Ramaphosa-mosie: Versoek vir geheime stemming verwerp

President Cyril Ramaphosa. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die African Transformation Movement (ATM) se versoek dat die mosie van wantroue teen pres. Cyril Ramaphosa deur middel van ’n geheime stemming moet plaasvind, is van die hand gewys.

Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, is ingevolge die Grondwet by magte om voor te skryf hoe daar in ’n mosie van wantroue in die president gestem kan word, met inagneming van heersende tersaaklike faktore.

Volgens Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, moet die speaker in haar besluit die grondwetlike imperatiewe van deursigtigheid, openheid en openbare deelname oorweeg en terselfdertyd ook verseker dat LP’s hul funksies sonder intimidasie kan uitvoer.

“Die Konstitusionele Hof het in 2017 aangedui dat ’n geheime stemming nodig word wanneer die heersende atmosfeer toksies of hoogs spannend is.

“ATM het egter geen bewyse gelewer van ’n hoogs gelaaide atmosfeer, intimidasie van enige lid of enige demonstreerbare bewyse van dreigemente teen die lewens van LP’s of hul gesinne, wat ’n geheime stemming kan regverdig nie.”

As openbare verteenwoordigers moet LP’s nie altyd onder ’n sluier van geheimhouding optree nie, meen Mothapo.

“Oorwegings van deursigtigheid en openheid vereis soms, soos die Konstitusionele Hof aangevoer het, moed en vasberadenheid om met vrymoedigheid die beste belange te bevorder van diegene wat die lede van die NV verteenwoordig, ongeag die gevolge, insluitend die risiko van afdanking weens nienakoming van die party se instruksies.”

Modise het ook in gedagte gehou dat die huidige virtuele of hibriede sittings van die Nasionale Vergadering, wat ten doel het om die verspreiding van Covid-19 te beperk, die praktiese aspekte van ’n geheime stemming baie uitdagend sal maak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie J ·

Nouja, as sy nie eens weet hoe om na haar diere om te sien nie, hoe sal sy weet of die situasie in haar sirkus toksies of hoog spannend is.

Jr ·

E mail van cANCer party to honourable – ha ha ha – members of parliament: COMMAND PERFORMANCE FOR DATE ? . Get your clothes ready please. ALL cANCer members WILL VOTE IN FAVOUR OF SYRYPY CYRIL OR DISCIPLINARY STEPS WILL BE TAKEN.. WHOOPS WHAPS SYRYPY CYRIL TERUG

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.