Ramaphosa oor Springbokke, Eskom en landbou

Die Springbokke na hul wedstryd teen Japan op 6 September. Foto: (AP Photo/Shuji Kajiyama)

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag die vrae-en-antwoordsessie in die parlement begin deur die Springbok-rugbyspan sterkte toe te wens vir sy wedstryd Saterdag teen Engeland. In ʼn verklaring Donderdag het die presidensie gesê Angie Motshekga, minister van Basiese Onderwys, sal as tussentydse president optree terwyl Ramaphosa in Japan is. Dit is omdat die adjunk-president David Mabuza ook tans in die buiteland is.

“Ek sal kort ná hierdie sessie by die Bokke in Japan aansluit,” het Ramaphosa gesê. Hy het Suid-Afrikaners ook gevra om Vrydag hul Springboktruie aan te trek en omstreeks 13:00 hul motors se toeters te blaas ter ondersteuning van die Springbokke. “Ons weet die Bokke sal hul harte uitspeel en die Web Ellis-trofee huis toe bring,” het Ramaphosa gesê.

Argieffoto: GCIS

Oor Eskom het Ramaphosa gesê dit is nodig om die kragvoorsiener telkens te finansier omdat die ekonomie sal ineenstort as Eskom ondergaan. “Eskom se finansiële posisie en die feit dat ons vanjaar R53 miljard minder belasting as vorige jare ingevorder het, het veroorsaak dat ons geld van ander departemente soos gesondheid en onderwys moes wegvat,” het hy gesê. Hy sê omdat graderingsmaatskappye dreig om Suid-Afrika af te gradeer na rommelstatus is dit moeilik en duur om geld te leen, daarom moet geld herprioritiseer word. Hy sê planne is reeds onderweg om die energiesektor meer effektief en kompeterend te maak.

Op ʼn vraag oor wat die regering doen om boere te ondersteun te midde van die droogte en beleidsonsekerheid, het Ramaphosa gesê die minister van landbou en grondsake, Thoko Didiza, is besig om programme te ontwikkel om boere te ondersteun in tye van droogte en ook om swart boere te bemagtig en aan hulle die nodige hulpbronne te verskaf. “Ons besef dat die landbousektor belangrik is en wil voortgaan om kos te produseer en uit te voer,” sê Ramaphosa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

JV ·

53 miljard minder belasting? Laat al die derduisende taxi’s en die miljoene straat stalletjies belasting betaal, dan kry jy sommer 10 keer daardie bedrag.

Sophia ·

Hoekom word daar genoem programme word ontwikkel om boere te ondersteun en swart boere te bemagtig. So beteken dit programme word ontwikkel om alle boere te ondersteun maar net swart boere word bemagtig?

INA ·

Ek glò niè Pres. Ramaphosa het nodig om staatsgeld te gebruik om na die wedstryd te gaan kyk nie… Hy het genoég geld van sy eie…

Johan ·

Kan nou regtig nie minder omgee wat ramaphosa te sê het nie…

KO ·

Geniet die verlof meneer die president, jy het hard gewerk die laaste paar dae.
Jy verdien dit.

Johan ·

@KO,jys seker Roelf Meyer,hy weet nie wats n dag se werk nie.Alles verniet gekry,soos Trolip se,hys bemagtig,toe weer bemagtig,en toe weer 100 keer oor bemagtig…..

Willehond ·

En nog blah blah blah!! N kat op n warm sinkdak maak snaakse spronge! Ons weet almal wat gaan gebeur behalwe jy!!

Gert van Wierdapark ·

Daarmee duik die Bokke se kans om die trofee huis toe the bring, in die hek. Enige iets waarby die a en see betrokke raak loop op n flater uit!!

Basjan ·

Ramaposa gaan NIE om die Bokke te ondersteun NIE. Hy gaan sodat hy in die kollig kan stel as die Bokke die Wêreldbeker omhoog hou. Hy was doodstil in die aanloop van die wêreldbeker, maar toe hy sien dat die Bokke kan wen, spring hy gou op die “bandwagon”. Slim taktiek.

netso ·

Presies wat ek ook gedink het. Het hom nog nooit iets positiefs hoor se oor rugby nie. Al wat ons die heeltyd hoor is kwota spelers……….

Jiem ·

Ek stem saam Basjan. Hierdie is net aandag soek,niks anders nie. Ek hoop nie hy maak sy naam verder krater deur ook n nr .6 springboktrui aan te trek soos Mandela destyds nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.