Pres. Cyril Ramaphosa spreek die land vanaand (Dinsdag) weer toe.
Die presidensie het pas bevestig dat Ramaphosa die land om 19:30 sal toespreek. Daar word verwag dat afsonderingsregulasies moontlik verskerp gaan word kort voor Paasnaweek.
Dít nadat Ramaphosa die afgelope paar dae met die nasionale koronavirusbevelsraad, die president se koördineringsraad en die kabinet vergader het.
Daar word verder vermoed dat Suid-Afrikaners moontlik binnekort vir 11 dae lank nie enige alkohol sal kan koop of verkoop nie.
Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Drankhandelsname (Salba) sê hy het Maandag in ’n vergadering met amptenare van die departement van handel, nywerheid en mededinging bevestiging gekry dat die nasionale bevelsraad van voorneme is om die koop en verkoop van alkohol vir 11 dae te verbied.
Die land se vierde alkoholverbod sal waarskynlik al voor die Paasnaweek inskop.
Volgens Salba wil die bevelsraad ook die getal persone wat toegelaat word om byeen te kom, van die huidige 100 binnenshuis en 250 buite, verhoog.
Salba het ʼn dringende versoek om meer duidelikheid rakende die besluit oor nog ’n moontlike drankverbod by die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, en die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, ingedien. Dié liggaam wil veral weet op watter inligting die regering sy besluit om ʼn vierde drankverbod in te stel grond.
Salba het die regering tot Woensdag gegee om meer duidelikheid hieroor te gee.
“Ons hoop dat die regering deursigtig sal wees en hierdie inligting beskikbaar sal stel. Ons wil graag verstaan wat die rede of redenasie is vir die 11 dag lange verbod op alkoholverkope terwyl die maksimum aantal mense wat tydens ʼn byeenkoms toegelaat word, verhoog word,” sê Sibani Mngadi, voorsitter van Salba.
Die president se toespraak sal vanaand regstreeks op radiostasies, televisiekanale en aanlyn uitgesaai word. Maroela Media sal ook ʼn skakel na die toespraak plaas.
- Die presidensie het intussen die tyd van pres. Cyril Ramaphosa se toespraak na 19:30 gewysig.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
21 Kommentare
Skuus, ek is nou terug..
So ons kan maar weet dat almal nou vroeg by die werk ry en Tops toe gaan – ha ha ha ha
Drankverbod geld net vir sekere mense
Ag asb baie van ons kom reg met of sonder al julle klomp stories
Hoe moet ‘n mens ENIGE Paas Naweek planne maak met Cyril wat nou eers gaan se wat is wat? In die res van die wereld het jy Covid-19. In SA het jy Covid-19 en die ANC!