Ramaphosa ontvang SAID-kommissie se tussentydse verslag

Pres. Cyril Ramaphosa bestuur tans die tussentydse verslag oor die SAID. Foto: ANA

Die tussentydse verslag van die kommissie van ondersoek na belastingadministrasie en -bestuur deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) beveel aan dat pres. Cyril Ramaphosa verseker dat die geskorste kommissaris Tom Monyane onmiddellik van sy amp onthef en ʼn plaasvervanger in sy plek aangestel word.

Dié verslag deur afgetrede regter Robert Nugent is Dinsdag aan die president oorhandig. Volgens die presidensie oorweeg Ramaphosa tans die aanbevelings vervat in die verslag.

“Die president oorweeg die inhoud van die tussentydse verslag en die aanbevelings van die kommissie se voorsitter, [oud]regter Robert Nugent,” het die presidensie in ʼn verklaring gesê. “As deel van die proses het die president ʼn afskrif van die verslag aan die geskorste SAID-kommissaris Tom Moyane gegee.”

Die presidensie sê Ramaphosa het Moyane gevra om enige voorleggings te doen wat hy dalk het oor die tussentydse verslag of die aanbevelings daarin.

Die kommissie het bevind dat die SAID deurgaans ʼn verlies aan doeltreffendheid, betroubare personeellede en buitelandse aansien gely het vandat Moyane vier jaar gelede aangestel is.

“Dis vir die kommissie duidelik dat die SAID wemel van intrige, vrees, wantroue en agterdog,” word in die verslag gesê. “Ons het dit herhaaldelik in getuienis gehoor en het dit ook self teëgekom.

“Die pad van vernuwing wat ʼn dekade lank gevolg is, is summier stopgesit nadat die huidige kommissaris, mnr. Tom Moyane, die amp op 27 September 2014 aanvaar het, en die stelsels gaan agteruit namate tegnologie vorder.”

Volgens die kommissie is 200 bestuursposte geskuif tydens die herstrukturering wat in sy dienstyd plaasgevind het en “het baie van hulle in poste beland wat geen inhoud of selfs posbeskrywing gehad het nie; gevolglik het heelwat bedrewe professionele werknemers vertrek”.

Volgens die verslag het maatreëls om misdaad te bestry in die slag gebly en kon die onwettige handel in onder meer tabak floreer.

“Intussen word die SAID se goeie naam steeds beswadder deur mediaberigte, waarvan baie gegrond is, waarop mnr. Moyane se enigste reaksie was om die media te intimideer met dreigemente van regstappe.”

Die kommissie sê dit lyk nie asof Moyane van plan is om met hulle saam te werk of verslag te doen oor gebeure tydens sy dienstyd nie. “Dis nie die karakter van iemand wat geskik is om ʼn lewensbelangrike openbare instelling te lei nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Stefaans ·

Ek glo hy “bestuur” tans die tussentydse verslag, soos hy ander goed die afgrond in bestuur.

Hannetjie ·

Ja weg met hom…hy kry steeds vet salaris…weet nie hoekom die president nog talm nie.Dis duidelik hy nie van plan is om samewerking te gee nie

Anoniem ·

Alle oë op die Prez om te sien of hy gaan kies om die regte ding gaan doen.

Hier het die Prez ‘n goue geleentheid om korrupsie uit te roei, soos wat hy tevore braaf belowe het.

Ek hoop dat Ramaphosa regter Nugent se raad gaan volg en Monyane summier sal ontslaan. Géén goue handdruk!!! Wens eintlik daar kon beslag gelê word op Monyane se pensioen en volle salaris verdien in die tydperk by SAID om te help herstel aan die skade wat hy aangerig het.

Tammy ·

Met al die inligting wat reeds versamel is en die getuienis van werknemers hoort hy mos toegesluit te word of is die ministerie bang???? mens weet nooit wat nog op die lappe kan kom as so n drastiese stap geneem word nie. Wie et Monyane aangestel? Daardie persoon het dit so duidelik met n doel gedoen en kan maar solank saam met hom agter tralies gaan sit tot hulle besluit om met die hele storie uit te kom.

waarheid ·

Hy is te siek om dit te bestudeer oor die volgende redes:

Hy is siek sodat hy nog leuens kan uitdink of hy kan nie die mense face nie oor die leuens wat hy vertel het oor plaasmoorde en hy weet die wereld is besig om kennis te neem.
Hy is besig om face te verloor – en hy weet dit.
So wanneer hy die verslag gaan bestudeer moet ons mar eers sien,.

Thinus Erasmus ·

Dit is nie vir enige lid van die ANC, nie eers president beskore om teen die wil of beleid van die ANC op te tree nie: Tom Moyane sal hoog vereer word en vroee maar aansienlike pensioen aanvaar,. of laat ek dit so stel, hy sal dit selfs versoek en sie daar, almal is HAPPY.
As ek verkeerd is en daar teen hom opgetree word, sal ek my spreekwoordelike hoed eet.
Die arme oud regter sal egter nie so goed daarvan afkom nie, ek hoop hom alle sterkte toe: Give that man a Bells!

Landi ·

Hy moet tronk toe. Nes enige ou wat nie belasting betaal nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.