Ramaphosa reageer ná debat oor staatsrede

Pres. Cyril Ramaphosa tydens sy repliek op die debat oor sy staatsrede (20 Februarie 2018) Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Grondhervorming

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdag die land se burgers gemaan om die beplande grondhervorming te beskou as ʼn geleentheid om “wonde te genees en nie as ʼn bedreiging vir hulle of hul eiendom nie”.

“Ons moet dit beskou as ʼn geleentheid en nie ʼn dreigement nie,” het Ramaphosa gesê tydens sy repliek op die debat op sy staatsrede waar verskeie LP’s argumente ten gunste van en teen grondonteiening sonder vergoeding gelewer het.

“Ons moet dit beskou as iets wat ons almal kan bevry van die bitterheid en pyn maar ons die geleentheid bied om vorentoe te beweeg na die wonderlike geleenthede wat die land inhou.”

Ramaphosa, wat Dinsdagoggend van Gugulethu na Athlone gestap het as deel van ʼn veldtog om ʼn gesonde leefstyl onder Suid-Afrikaners aan te moedig, het Kapenaar Cedric Alberts ontmoet. “Ek het vanoggend ʼn man ontmoet toe ek van Gugulethu na Athlone gestap het. Hy is 73 jaar oud. Hy het gesê hy en sy gesin is uit Distrik Ses verskuif en sy huis is verwoes. Tot vandag toe het hy nie ʼn huis nie, hy moet huur. Hy het gesê hy het alles verloor wat hy gehad het. Dit is ʼn pyn wat aangespreek moet word. Dit is verdeling wat genees moet word.”

Ramaphosa het gesê dis ʼn pyn wat talle Suid-Afrikaners nie kan of wil vergeet nie.

“Hy het al sy waardigheid verloor. Wat moet ons vir hom sê? Sy storie is ʼn duidelike voorbeeld van die pyn en skade wat deur die voormalige leiers van die land veroorsaak is. Die onteiening van grond sonder vergoeding is een van die maatreëls wat ons sal gebruik om die verspreiding van grond aan swart Suid-Afrikaners te bespoedig.”

Die president het benadruk dat grondonteiening sonder vergoeding sal plaasvind op só manier dat werk, landbouvervaardiging en die ekonomie beskerm word.

Op ʼn retoriese vraag van Mosiuoa Lekota, leier van die Congress of the People (Cope), oor hoe die regering sal bepaal wie “ons mense” is, teenoor die res van wie grond afgeneem sal word, het Ramaphosa na arm Suid-Afrikaners verwys. Hy het verwys na die haweloses wat op sypaadjies slaap buite die parlement en ander wat hul werk verloor het. “Dit is ons mense.”

Nuwe nasionale eenheid

Ramaphosa het ook ʼn beroep gedoen op nasionale eenheid om die ekonomie te laat herleef en die las van Suid-Afrika se armes te verlig.

“Een ding wat ons sal verenig, is om die belang van ons mense te bevorder,” het hy gesê. Hy het alle partye wat in die parlement verteenwoordig word, gemaan om saam te werk om die swak ekonomie, armoede en werkloosheid te takel.

“Daar sal groot debatte hieroor wees, maar ek benadruk dat ons moet saamstaan om hierdie doelwit van ʼn ontwikkelende staat en inklusiewe ekonomie te ondersteun.”

Hy het kritiek van opposisiepartye, dat hy verlede week se staatsrede gebruik het om talle berade aan te kondig, verwerp. Die opposisiepartye het aangedui dat dié berade, insluitend een oor werkskepping, aangekondig is omdat Ramaphosa nie ʼn duidelike plan het hoe om die land te bestuur ná Jacob Zuma gedwing is om te bedank nie.

Ramaphosa het aangedui het hy ʼn bloudruk in die vorm van die Nasionale Ontwikkelingsplan en gesê dis ʼn demokratiese tradisie in Suid-Afrika om ʼn groter dialoog te hê oor elke kwessie wat van kritieke belang is.

