Ramaphosa se ekonomiese plan ‘naïef, utopies’

Pres. Cyril Ramaphosa Donderdag aan die woord. (Foto: GCIS)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het pres. Cyril Ramaphosa se ekonomiese herstelplan as “ekonomies naïef en utopies” bestempel.

Dít terwyl verskeie ander organisasies hul teleurstelling met die plan uitgespreek het.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, meen die basiese boublokke wat nodig is om ekonomiese groei te stimuleer, word nie deur die president se plan gedek nie. “Dit sluit in dat sekerheid oor eiendomsreg geskep moet word en dat die sakesektor gedereguleer moet word ten einde dit vir entrepreneurs makliker te maak om sakeondernemings te begin en werk te skep.”

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê op sy beurt verskeie ondernemings is nie tevrede met die president se plan nie. “Herstel kan nie gebaseer wees op ’n voortsetting van die ramptoestand, meer belasting, staatsbesteding en staatsinmenging nie.”

Le Roux voer aan die plan is eerder ’n “regeringsuitbreidingsplan” aangesien dit steeds die staat sentraal tot ekonomiese ontwikkeling stel in plaas van die private sektor.

“Ramaphosa verkeer onder ’n wanindruk as hy van mening is dat sakelui hierdie ekonomiese herstelplan – wat bloot ’n voortsetting van bestaande regeringsbeleid is – gaan steun. As die regering ʼn ramp wil vermy moet hy van koers verander – nie versnel nie.”

Maroela Media het vroeër berig Ramaphosa se plan het vier hoofdoelwitte waaronder werkskepping, industrialisering, strukturele ekonomiese hervorming om binnelandse en buitelandse beleggings te lok, die bekamping van misdaad en korrupsie, en die verbetering van die staat se regeringsvermoë op alle regeringsvlakke.

piet-le-roux

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. (Foto: Morné Prinsloo)

Henry Geldenhuys, president van TLU SA, sê dié organisasie wil sien dat dié vier bene van die herstelplan ʼn verskil in die praktyk maak.

“Die ekonomie laat hom nie reguleer deur politieke aankondigings van wie wat moet doen nie. Die markkragbeginsel is bepalend om enige pogings tot herstel te evalueer.  Individue moet die verantwoordelikheid aanvaar van wat die ekonomie opeis.

“Sakeliga sê hy verwelkom uiteraard enkele punte in die plan waaronder die versnelling van administratiewe prosesse by toekenning van water-, myn- en ander lisensies. Die sakegroep sê verder die voorgestelde regulatoriese veranderinge om private elektrisiteitsopwekking te vergemaklik is nodig, hoewel die regering dit voorheen reeds beloof het.

Hierdie punte is egter uitsonderings. “Waar was die arbeidsmarkhervorming, afskaffing van wette, herroeping van skadelike mislukkings soos swart ekonomiese bemagtiging, verlaging in belasting, vermindering van staatsindiensname en uitbreiding van private sektor- indiensname en sluiting van staatsondernemings?” wil Le Roux weet.

Roets sê dit is duidelik dat die regerende party se ideologiese vertrekpunte nie versoenbaar is met die praktiese stappe wat gedoen moet word om ekonomiese groei te stimuleer nie en dat hierdie groeiplan dit ook duidelik maak dat die ANC eerder wil vasklou aan sy vooropgestelde ideologiese idees.

“Om aan te voer dat die regering ernstig daaroor is om die ekonomie reg te ruk terwyl daar voortgegaan word met die proses om die Grondwet te wysig om eiendomsreg in Suid-Afrika af te water deur vir die onteiening van private eiendom sonder vergoeding voorsiening te maak, is utopies.

“Die oplossing lê in die desentralisering van mag en om mense minder afhanklik van die staat te maak. Hierdie plan bevorder egter sentralisering en staatsafhanklikheid – presies die teenoorgestelde van wat nou gedoen moet word.”

Geldenhuys sê daar kan in dié stadium net gehoop word dat die herstelplan beter is vir die ekonomie en die land is as wat die inperking was.

“Dit is van kritieke belang dat alle beperkings op die vloei van die ekonomie onmiddellik opgehef word.”

Roets voer egter aan dat dit nié die koronavirus is wat die afgelope jaar soveel skade aangerig het nie, maar eerder die magsbeheptheid van die Suid-Afrikaanse regering.

“Dit maak nie sin om ekonomiese groei te probeer stimuleer terwyl die president en die regering vasklou aan dieselfde ideologiese beginsels wat juis soveel skade aan die ekonomie berokken het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Schalk ·

Raak opsomming maar ongelukkig gaan die regering nie na raad luister nie!

Jakes ·

Die gesegde ”pie in the sky” is hier van toepassing. As die ANC werklik bevoeg was om so n plan enduit te bestuur sou daar n mate van geloofwaardigheid in kon wees maar wat het die afgelope 26 jaar ons geleer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.