Ramaphosa ontvang miljoen handtekeninge teen Zuma

DA-leier Mmusi Maimane oorhandig een miljoen handtekeninge aan adjunkpresident Cyril Ramaphosa (2 Augustus 2017). Foto: Twitter via @Our_DA

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het Woensdag ʼn petisie van die DA ontvang wat meer as een miljoen handtekeninge bevat van mense wat versoek dat pres. Jacob Zuma afgedank word.

“Adjunkpresident Cyril Ramaphosa neem kennis van en het die petisie ontvang wat die DA Woensdag aan die kantoor van die adjunkpresident oorhandig het. [Die petisie] hou verband met die verrigtinge in die parlement van Dinsdag 8 Augustus 2017,” het die presidensie in ʼn kort verklaring gesê.

“Die kwessies wat in die petisie geopper word sal op 8 Augustus 2017 in die nasionale vergadering hanteer word.”

Zuma sal op 8 Augustus nog ʼn mosie van wantroue in die parlement trotseer te midde van eindelose berigte van moontlike korrupsie wat verband hou met die welgestelde en omstrede Gupta-familie. Baleka Mbete, speaker van die nasionale vergadering, moet nog besluit of die mosie van wantroue met ʼn geheime stemming beslis sal word of nie. Die DA het die mosie ingedien.

DA-leier Mmusi Maimane het Woensdag gesê die petisie wat hy aan Ramaphosa gegee het, is onderteken deur 1 miljoen Suid-Afrikaners wat daarop aandring dat Zuma afgedank word.

“Vandag het ek die handtekeninge saamgebring van meer as een miljoen Suid-Afrikaners wat presies dit gedoen het. Meer as een miljoen Suid-Afrikaners wat wil hê ons, die lede van die nasionale vergadering, moet ons land eerste stel en Jacob Zuma afdank,” het hy in sy toespraak tydens die oorhandiging gesê.

DA-leier Mmusi Maimane oorhandig een miljoen handtekeninge aan adjunkpresident Cyril Ramaphosa (2 Augustus 2017). Foto: Twitter via @Our_DA

“Ek het dit hier na die trappe van Tuynhuys [in Kaapstad] gebring sodat ek hulle in die hande van die adjunkpresident kan laat. Want as daar enigiemand is wat herinner moet word presies wat gedoen moet word om ons land te red, dan is dit Cyril Ramaphosa. Mnr. Ramaphosa, ek doen vandag ʼn beroep op jou om te doen wat jy weet die regte ding is. Daar is slegs een eerbare en etiese plan van aksie hier. Jy weet dit, ek weet dit en elke liewe Suid-Afrikaner weet dit,” het hy gesê.

“Ons doen ʼn beroep op jou om tydens volgende week se mosie van wantroue te stem om pres. Zuma af te dank. Ons doen ook ʼn beroep op jou om jou posisie as leier van regeringsake te gebruik om ANC-LP’s aan te moedig om in ooreenstemming met hul ampseed te stem en pres. Zuma uit te stem.”

Hy het gesê Suid-Afrikaners soek reguit antwoorde en aanspreeklikheid. Maimane het gesê behalwe vir Ramaphosa se eie verpligtinge teenoor die land, het hy ook ʼn verantwoordelikheid om sy ANC-kollegas aanspreeklik te hou.

“Sommige van hierdie kollegas het hulself onlangs uitgespreek en gesê hulle is van voorneme om met hul gewetes te stem. LP’s soos Makhosi Khoza, Pravin Gordhan en Mondli Gungubele. Maar hierdie mense word gedreig met dissiplinêre stappe, selfs met hul werke. Is dit waarvoor jy ook bang is, mnr. Ramaphosa?” het Maimane gesê.

“Dit blyk indien jy ʼn gewete in die ANC het, is dit klaar met jou. Ons was al sewe keer in die verlede op hierdie punt. En tydens die vorige sewe mosies van wantroue het jy en jou kollegas in die ANC-banke besluit om agter ʼn korrupte president te staan eerder as agter die mense van Suid-Afrika. Hierdie agtste stemming sal waarskynlik die laaste kans wees wat julle het om julself te bewys. As julle versuim om hierdie kans te gebruik, sal julle saam met die ANC sink.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Chris Ws ·

Een miljoen uit 50 miljoen uit?Nee wat Zuma gaan dit aflag.Daars duidelik meer mense vir hom as teen hom!

Michael ·

Wat gebeur as Zuma weier om te bedank hy is nog in beheer van die weermag en sy mkonto pêlle vir wat dit mag werd wees wat as hy Mugabe se voorbeeld volg wat sal die implikasie vir SA wees? Ek het my bedenkinge sou die DA koalisie die volgende verkiesing wen sal die ANC die mag oorgee?

Kiepie ·

Hoeveel stemme het die ANC nou weer gehad in die vorige verkiesing?

Rw ·

Gelukkig het ek my handtekening bygevoeg! As meer mense die regte ding gedoen het, sou die getal nie so klein gewees het nie.
En hoeveel van die miljoene is nie kinders, gevangenes en geestelik gestrem wat nie kon stem?

Saartjie ·

Inderdaad, Rw, inderdaad.

Voortdurend is daar ‘n oproep om aksie deur die Maroela-lesers: ‘Ons moet iets doen!’

Maar wanneer hulle gevra word om ‘n petisie te onderteken of aan ‘n optog deel te neem, dan gebeur daar niks, want ‘dit help tog nie’.

Wat het Edmund Burke nou weer gesê? Twee aanhalings wat hier van toepassing is:
* The only thing necessary for the triumph of evil is for good men to do nothing.
* Nobody made a greater mistake than he who did nothing because he could do only a little.

Cherokee ·

Die DA en hul meelopers het besluit Baleka Mbete se besluit, hetsy in die geheim of nie, sal deur hulle geëer word.

Swartkat ·

Is besig om papier en energie te mors want daar sal niks gebeur nie.

John ·

Mmusi, skynbaar geinspireer deur ‘n sekere leke prediker dat hy glo binnekort die land sal bestuur, doen dalk meer skade deur te glo sy party het skielik in miljoene gegroei. Rhamaphosa is bloot ‘n ANC-totempaal en gewoond daaraan om vernaam bo in groot direksies in te skuif. Die ‘pay’ is goed. Hy ken nie die hardepad van werk en opbou nie en wag bloot op beter dae se nog beter… Slinkse base sorg altyd dat daar nooit opvolgers is wat hul posisie bedreig nie en gebruik diegene onder die tafel wat slaafs uit hul harde hande eet. Wie het mev x-Z se posisie in die AU bevorder, bevestig en selfs dalk gekoop, al het sy voorheen en daarna ‘n trietsige bydrae gelewer? Die Z’e het na haar termyn glo geskitter in hul afwesigheid by byeenkomste. Was dit bloot ‘n plan om die dinastie se status te verhoog en te hervestig… ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.