Ramaphosa se eerste krisis

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa staan voor sy eerste groot krisis as president, naamlik wat om te doen in verband met sy minister van finansies, Malusi Gigaba, wat kragtens ʼn hofuitspraak skuldig is aan meineed en skending van die grondwet.

ʼn Volbank regters van die Noord-Gautengse hooggeregshof het in Desember by monde van regter Neil Tuchten bevind dat Gigaba onder eed gelieg en die grondwet oortree het.

Die hofsaak voor die volbank het gehandel oor ʼn langdurige twis tussen die departement van binnelandse sake en die Anglo American-geaffilieerde maatskappy Fireblade Aviation, wat met die hulp van die departement ʼn bykomende doeane-fasiliteit vir reisigers wat met private eerder as kommersiële vlugte vanaf die buiteland op OR Tambo Internasionale Lughawe aankom, wil bedryf.

Luidens die hofuitspraak het Gigaba, toe nog minister van binnelandse sake, op 28 Januarie 2016 in ʼn vergadering met die sakeman Nicky Oppenheimer en andere toestemming gegee dat die fasiliteit bedryf word vir ʼn proeftydperk van drie jaar, en die versekering gegee dat hy reeds die tersaaklike dokumentasie onderteken het.

Enkele dae later, op 5 Februarie 2016, het Gigaba egter van gedagte verander en ʼn e-pos aan die adjunk-direkteur-generaal van binnelandse sake gestuur waarvolgens hy die toestemming vir die bedryf van die fasiliteit kanselleer.

Daarna het Gigaba, luidens die hofuitspraak, in ʼn beëdigde verklaring ontken dat hy ooit gesê het hy het die toestemming gegee. Die volbank het bevind “daar is ongelukkig geen manier om te ontsnap aan die gevolgtrekking dat die minister met voorbedagte rade onder eed onwaarhede vertel het nie”.

Malusi Gigaba, minister van finansies, lewer sy 2018-begrotingsrede (21 Februarie 2018). Foto: Elmond Jiyane (GCIS)

Die regters het bevind dat Fireblade gevolglik omvattende finansiële verliese gely het as gevolg van Gigaba se leuenagtigheid.

Die volbank het voorts bevind dat Gigaba art. 96 van die grondwet in die proses oortree het.

“Deur ʼn voorbedagte onwaarheid onder eed te vertel, het die minister die grondwet so ernstig oortree dat ek dit as ʼn skending sou tipeer,” het Tuchten bevind, wat ook, tesame met die res van die volbank, ʼn kostebevel teen Gigaba uitgereik het.

Die DA se hoofsweep, John Steenhuisen, het intussen klagtes teen Gigaba ingedien by die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwabane, en die speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete.

“In die lig van hierdie hofuitspraak en die DA se klagtes behoort die ANC nou teen Gigaba op te tree as hulle werklik ernstig is oor die “nuwe daeraad” waarna pres. Ramaphosa verwys. Dit is ʼn toets vir pres. Ramaphosa of hy ernstig is oor vernuwing, As hulle nie optree nie, laat dit ernstige vraagtekens oor pres. Ramaphosa se leierskap,” het Steenhuisen gesê.

In sy reaksie het Gigaba aangevoer die Oppenheimers probeer hom boelie om ʼn spesiale aankoms-terminaal vir ryk mense by OR Tambo daar te stel.

Tydens ʼn mediakonferensie by die parlement het Gigaba gesê daar was onregverdige druk op hom as minister van binnelandse sake om ʼn aankoms-terminaal vir BBP’s goed te keur in ʼn gebou wat nie eens aan sy departement behoort het nie (die gebou behoort aan Denel).

“Alle sleutel-rolspelers in die kwessie, insluitend die Inkomstediens, die departement van staatsveiligheid, die polisie en die weermag het nee gesê vir die aansoek, en almal stem saam ons is geboelie,” het Gigaba gesê.

