Ramaphosa praat in VSA oor planne vir SA ekonomie

Pres. Cyril Ramaphosa lewer die David Rockefeller-gedenklesing by die Council on Foreign Relations in New York (24 September 2018). Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Nadat pres. Cyril Ramaphosa se langverwagte stimuluspakket vir die ekonomie die afgelope naweek gemengde reaksie ontlok het, het hy in New York verder uitgebrei oor dié plan.

Ramaphosa het Maandagaand die David Rockefeller-gedenklesing by die Council on Foreign Relations gelewer.

Ramaphosa het gesê toe die ANC aan bewind gekom het, moes die party die ekonomie só begin bestuur dat dit getransformeer kon word. Hy het gesê die ekonomie moet die belange van alle Suid-Afrikaners dien en dat swart mense moet voel hulle is deelnemers aan die ekonomie. Hulle moet ook leierskap- en bestuursrolle kan inneem.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie is weer in ʼn resessie gedompel, en Ramaphosa het gesê daar moes vorendag gekom word met innoverende planne om die situasie om te keer.

Hy het in antwoord op ʼn vraag van gespreksleier Roger Altman gesê infrastruktuur gaan ingespan word as een van die ekonomie se groot drywers. ʼn Fonds gaan ook op die been gebring word om 400 miljard rand in die ekonomie te pomp. Dit gaan hopelik lei tot groter besteding deur gewone Suid-Afrikaners, wat weer moet lei tot verhoogde vervaardiging en meer uitvoere.

Ramaphosa het gesê die swak rand is een van Suid-Afrika se groot ekonomiese tameletjies en dat die styging in die olieprys die land se ekonomie onder selfs groter druk sit.

Die president moes op ʼn vraag oor korrupsie toegee dat die land die afgelope paar jaar daar onder gesteier het. Hy het gesê korrupsie het staatsbeheerde ondernemings en ander regeringsinstellings binnegesypel en dat onsekerheid oor beleid boonop beleggersvertroue in die land heelwat skade berokken het. ʼn Deel van die stimulusplan is dus om staatsbeheerde ondernemings, wat nagenoeg 30% van die ekonomie beslaan, reg te ruk.

Ramaphosa het gesê korrupsie is egter nie beperk tot die staatsdiens nie, en dat dié skoonmaakoperasie ook die private sektor insluit.

“’n Hele aantal internasionale maatskappye was aandadig aan die korrupsie wat in verskeie van ons staatsbeheerde ondernemings gevind is en sommige van hulle was betrokke in enorme skandale wat gelei het tot die verlies van miljarde rand,” het Ramaphosa gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa lewer die David Rockefeller-gedenklesing by die Council on Foreign Relations in New York (24 September 2018). Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Oor die ANC, wat die afgelope paar jaar dikwels onder fel kritiek deurgeloop het, het Ramaphosa gesê die party het besef hy moet vernuwe. “(Die ANC) moet verenig, maar moet homself ook reinig van korrupte bedrywighede – binne die party, sowel as in die regering wat ons lei,” het hy gesê.

Ramaphosa het tot groot vermaak van die gehoor gesê die ANC kry weer sy mojo terug.

“Die ANC kry weer vatplek en ek is vol vertroue dat die party die volgende verkiesing – wat volgende jaar, voor Mei 2019, gehou gaan word – redelik maklik gaan wen. Ons gaan die verkiesing verfris en verenig binne en ons voel veel sterker as in die verlede.

“Die ANC kry dus sy mojo terug, as jy dit só kan noem, hy kry sy krag terug. En hy is opnuut daartoe verbind om die mense van Suid-Afrika te dien.”

In reaksie op ʼn vraag oor Chinese invloed in Suid-Afrika het Ramaphosa gesê Suid-Afrika is die kleinste van die lande wat die Brics-groepering (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) uitmaak, maar dat hy as gelyke vennoot behandel word. Hy sê China wil bydra tot Suid-Afrika se groei, maar dat die land uiteraard ook met Suid-Afrika wil handel dryf.

“Hulle wil hul goedere in Afrika versprei. En terwyl hulle dit doen moet ons, as Afrika-lande, China só behandel dat ons gelykes is,” het Ramaphosa gesê.

Hy het gesê Afrika doen terselfdertyd ook sake met heelparty ánder lande. “Wanneer Afrika, as ʼn groeiende vasteland, handel dryf met sy vennote, moet hy ook sy eie belange bevorder. Maar hy moet dié belange bevorder sonder om sy eie soewereiniteit prys te gee.”

Ramaphosa het gesê Suid-Afrika is omsigtig wanneer hy sake doen met ander lande, maar as ʼn ooreenkoms kan lei tot vooruitgang en ontwikkeling – en as die land op gelyke voet kan meeding – is hy bereid om met dié lande sake te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Paul ·

Cyril, kom eerder terug na die land en sorteer eers die misdaad uit, daar is ‘n sewejarige wat in die Dros verkrag is, daar word boere vermoor, die land het dringend ingryping nodig.

