Ramaphosa nie noodwendig volgende president

Cyril Ramaphosa

Die nuwe president van die ANC, Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Die tafel is gedek vir Suid-Afrika om ʼn nuwe president te kry, en hoewel adj.pres. Cyril Ramaphosa tans na die gunsteling lyk om die leisels oor te neem, kan die Grondwet dalk beteken dat hy om strategiese redes ʼn bietjie moet wag.

Dit is die eindtye vir Zuma se bewind, en in die wandelgange van die parlement is hier net twee vrae wat gevra word: Wie gaan hom opvolg en watter voordele probeer hy beding?

Dit is nie eens meer ʼn vraag of hy mag gaan afstaan as president nie – dis gedane sake. Presies wanneer maak nie eens saak nie. Of dit nou vandag, môre of volgende week is, die punt is dat hy geskiedenis is.

Hy spartel en wriemel tans, maar sy posisie is swak. Dis duidelik dat die lang messe vir hom uit is. Sy tyd is verby en hy kan nie amnestie teen vervolging kry nie, want die strafregstelsel laat dit nie toe tensy jy ʼn staatsgetuie word en alles openbaar wat jy weet nie.

En die haaie swem rond in die parlementêre vaarwaters – die bloed is in die water; dis Zuma-bloed, en politici posisioneer hulself om in eie belang te oorleef. Die vraag op elkeen se lippe is eenvoudig: Wat kan ek hierby baat en hoe kan dit my loopbaan bou?

Was hy ʼn edeler mens, sou mens dalk jammer kon voel vir Zuma – een dag nog in die stoel met al die voorregte, die volgende dag niks; iets wat niets word, as mens die ou spreekwoord kan omdraai.

So, wie gaan hom opvolg? Die artikel ter sprake is artikel 88, wat soos volg lui:

Ampstermyn van president:

  1. (1) Die president se ampstermyn begin by ampsaanvaarding en eindig wanneer ʼn vakature ontstaan of wanneer die persoon wat volgende as president verkies word die amp aanvaar.

(2) Niemand mag die amp van president vir meer as twee ampstermyne beklee nie, maar wanneer iemand verkies word om ʼn vakature in die amp van president te vul, word die tydperk tussen daardie verkiesing en die volgende verkiesing van ʼn president nie as ʼn ampstermyn beskou nie.

Die volgende verkiesing moet oor ongeveer 16 maande plaasvind, en die vraag is of daardie 16 maande as ʼn volle ampstermyn geld, of nie.

En as jy daaroor wonder, is jy in goeie geselskap. Die land se voorste regsgeleerdes krap ook daaroor kop. Daar is tans geen duidelike antwoord daarop nie.

Hoekom is dit belangrik? Want die Grondwet bepaal onomstootlik dat niemand meer as twee opeenvolgende ampstermyne as president mag dien nie.

So as jy die gesalfde is, soos Ramaphosa wel is, wil jy baie graag oorneem en begin regeer, maar jy wil jou nie misgis nie. Jy wil twee volle vyfjaar-ampstermyne hê. Jy wil nie die kans waag dat jou eerste 16 maande jou volle eerste termyn is nie.

So, as die 16 maande wel ʼn volle ampstermyn verteenwoordig, wil jy ʼn plekhouer aanstel, soos wat oudpres. Kgalema Motlanthe was, en dan ná die volgende verkiesing self oorneem. As die 16 maande nie as volle termyn tel nie en jou naam is Cyril Ramaphosa, wil jy jou agterstewe so gou moontlik in die stoel van die Uniegebou se presidensiële kantoor kry.

Dit is geen teoretiese vraag nie – dit sny na die kern van die huidige gesloer om van Zuma ontslae te raak. Indien daardie 16 maande nie tel as ampstermyn nie, is Ramaphosa binnekort Zuma se opvolger. Indien wel, is dit iemand anders.

Topamptenare van die parlement het vanoggend versigtig aan Maroela Media laat blyk hul regsadvies is dat die 16 maande wel ʼn termyn verteenwoordig. Indien hulle hul by daardie regsadvies hou, gaan Ramaphosa nie die volgende president wees nie.

In daardie geval sal hy as adjunkpresident, en as leier van die ANC, absoluut die mag agter die troon wees. So, hy sal iemand as president wil hê wat sal doen presies soos hy vir die persoon sê.