Ramaphosa het nog nie aangedui wat hy gaan doen oor die bevindings van meineed en skending van die grondwet teen sy minister van finansies nie, en presidensiële woordvoerders was nie vanoggend vir kommentaar beskikbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

NET 1 DING ·

Daar is net EEN eerbare ding om te doen dan nie.? Kan mos nie soooo moeilik wees nie kan dit??? En ek kan nie dink hoekom dit ‘n krisis is nie……

zoom zoom ·

Laat loop hom sodat hy kan games speel by sy huis. Of saam met zuma beeste oppas in nkandla.

Adam ·

Kies die maklike uitweg…blameer ander mense nou Hulle gaan nou almal Zuma die skuld gee maar was in die eerste plek nie bereid om nee te se nie Die omkoop geld was seker nie genoeg nie

Lolla ·

Wel, as hy weet hoe om witmense soos paddas in n pot water te sit en stadig te laat kook… Dan behoort hierdie geen krisis te wees nie ne ou Ciryl? Of sit jy in die middel? Hahaha

Ben ·

Ag asseblief – wat se krisis?
Fire die skelm – of is hierdie fop nuus?
Moenie van ‘n miershoop ‘n berg maak nie.

ontevrede leser ·

wat is die straf vir “myneed”, gebruik dit, dit is in landsbelang. nou beheer hy ons geld, ai jai jai, lagwekkende suid afrika

Johan Steyl ·

Net so n klein regstelling op die kant. Die ”privaat” terminaal is n baie algemene gebruik wêreld selfs Lanseria het VIP vertrek fasiliteite. My maatskappy, n lugambulans maak gereeld gebruik van Fireblade , die “privaat fasiliteit” om pasiente na O.R. Tambo te vlieg. Dis soos kan verwag word n hoogs professionele ervaring vir ons en ons pasiente.

Alida ·

Liewe land wat is die krisis? Die antwoord is voor die handliggend. Stel n eerbare mens aan met n skoon rekord en met integriteit. Dit kan nie so moeilik wees nie en die persoon hoef nie noodwendig swart te wees nie. Wat van ons slim ekonome?

Adriana ·

As Ramaposa dit as n krisis sien dan is dit duidelik dat hy nie weet wie om te hire en wie om te fire nie.

Johanné steyn ·

Vervang hom met Pravin, more nog
voor 12 uur.. Komaan mnr President, SA se oë is op jou oor hoe jy jou eerste krisis gaan hanteer. Moenie ons drop nie

Jan Publiek ·

SA is een van die korrupste lande in die wereld en indien Ramaposa nie vir Gigaba fire nie word dit net meer beklemtoon.Ramaposa sal sy geloofwaardigheid verloor indien hy dit nie doen nie.

Sam ·

Om staat te maak op Ramaphosa is dieselfde as om die ANC te vertrou. Na 23 jaar is daar geen rede om te glo dat hierdie organisasie ‘n land kan bestuur nie. Ons benodig ‘n meritokrasie en nie ‘n kleptokrasie nie.

SjN ·

Vervang hom onmiddelik, dan kan hy sy volle aandag aan Candy Crush gee.

Hein ·

Deur aan te kondig dat hy van plan is om grond sonder vergoeding te onteien, het Ramaphosa strydig met sy amps-EED opgetreek. Met ander woorde: hy is SELF skuldig aan meineed.
Niemand het Ramaphosa verkies nie.

Wat is ‘n hof? ·

Ek verstaan nie … Regsmense, verduidelik asseblief:
Hy is deur ‘n vol regbank skuldig bevind. Hoekom is hy nie summier in boeie gesit en toegsluit nie? Dis mos ‘n hof, my magtig – nie personeelvergadering nie. Het ‘n hof dan geen gesag nie? As ‘n hof geen gesag het nie, vewyder Regte as studierigting en verander die hofgebou in ‘n kroeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.