANC leef in n droom wêreld as hulle dink hule kan die ANC reg kry. Dit het te vêr gegaan.

Vettiemaragartos

“Die president sê egter hy is die slagoffer van vuilspel en intimidasie van diegene wat sy stryd teen korrupsie wil stuit” hoor die man homself as hy die twak kwyt raak? Kom verduidelik vir die nasie Pinocchio ….. het die reserwebank en SARS van hierdie geldjie geweet?

SjN

Die klomp kaders beskerm almal mekaar, as adjunk moes hy kennis gedra het en geswyg om die job te kry.

Manie

Selfs die beste onder die slegtes is nie noodwendig goed nie.

Misky

Sy hande is net so vuil. Nou kan hy en Zuma saam tjoekie toe gaan.

Maar wie sal inkom as hy uitgaan?