Een van die sterkste kandidate as plekhouer is die huidige speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete.

Sy is byna aan die einde van haar loopbaan, sy het geen uitvoerende posisie of magsbasis meer in die ANC nie, haar tydperk as speaker is ʼn rampspoedige mislukking en sy wou nog altyd president wees. Dit sal ook beteken sy sal Suid-Afrika se eerste vrouepresident wees, wat vir haar ʼn unieke plek in die geskiedenis sal verseker.

Vir Ramaphosa en sy ondersteuners sal dit twee vlieë met een klap wees. Eerstens haal dit die angel uit die aanklag dat vroue eenkant toe geskuif word deur die ANC-leierskap (net een uit ses van die ANC-topleierskap en net een uit agt ANC-premiers is ʼn vrou). As Ramaphosa aan die land sy eerste vrouepresident kan gee, sal dit daardie feministiese kritici se monde snoer.

En tweedens sal dit beteken die parlement kan ʼn beter speaker kry, en beter funksioneer. Die naam wat al lankal in Ramaphosa-kringe genoem word, is dié van Thoko Didiza, die huidige voorsitter van die Nasionale Vergadering, wat sowel in die ANC as in die opposisie respek afdwing.

Dit is tans die aard van gesprekke hier in die parlement. Dit is onseker. Maar niemand het gesê die eindtye gaan maklik wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Nico K ·

Hoekom was dit nie ‘n probleem toe Zuma by Mbeki oorgeneem het nie? Mbeki het ook nie sy termyn voltooi nie. Moes dit nie Zuma se termyn verkort het nie?

Ann ·

Zuma het nie by Mbeki oorgeneem nie. Kgalema Motlanthe was plekhouer gewees vir wat van die res van Mbeki se termyn oorgebly het.

UserPC ·

Miskien moet jy die artikel weer lees. Stadig.

Of kom ek help jou, Kgalema Motlanthe.

Hennie ·

Hi Nico K

Kgalema Motlanthe was ‘tussentydse’ president nadat Mbeki af is.

Amelia ·

Ek wonder nou oor die vroue president. as daar so iets gebeur, wonder ek of sal verkragters en vroueslaners se vonnisse toeneem? Natuurlik gaan plaasmoorde ook deur my kop. Ons almal wat die werklikheid in die oe staar, weet natuurlik dat vrouens kan baie wreder wees as mans.

Hannes ·

Zuma het nie by Mbeki opgevolg nie. Motlhante was president.

Johannes ·

Wat ‘n flippen sirkus! Afrika politiek op sy beste… wat maak ons nog op hierdie kontinent?

Nico ·

Wat ek nou nie verstaan nie is dat politieke kenners en ontleders die afgelope paar weke gereeld gesê het as CR nou moet oorneem sal dit nie tel as ‘n termyn tot die volgende verkiesing nie. Hulle het gesê hy kan daarna nog steeds sy 10 jaar doen van nou tot dan. SA se presidente is soos ons rugby afrigters. Nie almal voltooi hul termyn nie en in die presedente se gaval nog niemand nie. In Mandela se geval het hy homself heroep na een termyn.

Rupert Ashford ·

Wow, interessante berigskrywers deesdae by Maroela. Wanneer kan ons vir Max verwag?

DewaldS ·

Jip – weereens daai onsigbare gom wat al hierdie ‘Afrikaners’ steeds bymekaarhou.

Willem ·

Rupert, for that matter, Adriaan ook en kyk wat het toe met Netwerk24 toe gebeur.

Pieter ·

Jan-Jan, per artikel 88 van die grondwet tel 16 maande nie as ‘n termyn nie (‘n termyn is 5 jaar, nie gedeeltes daarvan nie), dus kan Ramaphosa nou al sonder vrese aangestel word.

zoom zoom ·

Die persoon wat ons kort as presedent is Matthues Phoza met Pravin Gordhan as deputy presedent . Tussen die twee sal kan hulle ministers aanstel wat iets beteken vir die land en nie net kyk na die anc.

LB S ·

Ek hou nie van Mbeti nie, maar soos hulle hier noem, sy is op pad uit. Die derde goeie rede om haar as tussentydse President aan te stel sal wees dat Dlamini-Zuma uit die pad bly!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.