Ramaphosa sal binnekort meer oor ‘stimuluspakket’ bekendmaak

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Phando Jikelo/ANA

Die presidensie het Sondag gesê pres. Cyril Ramaphosa sal binnekort die besonderhede bekendmaak van die ekonomiese stimuluspakket wat deur die kabinet aanvaar is.

Aldus die presidensie sal dié pakket regeringsbesteding herprioritiseer om binne die bestaande fiskale raamwerk te fokus op aktiwiteite wat ekonomiese aktiwiteit sal stimuleer.

Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder, het in ʼn verklaring gesê Ramaphosa het reeds Vrydag tydens ʼn raadplegende vergadering oor ekonomiese herstel, belegging en werkskepping ʼn oorsig van die stimuluspakket met Suid-Afrika se arbeids- en sakeleiers gedeel. Diko sê dié stimuluspakket sal ekonomiese aktiwiteit aanmoedig en vertroue in die verskillende sektore herstel wat veroorsaak word deur regulatoriese onsekerheid.

Die raadplegende vergadering in Pretoria is gehou in aanloop tot die komende werksberaad en beleggingskonferensie. Adjunkpres. David Mabuza, ministers van die ekonomiese groepering, leiers van sakeformasies, uitvoerende hoofde en leiers van die land se grootste arbeidsfederasies was ook by die vergadering, het Diko gesê.

Ramaphosa het glo op die vergadering gesê die pakket sal ʼn gedefinieerde stel ekonomiese hervormings insluit wat aandag sal gee aan kwessies soos mynbou, telekommunikasie, toerisme en vervoer. “Daar is op die vergadering ooreengekom dat dit noodsaaklik is vir Suid-Afrika se ekonomiese herstel om dringend die stimuluspakket en die beloofde groeiverbeterende hervormings te implementeer,” het Diko gesê.

“Daar is ook by die vergadering voorstelle bespreek om ʼn infrastruktuurontwikkelingsinisiatief op die been te bring wat staatmaak op befondsing en kenners van die private sektor.”

Diko sê die vergadering het die geleentheid gebied vir deelnemers om hul sienings te deel oor die probleme wat die ekonomie in die gesig staar en daar is openlik gepraat oor die beperkings op groei en entrepreneurskap en die kwessies wat lewens wat gewone landsburgers affekteer, soos veiligheid en sekuriteit.

Luidens die verklaring het die sake- en arbeidsleiers die regering se voorgestelde maatreëls om die ekonomie te stimuleer verwelkom.

“Maatskaplike vennote het ʼn beroep op die regering gedoen om die finalisering van die Mynbouhandves, spektrumbeleid en ander vorme van regulasie te versnel om die ekonomie meer doeltreffend, behendig en kompeterend te maak. Ten opsigte van hierdie uitdagings het deelnemers ook ʼn beroep op die nasie gedoen om te fokus op die vordering wat in baie sektore in die land gemaak word en meer aktief te help om positiwiteit te handhaaf.”

Ramaphosa het op sy beurt ʼn beroep op sakelui en die arbeidsektor gedoen om te help om werksverliese te verhoed. Daar is ooreengekom dat daar meer gereeld vergader sal word om ekonomiese samewerking te versterk en gedeelde verantwoordelikheid vir die land se ekonomiese groei te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

IK ·

Die oplossing is heel eenvoudig: Doen net die teenoorgestelde wat tans gedoen word in bykans alle opsigte. Is dit haalbaar? Ek twyfel, want dan moet die beleid verander.

Ekonomie ·

Sorry ramapaddapot – jy het jou ware kleure gewys en mense het respek vir jou verloor.
Ploeter maar voort met jou grondgypers – wat eintlik maar diefstal is- net in ander woorde omskryf en jy sal sien wat se ekonomiese flater jy eintlik begaan het,….. maar dan gaan dit te laat wees.

Jordaan ·

Die pakket sal seker weer gemik wees om net swart mense te help, soos al die spandering van die staat.

Andreas Meyer ·

Nou hoe gaan hulle die “stimuluspackage” wil finansieer?

Inflasie?

Pensioen ·

Deur ‘n gedeelte van jou pensioen te gebruik vir ‘beleggings’ in staat inisiatiewe.

(Die volgende stap na EWC is natuurlik pensioen )

WB ·

Al waarmee vordering gemaak word in die land, is die versnelde pas waarteen ons die ekonomiese en maatskaplike afgrond nader. Nou moet die privaat sektor help om infrastruktuur te herstel, nadat die die fondse wat daarvoor beskikbaar was, in totaliteit geplunder is deur die kaders en ander begunstigdes. Al wat positief gesê kan word oor vordering, is dat ons positief op pad is om totaal in duie te stort.

Hennie ·

Hy gebruik woorde van white monopoly capitalists…en hy het geen clue wat dit beteken nie!

hendrik ·

Hennie, presies. Die ou dink hy is wonderlik en n briljante besigheidsman. Alles wat hy het het hy gekry.

Dries ·

Hierdie mense is uitstekende na-apers en lyk dan vreeslik intelligent maar eintlik heeltemal nutteloos.

Erick ·

Ramamampara! Jy het jou ware kleure reeds gewys. “In a chronically leaking boat, energy devoted to changing vessels is more productive than energy devoted to patching leaks.” -Warren Buffet –

Anoniem ·

Ongelukkig het die ANC alreeds geweldige skade aan die ekonomie aangerig met hulle beplande land expropriation without compensation. Dit sal baie moeilik wees om nou die ekonomie te herstel. Daar is ook nie juis enig iets betekenisvol gese wat verskil gaan maak in alles wat hy nou gese het nie

Grassie ·

Die ANC-leiers is baie lief om te praat, en te praat en te praat. Wanneer die geleentheid hom voordoen staan hulle daar met ‘n “holier than thou” uitdrukking op die gesig en met welsprekendheid en groot ommehaal van woorde probeer hulle almal wat luister oortuig dat hulle die land se probleme in ‘n kits gaan oplos. Hulle klink so oortuigend dat ek soms dink dat hulle self die twak wat hulle praat glo. Niks wat hulle die afgelope 24 jaar kwytgeraak het, het gerealiseer nie. Inteendeel, al waarin hul suksesvol is, is om die land in die afgrond in te bestuur. Ramaja is geen uitsondering nie, alhoewel hy meer oortuigend as sy voorgangers klink. Hy het selfs me May van Engeland om die bos gelei, maar ek dink haar intellek en danspassies is min of meer op die dieselfde vlak.

Zumie ·

Hierdie ou paar Disprins gaan nie die sterwende ekonomie red nie …… ‘n behoorlike kapitalistiese hartoorplanting met erkende eiendomsreg en en arbeidsomstandighede wat enterpreneurskap aanmoedig gaan nodig wees ….. vryf maar gerus die Titanic se koperhandvatsels blink ….

marous ·

240 biljoen blou pilletjies in die reserwebank stort sal nie eers help nie ….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.