Snowball ·

Korrupsie het Staatsbeheerde instansies ingesypel? Wil jy nou meer! Nee man, dit het ingedartel, op uitnodiging, sonder teenstand, alles deutrek met die naarte van verotting en sit nou vasgevang in elke vesel van ons samelewing soos die bedompige stank in ongure naghole. Insypel, klink so onskuldig. Ekonomies met die waarheid, dié is julle!!

Adrian ·

Ja ja ja cyral maar intussen gaan diefstal en bedrog steeds voort en skelm soos sipra en ace wat se vingers laaaaaank is nog steeds in jou kabinet …. ne wat cyril jy is useless nou probeer jy oorsee kluitjies bak. Hulle sien deur jou en jou anc regering … so… vergeet van beleggings

Ja Nee ·

CR doen alweer lippediens, die anc het nog net als ten gronde transformeer. In vergelyking met die buiteland het ons nie meer n ekonomie nie. Ek wonder of cyril ook dink die buiteland is so dig soos SA. Sooooo moeg vir lee beloftes.!!!!!!

PJ ·

Ou ramapromise moenie vir hom so onskuldig hou oor die korrupsie nie hy net so skuldig hy was dan onder president en hoeveel keer was daar n mosie van wantroue in zuma maar hy was so stil soos die graf

Dien ·

“CR verbind om sy mense in SA te dien”, hy bedoel seker “our people” te dien,nie die res van die inwoners in SA. Baie slinks

Pierre Roux ·

CR dink jy waaragtig die VSA se regse regering glo jou. Jou liberale maatjies in die VSA se dae is getel en het nie meer die vermoë om jou twak toe te smeer nie. Die wêreld se oë is besig om oop te gaan.

Pietman ·

Oënskynlik blyk dit dat CR en ANC NEC in totale ontkenning van bestaande realiteite is indien dit aan hulle toesprake/uitsprake geoordeel word met die gevolg dat min of geen planne tans en in die toekoms die verlangde resultate sal meebring nie. Besef hulle wat in die OG se verslae staan – dat bitter min munisipaliteite op \n bevoegde manier bestuur word? Dan verwag hy dat ekonomiese stimulus pakette nou skielik suksesvol deur dieselfde onbevoegde bestuur deurgevoer moet word? Niks sal verander of verbeter tot die dag dat slegs meriete as basis vir aanstellings gebruik word nie. Ek hoop CR het rede om optimisties te wees.

NOU TOE NOU ·

Cyril , Waar is die luide uitsprake van “Expropriation without Compensation”?
In sy toespraak is daar geen sprake van hierdie beleid nie. Al wat hy sê is dat Suid Afrika die grond kwessie op ‘n Suid Afrikaanse manier sal oplos.
Kan niemand hom direk daaroor vra oor “Expropriation without compensation” voor almal teenwoordig?

Herman Goosen ·

Ja, noudat ons almal gelyk is sit ons met ‘n derde wereld ekonomie. SA is die kleinste van die BRICS lande. Die een saam met Brasilie wat die geld leen en die ander lag letterlik al die pad bank toe terwyl hulle nog hulle lae gehalte gemors produkte ook hier kan afsmeer omdat Europa nie daarin belangstel nie. Afrika se idee van “Ekonomiese vooruitgang”. Geen wonder die vasteland is ‘n reuse hool van ekonomiese wanprestasie nie. Ons skud blik by die witmenese en verkoop die minerale en hulpbronne aan die kommuniste en die inkomste verdwyn in korrupte regeringsamptenare se konsultasie besighede en aandeelhouding in tender maatskappye.

Johann M van Heerden ·

CR was deel van die ANC regering en het niks gedoen om korrupsie te keer nie. Wat was sy stem in die moes van wantroue teen Zuma? Waar was hy toe Ek vertrou hom nie. Enigiemand wat hom vertrou is naief.

Johanna Botha ·

Atyd n plan en n atwoord ! …watter een van die menigte anc planne het al gewerk ….noem asb een behalwe staatskaping ? Kom net terug en sorteer jou mense uit wat so korrup is …. GEEN plan gaan werk met onkundige korrupte mense soos die anc wat in beheer is en veral met 57 moorde n dag !

adriana ·

Ek sou graag vir Lakota of Steve daar op die podium wou sien – dan het jy nou ‘n storie gesien!

President Trump ·

President Trump, se asb tog net jy glo nie vir cyril nie?!!

Willie ·

Hy beledig Trump en nou praat hy daar alle slim praatjies? Geen skaamte nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.