Ramaphosa-mosie uitgestel

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Die mosie van wantroue in pres. Cyril Ramaphosa, wat Donderdagmiddag sou plaasvind, is onbepaald uitgestel en sal waarskynlik nou eers in Februarie volgende jaar gebeur.

Die African Transformation Movement (ATM), wat die mosie ingestel het, wil hê die Kaapse hooggereregshof moet die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, verplig om ’n geheime stemming te laat plaasvind. Sy het vroeër besluit dit sal ’n ope stemming wees.

Die ATM het die hof Donderdag genader en daar is onderling met die regsverteenwoordigers van die parlement ooreengekom dat die saak op 3 en 4 Februarie in Kaapstad aangehoor sal word. Die uitspraak oor of dit ’n geheime of ope stemming moet wees, sal eers later aangehoor word, waarna dit duidelik sal wees hoe die mosie van wantroue sal kan voortgaan.

Modise is ingevolge die Grondwet by magte om voor te skryf hoe daar in ’n mosie van wantroue in die president gestem kan word, met inagneming van heersende tersaaklike faktore.

Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, het vroeër gesê die speaker moet in haar besluit die grondwetlike imperatiewe van deursigtigheid, openheid en openbare deelname oorweeg en terselfdertyd ook verseker dat LP’s hul funksies sonder intimidasie kan uitvoer.

“Die Konstitusionele Hof het in 2017 aangedui dat ’n geheime stemming nodig word wanneer die heersende atmosfeer toksies of hoogs gespanne is.

“ATM het egter geen bewyse gelewer van ’n hoogs gelaaide atmosfeer, intimidasie van enige lid of enige demonstreerbare bewyse van dreigemente teen die lewens van LP’s of hul gesinne, wat ’n geheime stemming kan regverdig nie.”

Modise het ook in gedagte gehou dat die huidige virtuele of hibriede sittings van die Nasionale Vergadering, wat ten doel het om die verspreiding van Covid-19 te beperk, die praktiese aspekte van ’n geheime stemming baie uitdagend sal maak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie J ·

Alweer n Regter wat te moeg is om aandag aan n saak te gee.

Aai ·

Geen politieke party kan die land verbeter skade te groot.Net ons self as mense kan dinge beter maak.Ons stem net dat die waarvoor gestem word kan lekker lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.