Ramaphosa se eerste 100 dae ‘onindrukwekkend’

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Die DA het pres. Cyril Ramaphosa se eerste 100 dae in sy amp as onindrukwekkend beskryf.

Volgens Mmusi Maimane, leier van die DA, het Suid-Afrikaners baie meer van die president verwag. “Ons is nog in ‘n werkskrisis vasgevang terwyl ons land steeds onder misdaad gebuk gaan en ons politici voortgaan om dade van korrupsie en nepotisme te pleeg.”

Maimane meen Suid-Afrikaners se lewensomstandighede het ook nie verander nie. “Belasting het gestyg, werksgeleenthede gaan verlore, brandstofpryse neem toe en kos raak onbekostigbaar.”

Maimane meen Ramaphosa het sedert sy verkiesing tot president baie hard gewerk om homself te onderskei van oudpres. Jacob Zuma en die ANC “as ‘n verlosser van die nasie en die man wat die wil, durf en integriteit het om ons land se lot om te keer en toe te sien dat dit voorspoedig gaan”.

Volgens Maimane het dit egter oor die afgelope 100 dae duidelik geword dat Ramaphosa, ondanks sy goeie voornemens, ‘n president is wie se magte deur sy politieke party, enkelinge en die belangegroepe wat hom in sy amp gekry het ingeperk word. “Die krake in ‘Ramaforie’ begin groter raak.”

Maimane het verder gegaan en gesê Ramaphosa was tydens die grootste deel van die Zuma-jare teenwoordig en niks aan korrupsie in die regering gedoen nie. Volgens Maimane het Ramaphosa in sy staatsrede gesê dat korrupsie juis die stryd aangesê sal word.

“Sy aanstelling van Arthur Fraser as direkteur-generaal van korrektiewe dienste is ‘n skuif uit die ‘Jacob Zuma-draaiboek’, waardeur twyfelagtige enkelinge wat onder verdenking is, hervestig en herleef word, in plaas van afgedank word.”

Die DA het ook van die geleentheid gebruik gemaak om Ramaphosa by te kom oor die idee van onteiening sonder vergoeding. “Ramaphosa het twee probleme geërf naamlik ‘n skewe patroon van grondeienaarskap ter uitsluiting van die meeste swart Suid-Afrikaners en ‘n departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming wat vir meer as twee dekades nie daarin kon slaag om die skewe patroon aan te pak nie.”

Volgens Maimane moet Ramaphosa ophou om die Grondwet as die “sondebok” voor te hou rakende grondhervorming en eerder meer geld toeken vir dié doel. Maimane meen Ramaphosa moet stappe doen om eise in dié verband spoedig af te handel, ook grondhervorming in stedelike gebiede van toepassing maak en grond wat in staatsbesit is aan begunstigdes oordra.

“Die president het die geleentheid verbeur om ware verandering en eenheid te bewerkstellig rakende die grondkwessie.”

Maimane het Ramaphosa wel geloof vir sy werk rakende staatsbeheerde instellings. “Die president het al positiewe besluit geneem soos om die rade van Eskom en Denel te vervang en om te verseker dat die rade van staatsinstellings bonusbetalings hersien en leefstyloudits doen.”

Maimane meen daar is ‘n paar dinge wat Ramaphosa kan doen om sy stempel as president af te druk en ernstig opgeneem te word rakende korrupsie. “Hy moet die onafhanklikheid van die Nasionale Vervolgingsgesag verseker deur onmiddellik ‘n nasionale direkteur van openbare vervolging aan te stel. Hy moet ook die openbare beskermer verwyder en verseker dat geregtigheid geskied in die verhoor van Zuma. Die besluit om Fraser aan te stel moet omgekeer word en hy moet sterk standpunt inneem teen diegene in die ANC wat van korrupsie beskuldig word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Chris Ws ·

Cyril praat presies net so baie soos Zuma.Hy moet nog bewys wat hy kan DOEN.Tot dusver is hy net nog ‘n lee dop.

Tammy ·

Kosbare tyd gaan verlore en die nuwe President is te besig om na sy eie beeld om te sien. Transitorooftogte word nie aangespreek nie en plaasmoorde is soos n vloekwoord. Korrupsie en rampokkery gaan nogsteeds voort en word nie summier gestuit nie. Nee, ek sal hom beslis n 4 uit tien gee en nie so rojaal punte uitdeel soos Maimane se 6 wat hy gegee het nie. Die uitspraak van die president oor grondonteiening het hom dalk n paar nikswerd glimlagte toegeken maar dit kan hom n mijoen stemme kos. Word bietjie wakker. Nee niks het noemenswaardig verbeter nie, niks?????

tamboti ·

Net so Tammy, kon ons maar net presidente ruil met ander lande, so uitruil pakket.
Ons is weereens gevurk!

Hendrik ·

Ek moet se dat vandat CR president geword het is ek die bekommerdste ooit oor ons toekoms sedert ’94. Die burgery kreun onder die belastings en misdaad.

christa ·

hy is net nog n ANC. Kan net nie vir hom stem nie. COPE sal ‘n beter roep wees

Anoniem ·

Natuurlik is dit onindrukwekkend… Nes hý en sy parlement.

Pieter ·

Hy het my nog nooit beïndruk nie,hy gaan vind dit is moeiliker om n land te regeer waar die meeste bakhand staan vir freebies as om die prins van BEE opportunisme te wees.

Manie Strydom ·

Presedent Donald Trump is n regte president pleks volg hy sy voorbeeld en maak SA n beter plek ongeag of daar mense is wat nie daarvan hou nie.

Lana ·

Wat dan jou anders? Lees mooi – die woord RAMP staan in sy naam geskryf.

Andre ·

Mmusi moet maar eerder sy mond hou want sy werk is minder as onindrukwekkend!

Michael ·

Praat Praat Praat net en se eintelik niks Hy help net die kuruptes om verder te baljaar.

Marius van Niekerk ·

Ek dink hy’t uitstekend gevaar!!
Ten minste is hy ‘n leier, en nie ‘n grapgat nie, soos Zuma nie.
Hy doen.
Mooi so

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.