Ramaphosa ontken heksejag teen ANC-LP’s wat vír mosie stem

Cyril Ramaphosa

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa (Foto: GCIS)

Adjunkpres. Cyril Ramaphosa het Woensdag tydens die nasionale vergadering ontken dat ANC-LP’s  wat saam met opposisiepartye vir die mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma gestem het, gestraf of vervolg sal word.

Tydens die maandelikse vraag-en-antwoord-vergadering het ANC-LP’s vir Ramaphosa gesê daar móét stappe teen dié lede gedoen word.

“Wat my betref, is daar nie ʼn heksejag in die ANC [teen die lede] nie,” het Ramaphosa gesê. “Die ANC het aanvaar dat die stemming plaasgevind het soos dit het. Soos enige ander politieke party het die ANC private interne prosesse en dit moet gerespekteer word, net soos ons die interne prosesse van ander partye respekteer.”

Die ANC-LP Makhosi Khoza, die voormalige minister van finansies, Pravin Gordhan, en sy adjunk, Mcebisi Jonas, is veral uitgesonder as lede van die party wat al by verskeie geleenthede openlik skerp kritiek teen die president uitgespreek het, en het voor die mosie bevestig dat hulle teen die president sal stem. Die voormalige minister van toerisme, Derek Hanekom, het ook gesê dat hy teen die president sal stem.

Maroela Media het vroeër berig Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het tydens ʼn vergadering gesê ANC-LP’s wat saam met opposisiepartye vir die mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma gestem het, sal gestraf word.

Mantashe het geen name van ANC-LP’s genoem nie, maar wel gesê diegene wat openlik erken het dat hulle vir die mosie teen Zuma gestem het, sal gestraf word.

Intussen is Khoza onlangs van haar posisie as voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor staatsdiens en administrasie verwyder.

Zuma het ook gesê die opheffing van Hanekom se pligte moet bespreek word. Hanekom is die voormalige minister van toerisme en tans voorsitter van die ANC se dissiplinêre komitee.

Van die ANC se 249 parlementslede was net 198 bereid om die president in die mosie te steun. Baleka Mbete, speaker van die parlement, het vroeër aangekondig dat 177 LP’s van verskeie partye ten gunste van die mosie gestem het, terwyl 198 LP’s teen die mosie van wantroue gestem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

Ek glo hom so min soos wat ek glo dat hy het sy biljoenne met harde werk verdien het. God help ons.

Jordaan ·

Cyril sal onthou word as die ou met die potensiaal wat die groot oomblik gemis het – deur herhaaldelik te vou voor Zuma het hy homself nie juis met eer beklee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.