Hy het gesê daar was byna 2 miljoen bydraes van die publiek toe die Grondwet twee dekades gelede opgestel is. “Dis hoe ons mense betrokke wil wees.”

Berou oor Marikana

Hy het ook beskuldigings, dat hy gedeeltelik verantwoordelik is vir die afsterwe van stakende myners tydens ʼn skietery by Marikana vyf jaar gelede, direk aangespreek. Hy het gesê hy sal alles in sy vermoë doen om te vergoed daarvoor.

“Ek is vasberade om alles in my vermoë te doen en ek word gelei deur die wense van die gemeenskap.”

Dit is die eerste keer dat Ramaphosa die kwessie in die parlement aangeroer het, alhoewel hy al vantevore in die publiek om verskoning gevra het. Die Farlam-kommissie van Ondersoek het hom skerp veroordeel vir sy rol in die slagting.

Hy was nie-uitvoerende direkteur by Lonmin se platinummyne tydens die uitgerekte staking. Hy het ʼn reeks e-posse geskryf waar hy sterk optrede versoek het. Ramaphosa het in ʼn e-pos tussen Lonmin en staatsamptenare, die aand voor die slagting, die geweld by die staking as “lafhartige kriminele dade” beskryf en gesê dit moet ook só hanteer word.

Hy het later verduidelik hy het dié e-pos geskryf in die lig van 10 mense wat reeds tydens die staking dood is en hy wou verdere bloedvergieting voorkom.

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het Ramaphosa reeds herhaaldelik veroordeel vir sy optrede tydens die staking. Die party meen hy het bloed op sy hande.

Leefstyloudits op staatsamptenare

Toetse om te bepaal of die leefstyl van politici en staatsamptenare met hul inkomste ooreenstem, sal binnekort algemene praktyk wees, het Ramaphosa bygevoeg. Hy het gesê die oudits sal met homself en lede van die kabinet begin.

“As daar enigiets is wat talle Suid-Afrikaners graag wil sien gebeur, is dat daar leefstyloudits gedoen word op hul verteenwoordigers. Dit is iets wat ons sal doen en dit sal by die uitvoerende raad begin. Polisiehoës sal ook leefstyloudits ondergaan.”

Die ANC het in 2016 gesê leefstyloudits sal gedoen word op ministers, staatsamptenare en diegene wat verantwoordelik is vir openbare ondernemings om bewerings aan te roer dat die regering versuim om op te tree teen diegene wat van korrupsie beskuldig word. Daar was sedertdien nog nie enige teken of ʼn enkele oudit gedoen is nie.

Ramaphosa het ook reageer op versoeke uit die opposisie dat hy verskeie lede van die kabinet moet afdank wat hy van sy voorganger, Jacob Zuma, oorgeërf het. Verskeie kabinetslede word geïmpliseer dat hulle staatshulpbronne geplunder het.

Die president het gesê indien daar ʼn kabinetskommeling is, sal dit nie in opdrag van die opposisie geskied nie. “ʼn Aankondiging sal op ʼn behoorlike tydstip gemaak word, so kom ons loop nie die pad vooruit nie. Die kwessie sal aangeroer word en ek kan julle verseker dat wanneer dit aangeroer word, sal dit baie versigtig geskied sonder enige inmenging wat ek hier aan my linkerkant hoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

45 Kommentare

VF+ ·

Hoekom nou die beledigings niemand wen in die sitsiasie nie ,Johan ll en anc vat hande en bou hierdie mooi land op wat verval het tot n piesang republiek julle sal miskien nie die resulate beleef nie maar julle nageslagte wel.

Gerhard ·

Enige persoon wat die verdelende “regstelende” aksie in hierdie tye nog ondersteun is in beginsel ‘n rassis. Punt

m ·

EK stem saam jou ANC, Johan is net bitter omdat Ramaphosa die land wil help en nie net vir hom nie.

