Ramaphosa ‘moet plan maak met Ace, Zwane’

Cyril Ramaphosa

Die nuwe president van die ANC, Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Die DA in die Vrystaat het pres. Cyril Ramaphosa, die nuwe president van die ANC, aangemoedig om op te tree teen die party se nuwe sekretaris-generaal, Ace Magashule, wat van korrupsie beskuldig word wat met die Gupta-familie verband hou.

“Ramaphosa, maak ʼn plan met Ace en [Mosebenzi] Zwane [minister van minerale hulpbronne]. Miskien sal ons jou dan glo dat jy ernstig is oor korrupsie. Hulle het so baie gesteel van die armes in die Vrystaat en die land,” het Patricia Kopane, die DA se leier in die Vrystaat, Donderdag gesê tydens ʼn betoging buite die provinsiale regeringskantoor in Bloemfontein.

Ramaphosa is ook die adjunkpresident van Suid-Afrika.

Pres. Jacob Zuma se regspan het Woensdagaand vertoë by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ingedien waarin hy redes aanvoer hoekom hy nie vervolg moet word op honderde aanklagte van onder meer korrupsie teen hom nie. In die afgelope paar weke het oproepe vir Zuma om te bedank, toegeneem.

Ramaphosa het egter gesê Zuma se verwydering moet op só manier plaasvind dat dit nie die president verneder nie.

“Die waarheid is dat die ANC net praat oor die stryd teen korrupsie, maar niks doen nie. Indien hulle ernstig was oor korrupsie, sou daar baie min comrades as ministers, LUR’e en raadslede oorbly. Terwyl Ramaphosa mooi broodjies bak, word ons mense steeds beroof deur die boosheid van korrupsie,” het Kopane bygevoeg.

Magashule, wie se amp as premier van die Vrystaat binnekort verstryk ná sy verkiesing as sekretaris-generaal in Desember, staar verdoemende beskuldigings van korrupsie in die gesig in verband met die Estina-suiwelprojekplaas in Vrede.

Die NVG se batebeslagleggingseenheid het verlede maand op die plaas met Gupta-bande toegeslaan in ʼn poging om fondse terug te kry wat na bewering uit die staatskas geplunder is. Miljoene rande van die provinsiale regering is glo deur die suiwelprojek herlei onder die voorwendsel van bemagtiging van plaaslike inwoners as suiwelboere. Zwane was die provinsiale LUR vir landbou toe die Estina-projek afgeskop het.

Die Valke het onlangs ook ʼn klopjag op die Vrystaatse premierskantoor en die kantoor van die landboudepartement uitgevoer as deel van die ondersoek.

Magashule ontken dat hy enigsins iets verkeerd gedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hasie ·

Die DA is nou regtig soos ‘n stout kind wat nie kan wag nie. Gee asseblief vir Mnr. Ramaphosa kans om grond te vat. Hy weet wat hy doen, hy kan nie net inval en “hire en fire” nie, gee die man kans. Julle is in elk geval besig om stemme te verloor met al die gemors wat julle aanvang in die Kaap.

zoom zoom ·

Die top 6 lede beheer vir VR en die anc. Matheus Phosa is die persoon wat gekies mos gewees het as niwe leier van die anc

Veritas ·

Zoom Zoom, ek is bly om te sien dat daar darem nog iemand soos ek dink. Matthews Phosa is verreweg die mees betroubare kandidaat beskikbaar. Sy probleem is dat hy reguit praat en korrupsie verdoem. In die ANC is daar skynbaar nie plek vir eerlike mense met ruggraat nie. Jammerte.

Oud boervrou ·

Kom kyk hoe lyk Vrede-dorp en ook die Whitehouse drinkplek waar mense naweek vir naweek die woongebied so bemors en die lawaai so erg is dat die mense se eiendomme tans geen waarde het nie!! En wie is die groot belhamels??? Geen petisie en klagtes aan polisie waaraan niks gedoen word nie. Mens kan maar net wonder…

Eddie ·

Phosa sou ‘n gedugte spanmaat vir Rahmaphosa gewees het , miskien gebeur ‘n wonderwerk en hy word tog deel van die top ses ! Die ANC het die kwaliteit mense beskikbaar , waarom kies hulle hulle nie ?

PJC ·

Ek dink Cyril Ramaphosa wil meer as enigeen van ons ontslae raak van hierdie twee maar dit is egter nie so maklik nie. Die groep waarvan hulle deel is het nog te veel invloed en dit is ook waarom JZ nog sit waar hy sit.

wraggies ·

Snaaks dat hulle min gepla was toe Mbeki verneder was, en dit om iemand soos Zuma te ondersteun nogal.

cor ·

Die enkele goeie appels in die kis is reeds besig om te bederf deur die res van die vrot appels. As die kis nie gou uit gegooi word en die slegte appels weggegooi word nie sal al die beloftes soos n damp verdwyn. Ongelukkig kan Mnr Ramaposa nie alleen die kis suiwer nie. Davos was maar net oë verblindery met mooi beloftes om tyd te wen. Tussen die Anc en Da gaan daar dadels van die beloofde land kom almal behalwe die koruptenaarre gaan krepeer

Manie ·

Cyril is net soos sy voorganger. Hy het homself verryk nog voor een van die huidige beskuldigdes van die ANC daaraan gedink het
. So om korrupsie vas te vat gaan net praatjies bly want hy’s deel van dit

Janneman ·

Korrupsie is n westerse konsep………Jy is op die skaal Cyril!

As Magushule, Zwane en Zupta nog staande is teen einde Februarie gaan jy die padda in die pot wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.