Ramaphosa reageer op NVG-hofbeslissing

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa bestudeer die konstitusionele hof se uitspraak waarvolgens hy binne die volgende 90 dae ʼn nuwe nasionale direkteur van openbare vervolging moet aanstel.

Die konstitusionele hof het Maandag beslis die verwydering van Mxolisi Nxasana as hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) was ongrondwetlik en dat die aanstelling van Shaun Abrahams in sy plek ook ongrondwetlik was.

“Pres. Ramaphosa word in die bestudering van die uitspraak gelei deur die onderneming wat hy in Februarie tydens sy staatsrede gemaak het dat Suid-Afrika se wetstoepassingsinstansies versterk en beskerm sal word teen eksterne inmenging of manipulasie,” het Khusela Diko, woordvoerder van die presidensie, in ʼn verklaring gesê.

“Pres. Ramaphosa het ook onderneem om dringend aandag te gee aan leierskapkwessies by die Nasionale Vervolgingsgesag om te verseker dat die kritiese instelling gestabiliseer word en onverhinderd sy mandaat kan nakom. Die stappe wat gedoen sal word na aanleiding van die konstitusionele hof se uitspraak sal mettertyd gekommunikeer word.”

Mxolisi Nxasana. Foto: ANA.

Regter Mbuyiseli Madlanga het in Maandag se hofuitspraak gesê oudpres. Jacob Zuma was daarop uit om op enige wyse van Nxasana ontslae te raak. Nxasana het ʼn goue handdruk van R17 miljoen gekry om sy pos te verlaat.

Madlanga het gesê dit is moeilik om te verstaan hoekom Zuma so ʼn groot bedrag aan Nxasana sou betaal. Volgens hom is die enigste afleiding dat Zuma hom wou “uitkoop”.

Madlanga het gesê daar was vir jare onstabiliteit rakende die aanstelling van die nasionale direkteur van openbare vervolging en hoe gouer dit tot ʼn einde kan kom, hoe beter.

Daar is ook beslis dat die parlement wetgewing rakende die NVG binne 18 maande moet wysig, aangesien dele daarvan ongrondwetlik is. Nxasana moet ook die goue handdruk terugbetaal.

Shaun Abrahams. (Foto: Jonisayi Maromo, ANA)

Die uitspraak kom nadat die hof vroeër vanjaar ʼn aansoek aangehoor het om twee verklarende bevele van die hooggeregshof in Pretoria te bevestig. Die aansoeke is deur Corruption Watch, Freedom Under Law (FUL) en die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) gebring.

Die hooggeregshof het bevind oudpres. Zuma het ongrondwetlik opgetree toe hy Nxasana se aanstelling as direkteur van openbare vervolging beëindig het. Nxasana het R10 miljoen van sy goue handdruk ontvang en sy posisie verlaat.

Die hof het destyds gelas dat Ramaphosa, toe nog adjunkpresident, ʼn nuwe NVG-hoof moet aanstel. Die NVG en Abrahams het die aansoek teengestaan.

FUL het vroeër vanjaar in die konstitusionele hof aangevoer dat Zuma vir Nxasana geboelie het en onwettiglik openbare geld gebruik het om hom te oortuig om die NVG te verlaat.

Nxasana is in 2015 die goue handdruk gegee om sy pos te verlaat te midde van die korrupsieklagte wat soos ʼn swaard oor Zuma se kop gehang het. Nxasana is tydelik vervang met Silas Ramaite. Abrahams is toe permanent aangestel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

koos1 ·

Ek is so moeg vir die alewige “bestudering van die hof uitspraak” storie.
Zuma (lees regering) het nie met die vorige hof uitspraak in die verband saam gestem nie, en dit verwys na die HOOGSTE hof in SA. Die HOOGSTE hof het sy bevinding gemaak en daar is GEEN verdere stappe nie, behalwe om te voldoen.
Wat is daar dan nou nog om te “bestudeer”???? Jou HOOGSTE hof het gepraat Cyril, jy moet nakom volgens jou amp belofte!

Stem saam ·

En dan vat hulle boonop 89 dae van die 90 dae om twee bladsye te ontleed en te bestudeer.

tamboti ·

Die mense het bietjie hulp nodig:
NO means – do not do it, it was not so, I did not do it.
YES means – you can do it, it was so, I did it.
Only MAYBE means either of above, indefinite answer
WRONG means the opposite of right – it is not correct, it is illegal, it is unwanted.
RIGHT is the good one, everyone should try it for good results
YOU MUST means: this is something that you have to do without wasting time, no excuses or backing out.
THIS WAS ILLEGAL AND SHOULD BE CORRECTED IN 90 DAYS means:
Say you are sorry and do steps to make it right, as soon possible. And do not make the same mistake again.
I hope you got it no. 1, study is for kids in school or university – we are big now.

Tammy ·

Zuma moet nou vervolg word vir sy ongrondwetlike aanselling en KLAAR. Hy wat Zuma is het gese in sy tyd as president het hy NIKS verkeerd gedoen nie, hy weet nie hoekom almal hom wil vervolg nie. As iemand die “guts” het om hom aan te vat oor gemors soos hierdie wat hy aan gevang het, sal dit vir hom n aanduiding wees hoekom almal sy verduideliking vir die gemors waarin Suid Afrika is by hom, Zuma soek. Hy het tog al die rampe begin!! Golden handshakes vra maar vir Zuma

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.