ANC ·

Amen daarvoor. Kom ons beweeg vorentoe, dat ONS land kan groei. Dis joune, en myne. En Mnr Cyril is die man vir die job. Gee hom tyd, hy kani swakker as Zuma wees nie…

Werner ·

Weet nie hoe hy almal gelyk gaan gelukkig hou nie iemand gaan tenagekom word wed dis die blankes

Schalk ·

Dis ao ongrotwetlik op elke vlak om mense se grond te vat sonder vergoeding.. as die wet nou toetree wats die kans di wet sal misbruik word.. en wat van die toekoms die president na ramaphosa dalk meer rasis en radikaal wie se die nuwe president na ramaphosa sal ni grond gryp en amok maak ni.. daar is niks regverdig in die wet wat hul wil inkry ni.. dis heeltemal teen enige grondwet..

WG ·

Dit is hoekom hulle die grondwet gaan verander want dan is dit wettig. In vorige kommunistiese revolusies (bv. Romenie) is burgerlikkes se huise gekonfiskeer en aan party lede uitgedeel. Dit is die einde van die pad waarop ons is

M A ·

Nou ja, ek het nog nooit ANC gestem nie en is nie juis oortuig om nou te begin nie. Ek het wel DA gestem maar sal nooit weer nie. Die kleinlike uitlatings en die Zille, de Lille sagas sit my vreeslik af. Sal maar leer COPE, wat.

Chrisjan ·

Same old, same old! Nog n Afrika-leier en sy slim planne … gaap zzzzz

Ben Niemand ·

Hierdie Grondhervorming se plan klink soos iets wat in La-La Land opgestel word.

Johanna Botha ·

Wel die mense wat sogenaamd die grond gevat het is al laankal dood …so wat dan gemaak met die geslagte wat daarna dit weer gekoop het ? En nou wil jy weer dieselfde doen deur net weer by hulle die grond te neem ….maak nie sin nie ! Die mense soek nie die grond nie hulle soek in meeste gevalle die GELD ….HALLOOO ! !

Ekke ·

Soek net Veiligheid vir almal in SA .bring betreeding terug .wet en orde terug ..almal het die reg om veilig te voel .waar hul ook al bly .ASB Rhamaphosa

Knapzak ·

Ek se nogsteeds ek het meer as net hoop vir SA met hierdie man aan die stuur.Hy LUISTER….loop tussen ons mense…as daar een ding is wat ek wil by hom uitbring …en hoe gouer hoe beter…gee hand met hierdie plaasmoorde en alle ander misdade wat op die oomblik floreer in hierdie gebroke land van ons…lend a hand ….en nou hoor ek doodstraf klanke…neem kennis …dit sal nie gebeur nie…gee die SAP die mag om hulle openlik te jag…ons is een…laat ons een bly. Viva RAMKAT RAMAPHOSA

WG ·

As hulle die plase vat sal daar mos nie meer plaasmoorde wees nie?

Bert ·

“Grondhervorming is nie ‘n bedreiging vir jou eiendom nie’. So grondonteining sonder vergoeding is nie ‘n bedreiging vir jou eiendom nie. Praat die man in raaisels?

Pietman ·

Jy slaan die spyker op sy kop!

Ramaphosa is besig om verwagtinge te skep waarvan hy nie later sal kan afstand doen nie. Die massas het nou bloed geruik en hulle sal nie tevrede wees voordat hulle nie hul pond vleis gekry het nie.

Die twee kante van Ramaphosa se vergelyking balanseer nie uit nie. Hoe langer hy aanhou met hierdie gevaarlike woordspeletjies hoe meer swaarigheid vir grondeienaars in die toekoms.

Andre ·

Stem 100%. Ek dink nie Ramaphosa en kie verstaan watse perd hul besig is om op te saal nie. Alhoewel die regering dalk daadwerklik ‘n plan het om die grondkwessie diplomaties te benader, INTERPRETEER die massas dit heel anders – hul slyp hul tande vir gratis grond en indien dit nie gaan geskied soos hul dit wil he, gaan daar opstand en anargie wees. Maar natuurlik MOET Ramaphosa nou beloftes maak met die hoop dat die wat oorgeloop het ander partye toe weens ontevredenheid met die Zuma-brigade, nou weer sal terugkom en ANC stem in 2019… CR se aanstelling was verseker nie per toeval, maar strategies om ‘n groeiende DA en opposisie af te weer…

