Ramaphosa nie welkom by Marikana-herdenking

Cyril Ramaphosa

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa (Foto: GCIS)

Adj.pres. Cyril Ramaphosa is nie welkom om die vyfde herdenking van die Marikana-slagting by te woon nie.

Só het die Vereniging van Myn- en Konstruksiewerkers (Amcu) Donderdag laat hoor. Dit volg ná onbevestigde gerugte dat Ramaphosa glo aangedui het hy wil vir die eerste keer in vyf jaar die herdenking van die slagting bywoon.

Mynwerkers het in Augustus 2012 by Lonmin se Marikana-myn met ʼn staking begin en ʼn salaris van R12 500 per maand geëis. Die staking het gewelddadig geraak en 34 mynwerkers is tydens konfrontasie met die polisie doodgeskiet. Tien ander mense, onder wie twee polisiebeamptes en twee Lonmin-veiligheidswagte, is in die voorafgaande dae doodgemaak.

Joseph Mathunjwa, president van Amcu, het Donderdag aan die media gesê as Ramaphosa na Marikana wil kom, moet hy ʼn ander datum reël om met die weduwees van die ontslape myners byeen te kom.

“Ons het ʼn vergadering gehad met die Marikana-weduwees. Hulle het gesê Ramaphosa is nie welkom in Marikana nie. Hulle het ruimte nodig. Ek glo nie dit is met ʼn opregte hart dat hy dit wil doen nie; hy glo Marikana is ʼn goeie plek vir hom om te kom stemme werf,” het Mathunjwa gesê.

Ramaphosa het hom verkiesbaar gestel as ANC-president wanneer dié party hul verkiesingskonferensie in Desember hou.

Ramaphosa het in Mei vanjaar om verskoning gevra vir nege e-posse wat hy aan Lonmin se uitvoerende beampte en ministers geskryf het in dae wat die slagting voorafgegaan het.

Hy het gesê hy is jammer vir die taal wat hy in daardie stadium gebruik het. Hy was in dié stadium ʼn nie-uitvoerende direkteur van Lonmin se platinummyne.

Ramaphosa het die aand voor die slagting in ʼn e-pos tussen Lonmin se bestuur en regeringsamptenare gesê die gebeurtenisse rakende die staking is “krimineel en moet as sodanig beskou en bestempel word”.

Die herdenking sal volgende week Woensdag gehou word op die koppie waar die werkers geskiet is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eish ·

Nou wat het hy verwag? Die mense onthou wat hul toegesnou is tydens sy aandeelhouerskap van die myn. Soos my Afrikaanse onderwyseres van dekades gelede sou sê : ” Jy kan jou brood altwee kante gebotter kry nie!”

jaco ·

ramaphosa en die res van die ANC is vinnig om te verwys na rassistiese wit monopolie-kapitaal wat arm swart werkers uitbuit. Hulle dreig ook radikale ekonomiese transformasie, wat niks anders is as nasionalisering van die ekonomie nie. Maar toe die nonsense by Marikana begin het, toe kies hy kan teen die “werkers”. Iets maak nie sin nie.

zoom zoom ·

Gelukkig is daar ander partye om voor te stem. Hy is net so skuldig soos die wat die snellers geyrek het daai dag saam met die hoof van die sapd op daai tydstip. Maar geen optogte word gehou oor die skietery nie want daar mag nie op getree word teen die anc. Hulle is untouchable.

snoefie ·

daar was destydse n britze joernalis wat geskr6f het die betogers het eers te oo die polisie geskiet. sovhoekom word die voorval soos n heldedaad herdenk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.