Ramaphosa paai grondonteiening-skeptici

Cyril Ramaphosa

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Cyril Ramaphosa, die nuutverkose president van die ANC, het in sy eerste toespraak as ANC-president tydens die afsluiting van die ANC se 54ste konferensie vir afgevaardigdes gesê dat grondonteiening sonder vergoeding geïmplementeer sal word, maar op ʼn manier wat nie die ekonomie sal skade aandoen nie.

“Hierdie konferensie het met oorweldigende en eenparige saamstemming besluit dat onteiening sonder vergoeding een van die meganismes moet wees wat aan die regering beskikbaar gestel word om grondhervorming en die herverdeling van grond teweeg te bring,” het Ramaphosa gesê.

Ramaphosa het, oënskynlik in ʼn poging om diegene wat bang is vir grondgrype te paai, benadruk dat grondhervorming nie gedoen sal word op ʼn wyse wat die ekonomie, landbouproduksie of voedselsekuriteit sal bedreig nie.

“Die ANC het altyd moeite gedoen om die ekonomie op ʼn wyse te bestuur wat die belange van ons mense sal bevorder,” het Ramaphosa gesê.

“Daar was swakhede van tyd tot tyd, maar in die geheel het ons sedert 1994 met moeite na die baie gesofistikeerde en komplekse ekonomie van Suid-Afrika omgesien. Selfs met hierdie besluit wat ons gaan maak om te verseker dat dit geïmplementeer word, sal ons die implementering bestuur om die belange van ons mense as geheel te weerspieël.”

Maroela Media het vroeër berig Enoch Godongwana, voorsitter van die ANC se subkomitee oor sosio-ekonomiese transformasie, het gesê die ANC het gesê hulle sal voortgaan om wysigings aan Artikel 25 van die grondwet aan te bring wat die onteiening van grond sonder vergoeding sal bewerkstellig.

Godongwana het toegegee dat gemoedere hoog geloop het tydens die debat oor dié kwessie deur afgevaardigdes.

Hy het gesê sekere voorwaardes word aan dié besluit, wat tydens die party se beleidskonferensie in Junie geneem is, gekoppel. Volgens hom sal dié wat grond onwettig bekom het geen vergoeding ontvang nie. Dié resolusie stel dit ook dat geen onwettige besetting van grond geduld sal word nie.

Godongwana het gesê dié resolusie sal vroeg volgende jaar met belanghebbendes, wat nieregeringsorganisasies asook regskenners insluit, vergader.

Die twee hoofargumente wat gevoer word, is eerstens dat wit mense selfs 23 jaar ná apartheid steeds die meeste van Suid-Afrika se grond besit en die afwesigheid van grond die land se swart mense verarm en demoraliseer.

Die teenargument is dat onteiening sonder vergoeding beleggingsonttrekking in die land, wat reeds moeilike ekonomiese tye ervaar, tot gevolg kan hê.

Godongwana het Woensdagaand tydens ʼn onderhoud op ANN7 gesê die moontlikheid dat die ANC saam met ander partye kan werk om die grondwet te wysig word nie uitgesluit nie. Hy het gesê die nuwe nasionale uitvoerende komitee (NUK) sal bepaal hoe die wysiging geïmplementeer sal word.

“Kom ons neem aan die NUK sê ons moet dit in Februarie inisieer – ten spyte daarvan dat ons nie tweederdes meerderheid het nie, is daar niks wat ons keer om met ander partye wat dieselfde as ons dink en dieselfde doelwitte het saam te werk nie.”

Die ANC in die parlement het nie ʼn tweederde meerderheid nie en dit is dus noodsaaklik dat ander party saam met hulle sal stem om ʼn wysiging in nasionale wetgewing te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Koos1 ·

D.W.S die ANC en EFF gaan saam werk. Koebaai DA/EFF koalisie!

Jordaan ·

Ja, Cyril – die paddas moet tog nie agterkom die water raak nou warm nie, so paai maar. Ongelukkig vir jou weet mense jy is net ‘n marionet wat steeds aan die ANC se nukke en grille moet voldoen, anders “fire” hulle jou, so hierdie leser is een wat geen, maar geen, geloofwaardigheid aan enige ANC politikus se uitsprake heg nie.

Dirk Niemand ·

Ek wonder wie is soos paddas in warm water. Soek jier doek daar vir koalisies om hulself uit die warmwater te kry. Net weer ‘n klinkklare bewys van geen visie en insig nie. Jammer Cyril jy is toe netso visieloos soos jou makkers.

Chilli ·

Snaaks genoeg, my oorlede Ouers het hierdie goed voorspel toe daar nog net sprake was van Mandela se vrylating. So niks is nuus nie, laat hul gryp en vat wat hulle wil. Dit gaan in elke geval gebeur en die witmense is by verre die minderheid, so terug baklei is onrealisties. Ons land klink vir my veel eerder kommunisties as demokraties maar wat, ek bly net hier, my hart is al 23jaar nie meer die hart van n Suid Afrikaner nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.