Wat gemaak ·

Ek weet dat wat ek hier gaan sê, gaan nie ‘ duit verskil maak aan CR se besluit op grond onteining nie. Maar ek sal graag wil weet wat word van al die staatsgrond langs ons paaie wat onbewerk lê of niemandsland soos daar ook van gepraat word. Kan dit nie vir die mense gegee word nie. Hoekom wil hulle ons grond hê wat reeds bewerk is. Sekerlik is daar genoeg ander grond en kan daar nog malls gebou word as hulle dit wil hê. Hoekom tussen ons indring.

Deon ·

Hoe op aarde kan ons grond gevat word? Elke eiendom is dan mos in gedrang. Hoekom sal net plase gevat word??
Ramaphosa het eintlik niks gesê nie!!! Hy bedrieg ons!!

Al ·

CR is onder geweldige druk met grondonteiening onder die populiste in die ANC en EFF.
Ons sal maar moet wag en sien hoe hy hierdie kaart gaan speel.

Elsie ·

Wat van jy skenk AL jou grond eerste vir die man van distrik 6

Dafer ·

Ek wil benadruk dat ek die volgende eis al voorheen gemaak het. Ek wil die N1 vanaf Kaapstad tot by Beitbrug he met al die brue wat daarmee gepaard gaan. Ek is wit en werkloos al vir agt jaar, dus tans agter gelaat. Daai pad is myne!

ANC ·

Grond is destyds gevat, links en regs uitgedeel aan blankes. Die man van distrik 6 is n lewende voorbeeld van die hartseer van die verlede. Time to take back. Jammer, maar beurt is beurt

Uvonka ·

Ag regtig? Jy was seker daar toe grond links en regs uitgedeel is. Soos jy weet, alles wat jy of enige ander mens besit moes ons koop, niks for free nie. Die man het ‘n woonplek gehad wat verwoes was, moet ons nou daarvoor verantwoordelik gehou word mmmmm? Die feit dat hy nou haweloos is, is die regering se skuld met hulle beloftes van behuising wat nooit gebeur het nie. Die problem hier is, dit is so maklik om ander te blameer vir die klomp mislukkings in ons land.

KykWeer ·

Opportunistiese en gladdebek politici wat net aanhou-en-aanhou LIEG. Nou gaan nóg meer (hoogs-gekwalifiseerde) mense die land verlaat.

Stefaans ·

Die Distrik Ses storie is al holrug gery. Niemand is op straat uitgesit nie. Ons vergeet baie gou – tydens Verwoerd se era is baie duisende hektaar grond van boere, wat dit 3 geslagte of langer besit het, teen belaglike pryse onteien en aan swartmense in die selfregerende state toegeken. Baie van daardie boere kon nooit weer boer nie en het in die stede weggekwyn. Cyril weet nie van hulle pyn nie. Met al die grond tot hul beskikking het die selfregerende state klaaglik misluk, ondanks alle vorms van ondersteuning van die staat. Wat laat die ANC dink dat swartmense nou skielik suksesvolle boere sal word as hulle grond gratis ontvang?

Rupert Ashford ·

Klink soos die ses wolwe en een skaap wat praat oor aandete, en almal moet die gesprek sien as iets opbouend waaruit almal kan wen…borrel-borrel klink die water rondom my. Swem paddatjie, swem…sug.

Nie-bevoordeelde Afrikaan ·

En so gaan ek nou ook my werk opgee, op die sypaadjie slaap en dan aandring op n huis. Dit is tog die kriteria. Alle landsburgers wat werk vir dit wat hulle besit is duidelik nie ” ons mense nie”

Piet ·

Op ‘n positiewe noot moet ek erken dat mense hulle ten minste nie hoef te skaam vir CR in die internasionale arena nie. Mens kry bv nie skaam vir jou pres wat nie kan tel nie. Dit bekommer mens tog dat iemand soos ANC bo dink dat grond grype voordele vir iemand kan inhou. Dis ironies dat die ANC geveg het vir vryheid en tog wil hulle vryheid skend deur eiendom te nasionaliseer, die beheer van die media, beheer van taal, beheer van Godsdiens in skole en so kan mens maar noem – Die totale vernietiging van vryheid.

c ·

As hy so graag sy mense wil help, hoekom gee hy nie van sy klomp gronde weg sonder vergoeding nie? Ek weet van ‘n paar gronde wat hy besit in ons omgewing.

