Ramaphosa raak van sakebelange ontslae

Pres. Jacob Zuma en adjunkpresident Cyril Ramaphosa Foto: GCIS/SAPA

Pres. Jacob Zuma en adjunkpresident Cyril Ramaphosa Foto: GCIS/SAPA

President Jacob Zuma het ingestem om die tydperk wat adjunkpresident Cyril Ramaphosa benodig om van sy sakebelange afstand te doen, te verleng.

“Die president het op versoek van die adjunkpresident reageer,” het Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, Vrydag gesê. Ramaphosa moet ontslae raak van enige finansiële of sakebelange wat moontlik tot ʼn botsing van belange kan lei wanneer hy sy pligte uitvoer. Ramaphosa kan sy sakebelange ook onder bestuur plaas van ʼn onafhanklike persoon of professionele agentskap.

Zuma het die periode, effektief vanaf 25 Julie 2014, met vier maande verleng om Ramaphosa die geleentheid te bied om aan die Uitvoerende Gedragskode te voldoen.

Nadat Ramaphosa in 2012 by die ANC se Mangaung-konferensie tot adjunkpresident van die party aangewys is, is ʼn aankondiging in Januarie 2013 gemaak dat hy sal bedank uit sy onderskeie posisies by die mynmaatskappy Lonmin en verpakkingsmaatskappy Mondi. Ramaphosa was ʼn nie-uitvoerende raadslid by Lonmin en gesamentlike voorsitter by Mondi Bpk en Mondi Plc.

Ramaphosa het op 26 Mei ʼn transaksie aangekondig wat tot sy “algehele disinvestering” van die Shanduka Groep sou lei. Hy het die groep in 2001 gestig. Shanduka belê in ʼn portefeulje van genoteerde en ongenoteerde maatskappye en het aandele in die hulpbronne-, kos- en drankbedryf. Die groep belê ook in die finansiële dienste-, energie-, telekommunikasie- en eiendomsbedryf. Die groep het beleggings in Suid-Afrika, Mosambiek, Mauritius, Ghana en Nigerië.

Ramaphosa het in daardie stadium gesê hy sal steeds by die Shanduka-stigting betrokke wees, ʼn nie-winsgewende organisasie wat hom toespits op skoolontwikkeling, vaardigheidsontwikkeling en entrepreneursontwikkeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.