Ramaphosa ‘nie seker’ wanneer tabakverbod opgehef word

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand aangekondig dat Suid-Afrika op 1 Junie na vlak 3 van die afsonderingsvlakke skuif. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die DA gesê dit is nog nie seker wanneer die rookverbod opgehef gaan word nie. Hy kon ook nie aandui wat die wetenskaplike redes vir die verlenging van die verbod was nie.

“Dit is in hierdie stadium onmoontlik om te bepaal wanneer die verbod op die verkoop van tabakprodukte gelig sal word,” lui Ramaphosa se antwoord op die DA se vraag oor op watter datum die president voorsien dat die verbod gelig sal word.

Dean Macpherson, die DA se skaduminister van handel en nywerheid, sê nou dié antwoord is teenstrydig met Jackson Mthembu, minister in die presidensie, se antwoord dat die verbod op vlak 2 van afsondering gelig sal word.

Die DA het Ramaphosa ook gevra op watter empiriese data die nasionale bevelsraad staatgemaak het in sy besluit op die algehele verbod op die verkoop van tabakprodukte tydens afsondering om die verspreiding van Covid-19 te bekamp, asook om die verbod te verleng.

Hierop het Ramaphosa gesê die besluit is geneem nadat voorleggings deur lede van die publiek, asook “relevante mediese literatuur oor die uitwerking van rook op mense se gesondheid” aandagtig bestudeer is. “Ná my aanvanklike afkondiging op 23 April dat die verkoop van tabakprodukte onder vlak 4 van afsondering toegelaat sou word, is voorleggings deur verskeie organisasies en mense gemaak en die regering het verdere raad oor die saak ingewin,” lui Ramaphosa se antwoord.

Maroela Media het egter vroeër berig dat daar ʼn skamele 454 voorleggings teen die ophef van die rookverbod was, teenoor die 2 000 voorleggings waarna die regering aanvanklik ter verdediging van die besluit verwys het.

“Ramaphosa se versuim om behoorlike bewyse te lewer is ʼn duidelike aanduiding dat daar in werklikheid geen empiriese bewyse vir die verbod was nie,” sê Macpherson.

“Dit is duidelik dat die verbod niks met die uitwerking van rook op mense se gesondheid te doen het nie, maar wel alles met die wil en giere van min. [Nkosazana] Dlamini-Zuma en dié in die onwettige handelsbedryf wat by só ʼn verbod baat vind,” sê hy.

Hy sê die regering moet ophou om mense te mislei oor die sogenaamde redes vir die rookverbod.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Skep saam almal staan op en maak n besluit

Johan

Nee my maat….. Wat jy eindelik bedoel is dat jy nie weet waaneer President Nkosazana Dlamini-Zuma vir jou gaan se waaneer jy nou kan aankondig dat sigarette is weer beskikbaar. Cyril kan jy nie, of mag jy nie geen besluit neem voordat NDZ dit goedgekeur het nie? Is jy soe bang vir die energiser bunny dat jy jou broek beveil as sy jou na haar kantoor toe roep? Kry soe bietjie wind in daai broek Cyril! After all you are the PRESIDENT of South Africa!

Pieter

Cyril jy en jou dr vriendin regtig ons is stupid. Kom wys asb vir ons op wit en swart hoeveel van die virus sterftes was rokers. Jy en jou dr is besig met lieg stories julle ANC is deel van die onwettige sigarette. Julle is besig om die virus te versprei nie almal wat rook kan n honderd en twintig rand betaal vir n pakkie sigarette nie. Ons koop nou maar n pakkie saam dan deel ons. As ek my koeldrank deel met my vriend versprei dit nie ook die virus nie. Wie is julle om namens my te besluit… Lees meer »

Outop

Dank haar af en gooi in tronk. Die tesourie bloei

Pieter

Dit gaan nie oor die rook of die virus nie. Dit gaan oor iemand wat dink sy is n dokter en wat mags behep is. So laat ons drink en ons drank deel en mense op die pad dood maak. Maar moet asb net nie rook nie. Ek dink ons kop doek menister moet by n dokter kom want sy is siek siek in haar kop