Anoniem ·

Cyril loop nou met n heuning kwas gee hom so ses maande dan verander daai kwas in n karwats vir die blanke. Hy sal maar net moet doen wat die ANC vir hom se om te doen en as hy nie wil nie dan herroep hulle hom ook. Zuma het nie die land alleen vernietig nie dit is die ANC wat hom voorgese het wat om te doen en dit sal met enige leier van enige politieke party ook so gaan. Jou party skryf voor wat jy moet doen en jy as leier is maar net die mond wat dit verkondig.

Jaco ·

Luister mooi na wat hy se

1) “Land reform was a big problem for OUR people”
2) Hy wil nie `n cabinet skuif nou maak nie want dit is ingewikkeld, rerig? Hoe moeilik is dit om iemand af te dank. Hy speel vir tyd.

Ek is baie banger vir hom as vir Zuma want hy het brains en gaan ons met `n mooi glimlag in die see in jag!

Julle is gewaarsku.

adriana ·

Gee de klerk en sy meelopers se grond ook weg.
Dit sal al baie help.
Wat van Malema se grond?
Waarmee boer hy?
Hy is dan nooit tuis nie?
Heeltyd aan die betoog en opstook – wat van sy grond?
Hy het mos ‘n plaas of is ek verkeerd?

Johanna Botha ·

Die Khoisan was die eerste mense hier en hulle was nomadies ….so wat nou ?

Netso! ·

Presies so, die res kom almal vanuit die noorde wat ook die Khoisan verdryf het, so wat nou? Die opruiendes stel nie belang in die waarheid nie………hulle wil net argonisties die heeltyd optree….vrees aanja, mense bang maak.

Chivago ·

Ek wil weet by wie het die voorheen benadeeldes destyds die grond / eiendom gekoop? Hoe gaan bewyslewering geskied of gaan hulle sommer bv die plaas eis waarop hul gebore is?

Verstom ·

Ek wonder net Mnr. Ramaphosa hoe jy “wonde” gaan genees deur boere se plase wat die hoofbron van voedselsekerheid is, gaan afvat, op ‘n verantwoordelike manier,????? wat dekades lank die plase opgebou, suksesvol gemaak het, en voedselsekerheid in ons land verseker het? Ek dink met die praatjie, het daar meer gramskap op die hals gekom as wat daar versekering gekom het vir ‘n beter SA. Nuwe besem, dieselfde stof.

Jason ·

Persoonlik sou ek voorstel dat CR oor die idee slaap om – soos die Israelis – kibboetse op staatsgrond te stig en al die werklose (veral) jeugdiges daar huisves en hulle laat werk om voedsel te verbou. Terselftertyd hoef hulle nie verniet te werk nie – laat hulle goed opgelei word in landbou en betaal hulle elke maand ‘n soldy wat hulle op iets van hulle eie keuse kan uitgee – sigarette, toiletware… met ander woorde, leer hulle dat dit geen skande is om te werk nie en sodoende die nasie help voed. Wat dink julle? Onthou, die Israelis het na ‘n land getrek wat totaal “rou” was, maar met dissipline en nasietrots het hulle die eens barre land in ‘n Eden omskep – veral met hulle kibboets-stelsel… ek kan nie sien dat dit nie hier sal werk indien ons jongmense ook op daardie manier geleer word om nasietrots en voorspoed te verseker nie…

Jones ·

CR het BAIE grond wat hy op dieselfde manier gekry het as baie ander(deur daarvoor te betaal)wat dan ook herverdeel sal moet word…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.