Ramaphosa sal DA-vraag oor VBS Bank moet beantwoord

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto; David Ritchie/ANA)

Die parlement het by monde van die adjunkspeaker van die Nasionale Vergadering, Lechesa Tsenoli, ingestem dat die DA-leier, Mmusi Maimane, vir pres. Cyril Ramaphosa kan ondervra oor die ineenstorting van VBS Bank.

Dit volg nadat Maimane se versoek om ʼn ekstra vraag te vra wanneer presidensiële vraetyd weer op 6 November aan die beurt kom, toegestaan is.

Maimane gaan vir Ramaphosa vra wanneer hy van die gemors by VBS Bank bewus geword het, en wat hy daaraan gedoen het.

Dit volg op beriggewing verlede naweek in die Sondagkoerant City Press dat ʼn aandeelhouer in VBS Bank reeds maande voor die bank se ineenstorting – terwyl Ramaphosa nog oudpres. Jacob Zuma se adjunk was – vir Ramaphosa ingelig het oor die probleme by die bank en dat Ramaphosa gesê het hy sal ingryp, maar toe niks gedoen het nie.

Ramaphosa ontken die aantygings in die berigte ten sterkste.

Maimane het uitgewys dat dit ʼn oortreding van die Wet op die Bestryding van Korrupsie en Korrupte Aktiwiteite is om kennis of die redelike vermoede van korrupte aktiwiteite te ignoreer.

Intussen het die ANC in ʼn onverwagse wending ʼn volle parlementêre debat oor die ineenstorting van die VBS Bank aangevra. Dit volg op ʼn ANC-koukusvergadering Donderdagoggend.

“Die ANC meen dis gepas om hierdie kwessie van openbare belang, wat ernstige gevolge inhou vir kwesbare mense wat hul swaar verdiende spaargeld in VBS Bank belê het, die onderwerp van ʼn parlementêre debat te maak. Ons standpunt is dat enigeen wat ʼn oortreding begaan het, vervolg moet word,” het Nonceba Mhlauli, ANC-koukuswoordvoerder, gesê.

“Ons wil voorts die standpunt van ons organisasie benadruk dat enige ANC-leiers of ANC-lede wat deur die verslag van die Reserwebank daarvan beskuldig word dat hulle iets verkeerds gedoen het, voor die ANC se integriteitskommissie moet verskyn.”

Die debat sal Dinsdag om 14:00 in die Nasionale Vergadering in die parlementsgebou te Kaapstad plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

trol ·

gaan sie integriteitskommissie hulle medaljes gee omdat dit so lank geneem het om hulle uit te vang?

Andre ·

Lieflike tweespalt onder die ANC kaders,duidelik wil hulle CR se kop moet waai,hy is duidelik nie wat hy hom voorgedoen het nie en hoop hy kom tot n val.
Die rede vir die uitwysing van tweespalt is,is dat hulle n volledige ondersoek aanvra,wie anders as Magashule dryf die ondersoek aangesien hulle uitgevang is om saam JZ te vergader.

Chris du preez ·

Nou wat dink jy sal gebeur as Ramaphosa tot n val kom. Dan is Magashule en al die ander Zuma kaders terug in die saal. En dan is al die korupsie weer eerste prioriteit

Willie ·

Hulle is almal so verrot… dis n absolute skande ..plunder enger as sprinkane op hul beste!

alida ·

Oeps CR het baie dinkwerk om te doen voordat die vrae op hom gaan neerdaal. Hy moet maar “please explain” want die VF+ en die DA gaan hom nie uitlos nie. Elkeen het sy eie stel vrae. Eina

Volgende vraag ·

Die DA se volgende vraag aan Ramaposa moet wees, wys asb die verslag v korrupsie/ bedrog/ diefstal wat jy onder art 34 vd Wet op Voorkoming en Bestryding v Korrupte Aktiwiteite (Wet 12 van 2004) ingedien het asook jou ontvanserkenning vanaf die SAPD. Indien hy dit nie kan wys nie, moet hulle ‘n kriminele klag gaan lê teen hom. En elke maand vordering vra vd Hawks oor hoe die saak vorder. Selfs al het hy wanneer bewus geword vd VBS plundery, het hy sedertdien al n verslag ingedien soos die wet voorskryf? Net vir interessantheid, die einste wet skryf nie ‘n tydsraamwerk voor waarbinne dit gerapporteer moet word nie. Ou Cyril kan wegkom met daardie tegniese puntjie.

humor ·

Hoeveel van die geraamtes gaan nog sommer so vanself uitdop. Die hele anc regring was van begin tot end n septiese tenk en die gemors begin almeer bo op dryf.

Anoniem ·

Die anc is so korrup as die een skelm waai kom die nuwe skelm om net verder te vernietig. Mense moet hul oe oopmaak en reg stem 2019 . Ek werf nie stemme vir n sekere party nie maar ons wat se ons is 74% betrokke met n lewende God verhouding moet bid en vas en vra dat die Gees van God ons sal lei om die regte stem uit te oefen

alida ·

Hy moes daarvan geweet het toe JZ kwansuis die lening gekry het vir Nkandla se skandale. Hy het mos nou saam met die pres gewerk as sy adj.

alida ·

Hulle gaan hom gasgee tydens die vrae sessie. Kom ons wag en kyk hoe hy uit sekere situasies gaan kom..

Sarel ·

Alida, ek weet nie of jy somtyds die kanaal 408 op DSTV besoek nie. Indien wel sal jy merk hoe kamtig kwaai die ANC en ander soortgelyke kommitee lede die saak daar opneem , dan kyk jy nou met die komende vratyd aan CR hoe hierdie selfde persone vir CR gaan ondersteun. Dit is n totale surkus en gemantel draaiery .

Aggenee! ·

Hoe ooglopend dat die ANC nou skielik al die regte geluide maak. Ewe skielik sien hulle al die foute/probleme raak. Ná die verkiesing gaan hulle weer met blindheid geslaan wees. Ai siestog. Wonder of hulle braille sal kan aanleer.

Sarel ·

Na die verkiesing sal dit weer witmonopoliekapitaal wees wat die regering in onguns wil bring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.